Tuesday, December 11, 2012

Wie my liggaam versorg, sorg vir my siel. Oor leke-spiritualiteit.

Versfeld skryf in sy The Philosopher’s Cookbook van hulle familie se Maleise werkster wat klokslag elke Woensdagoggend teen sonop by hulle huis vir werk opdaag.

Hierdie Maleier-vrou is die ewebeeld van goedheid. Sy weerspreek enige skeptisisme wat ‘n mens sou hê oor “goeie” mense.

Sy is, egter, nie iemand wat goed doen nie.

Die Maleise vrou is toegewyd: sy vas gereeld, sonder om te kla terwyl sy lang ure in die hitte van die dag werk sonder om te eet of te drink. Dit is ‘n manier van vas wat wys hoe gedissiplineerd sy is. Alles wat vereis word, doen sy en nog meer.

Sy, skryf Versfeld, is nie iemand wat goeie dade verrig nie.

Sy is, veel meer, ‘n goeie mens.

‘n Mens sien dit in haar werk: sy sal byvoorbeeld nie kla oor wasgoed was nie. As jy nog besig is om iets te doen, sal sy selfs dit by jou oorneem. En eintlik, as ‘n mens daaroor dink doen sy deur die waswerk iets heel besonders. Want iemand wat jou klere was, skryf Versfeld, was ook jou liggaam en wie jou liggaam was, was ook jou siel.

Ek verwonder my hieroor: wie het nou ooit oor wasgoed-was op die manier nagedink? As iemand jou klere was, versorg hy jou liggaam. En wie iemand se liggaam versorg, sorg vir daardie persoon se siel.

(Is dit hoe ons na mekaar kyk: ‘n pa of ‘n ma of ‘n kind wat jou liggaam en siel versorg?).

Geen wonder dat Versfeld skryf: as hul Maleier-werkster die dag in die huis was, voel almal goed. En dit is, voeg hy grappig by, meer as wat ‘n mens van ‘n wasmasjien kan sê.

Die Maleier-werkster se goedheid lê nie net in wat sy doen nie, in haar ywerige werkslus nie, maar in haar sorg vir die familie. Wat sy doen, is tot hulle welsyn. Dit bring in hul gemoed ‘n gevoel van goedheid.

Boonop, sluit Versfeld die beskrywing van die vrou af, kry hy dikwels van haar ‘n breë, vriendelike en toegeneë glimlag, en het hy nog nooit gehoor dat die werkster ooit iemand anders veroordeel of kritiseer nie.

En dit plaas haar in die kategorie van ‘n heilige – wat ver uitstyg wat ‘n mens van die predikante en geestelike leiers kan sê.

Leke-spiritualiteit. Eko-spiritualiteit. 

Ek dink aan die vrou, die vrou sommer van die straat af ingekom, nie 'n dissipel nie, net gedryf deur liefde, wat Jesus se voete gaan was het. En, lectio divina, aan die gesigte van die omstanders, die dissipels, die uitverkorenes, die kritikasters. En aan die Dankbare, die Een wat in goedheid rus vind, wat haar kant kies (Joh. 12:1-8).





Blog Archive