Monday, December 10, 2012

Ons weet te maklik wat spiritualiteit is.

Al hoe meer groei die besef dat daar vele vorme van spiritualiteit is en dat dit vele implikasies het wanneer ‘n mens oor spiritualiteit praat. 

Ek lees en bedink twee artikels van Hensen en Van den Hoogen hieroor. 

Wanneer ‘n mens die groot toneel van die geskiedenis bekyk, maar ook sien wat in kerke en godsdienste aan die gang is, besef jy hoe moeilik dit is om ‘n “regte” definisie van spiritualiteit te gee.

Een rede is omdat spiritualiteit altyd deel is van ‘n bepaalde konteks. Mense het dikwels ‘n transendente oomblik in hul lewe: hul ervaar ‘n ingreep, ‘n breuk, ‘n oomblik waarin hul lewe feitlik tot stilstand kom. Skielik is die gewone sleurgang, ritme en patrone van die lewe onderbreek. Alles wat hulle gewoond is om te doen, word deur die oomblik gestop.

Die ervaring verander hul lewe. Hulle word getransformeer. In die res van hulle bestaan sal hulle dikwels terugdink aan daardie ervaring en besef hoe dit hulle ‘n nuwe rigting in hul lewensweg laat inslaan het.

Mense sal hierdie transendente, dinamiese oomblikke op baie verskillende maniere uitdruk. Die een sal vertel hoe Jesus aan hom verskyn het, soos Paulus op die Damaskus-pad. Die ander een sal vertel hoe God ‘n visioen met gediertes op ‘n dag laat gebeur het – soos Petrus in die Kornelius-verhaal. Pascal skryf neer hoe hy op ‘n nag vuur, vuur en vuur beleef het, met ‘n uitsinnige vrede wat oor hom gekom het.

Mense se beskrywing van die uitsonderlike, transendente oomblike verskil – nie net van tradisie tot tradisie nie, maar ook van individu tot individu.

Anglikane sal heel anders as charismatiese gelowiges oor hul ervarings praat. Asiate beleef hul beslissende oomblikke anders as Afrikane. Hul konteks en hul kultuur bied vir hulle die materiaal waarmee hulle vertel hoe God hulle aangeraak het en hul lewens sinvol omvorm het. Vrouens en mans, jongmense en middeljariges, getroudes en eensames sal elkeen op ‘n eie manier vertel hoe hulle hul “spesiale” transendente oomblikke beleef het.

‘n Mens se emosies wissel ook. Trane van aandoening word gestort. Sommige, weer, is onseker: wat wil God vir my sê deur hierdie vreemde oomblik? Ander word vurige getuies: die aanraking begeester hulle tot aksie, tot diens en tot getuienis.

In Spiritualiteitsnavorsing word dikwels gefokus op ‘n vaste “idee”, “patroon” of “definisie” van spiritualiteit en word die geestelike ervarings van mense “gemeet” aan die definisie.

Wanneer ‘n mens oor spiritualiteit praat, werk dit nie net so nie. Ja, ‘n mens het ‘n werkende beskrywing van wat spiritualiteit is. Maar altyd weer hou ‘n mens rekening met mense se belewing. En belewing is dinamies, individueel en uiteenlopend.

Vandag word, in die lig hiervan, lank nie meer net van spirtitualiteit in ‘n godsdienstige konteks gepraat nie. Daar word besef dat mense ver buite godsdiens om geestelike ervarings kan hê. Dit gebeur in ‘n dokter se praktyk, wanneer ‘n verpleegster na ‘n pasiënt omsien, in die werkplek en elke dag wanneer digters dig, kunstenaars skilder, komponiste liedere skryf wanneer onderwysers klasgee en wanneer ‘n argitek ‘n gebou ontwerp. Op die manier het spirtualiteit besonder ryk aan vorme en inhoud geword.

Wat saak maak, daarom, is nie of ons “weet” wat spiritualiteit is nie en of ons ‘n maatstaf het waaraan ons spiritualiteit kan “meet” nie. Dit is goed om ‘n beskrywing van spiritualiteit te hê. Tog moet ‘n mens hierdie voorlopige kennis nie gebruik om spiritualiteit vas te lê nie.

Mens moet besef dat die Gees waai op plekke wat mense nie voorsien nie. Dit, weer, gee ‘n openheid om God se werking te herken selfs buite mense se eie, klein spiritualiteitswêreldjie om.

Waar daar so ‘n vars openheid kom, kom nuuskierigheid, waaksaamheid, selfs verlange: Ons word soekers: op die mees onverwagte oomblikke, by die mees onwaarskynlike plekke kan die Gees aan die werk wees. Selfs dorstig word mense vir hierdie nuwe, onbekende werke van God. Saam met Paulus praat ‘n mens van die nuutheid van die tyd waarin ‘n mens leef: die ou dinge het verbygegaan. Laat ‘n mens uitkyk hoe God nuwe wyn in nuwe sakke giet.

Vandaar is dit nodig om Matteus 7:7 te onthou. Nie verniet nie het Thomas a Kempis telkens weer in sy Navolging beklemtoon dat ‘n mens traag moet wees om te oordeel (sien eergister se blog).

Veel gretiger moet ‘n mens wees om op te let, om uit te sien na God se werking: wie, in die woorde van Nouwen, ingestel is op ‘n verrassing, sal inderdaad nie teleurgestel word nie – die lewensreis word dan ryk, gevul met sin en deurdrenk met vreugde.

Alles net omdat ons nie so seker weet wat spiritualiteit is nie.

Op die manier leer die studie van spiritualiteit ons om beskeie te wees, om ander se geestelike ervarings te eerbiedig en so vryer en ryker te word.

Veral leer dit ons om ons plek as skepsels te herken: God skep die nuwe dinge. Wat van God is, kan ‘n mens nie keer nie.  

Wie op die Here wag, kry nuwe krag…

Blog Archive