Sunday, December 09, 2012

Gebed vir die Kerse: Goddelik in trou.

 
Kersgebed

Goddelik in trou

God, altyd-deur is U met loftaal beskryf:
U vir Wie die wyses van solank af al besing as die Een
wat in die allerhoogste hemele woon,
U vir Wie mense magtig noem, wonderbaar en ewig,

U, weet ek, saam met hulle,
in die kerstyd beleef ek dit,
is sterk, getrou, bo verstaan, goddelik, deurdrenk
met nimmereindigende omgee en ontferming.

Soos voorgeslagte U geprys,
U telkens bly roem het,
wil ek ook, aangeraak, U loof:
Trou bly U aan die Liefde.

Trou bly U in die Liefde.

Ewig is U in U goedheid,
steeds verwonder ek my aan U wysheid,
ontdek ek U raadsplan bly werk ten beste,
magtig staan U in U verwerping van die kwaad.


Met Kerse, ervaar ek helderder, nuwer as ooit:
U, Here, die allerhoogste, die magtige, wonderbaar en ewig,
word klein kind, nederige skepsel, mens,
naby aan ons, een van ons.

Magteloos, in moedersarms, dorstig en in doeke,
ongereken, ver van paleise en mense-applous,
uitgelewer, vlugtend voor moorddadige magte
tot ook, later, soos ook ons, wonder-loos, gekruisig, oorgegee aan die duisternis.

Getrou het U, allerhoogste, hierdie gewone lydenspad saamgeloop.
Maar U weg het ons geboei, ons nadergetrek:
hoe U, ontfermend, ander se laste oorneem
en, wonderbaarlik, U Gees van Troue liefde onvoorwaardelik uitstort.

Allerhoogste wat die allerlaagste geword het,
Sterflike Skepsel wat slepende voete met nuwe krag sterk-maak,
in die stilte van die vredestyd loof ook ek U weer:
wonderlik is U weë, onvoorstelbaar U goddelike trou.






Blog Archive