Saturday, December 15, 2012

Oor die Heilige Gees en Spiritualiteit. Wanneer 'n mens Spiritualiteit belemmer.


Wanneer 'n mens nadink oor die geloofslewe, word duidelik dat dit  ondenkbaar sonder Spiritualiteit is. 'n Mens kan baie dinge glo of doen, maar dit maak nog nie van iemand 'n spirituele mens nie. 

Tog is daar ook 'n ander kant van die saak:  'n mens kan allerhande geestelike dinge doen, selfs binne die terrein van Spiritualiteit. En tog kan 'n mens arm wees, op 'n geestelike hongerdieet.

Om die waarde van spiritualiteit te illustreer, verwys Maas in sy artikel na al die interessante geestelike praktyke wat Spiritualiteitstekste in ons tyd bespreek.

Geestelike praktyk funksioneer steeds weer om mense in hul geestelike reis te ondersteun. Daar word deur sommige Spiritualiteitskrywers gefokus op oefeninge om byvoorbeeld ‘n mens se vooroordele en bekrompthede te oorkom. Of ‘n mens word ondersteun om al die mooi waardes in Spiritualiteit na te streef en deel van ‘n mens se lewe te maak. Of daar is skrywers wat mense help om hulleself oop te stel vir ongekende nuwe dinge.

Hierdie fokus op die praktyk en op menslike vaardighede is nuttig en goed. Daar is niks fout daarmee nie.

Dit bly opvallend dat hierdie praktyke veral op die individu gerig is. Hulle word veral verbind met die enkeling se geestelike groei en volwasse-wording.

Op die manier, skryf Maas, word hierdie waardevolle geestelike praktyke egter ingeperk. Hulle funksioneer in ‘n klein, persoonlike ruimte van die enkele mens om hul probleme op te los en van hulle suksesvolle mense in hulle omstandighede te maak.

In die proses word misgekyk in watter groter, geestelike ruimte hierdie praktyke tuishoort. Hulle impak is kleiner. Hulle word ook in die magswêreld van die enkeling ingetrek, asof ‘n mens jou eie bestemming kan bepaal en self jou lewe kan reël en stuur.

Te min sien ‘n mens dan raak dat jou lewe deur die gawe van die Heilige Gees gevul en gestuur word. 

Jy word ‘n guru, ‘n geestelike leier, ‘n begaafde heilige. Die boodskap wat jy kry en uitstuur is: Wees net jouself. Jy kan dinge verander. Dit lê binne jou vermoë. As dinge nie uitwerk nie, is dit omdat jy foute maak.

Dit is op hierdie punt dat Maas oor Eckhart Tolle skryf. Hy sien die werke van hierdie besonder gewilde skrywer in 'n breeë verband.

Deur geestelike praktyke in te perk tot die klein ruimte van die persoonlike, perk ‘n mens die trefkrag daarvan in. Spiritualiteit word dan gereduseer tot veel minder as wat dit werklik is.

Natuurlik is daar iets spesiaals in Tolle se werk. Sy werke is ryk aan uitnemende en voortreflike hulpmiddels wat groot waarde in vele kontekste het. Hulle kan die geestelike gesondheid van vele mense bevorder.

Tog kry hierdie hulpmiddele soms ‘n voorskriftelike karakter. As jy "dit" doen, moet "dat" die resultaat wees en sal dinge regkom. 

Mens sou kon dink sulke metode’s is die groot oplossing vir  lewenskwessies. 

Maas skryf: Wanneer 'n mens Spiritualiteit so inperk, is dit nie die Heilige Gees nie, maar die geestelike begeleier wat dinge in ‘n rigting stuur.

Geestelike praktyke in die ryk geskiedenis van Spiritualiteit was nie bedoel om so ingeperk te word nie. Altyddeur was hulle deel van ‘n groter ruimte, waarin God in al die goddelike oneindigheid aan die stuur van sake was. 

Wat ‘n mens ook al doen, doen jy nie vir jouself nie, maar altyd weer vanuit die perspektief op die Oneindige.

Dit is op hierdie punt, voel ek terwyl ek Maas se opmerkings lees, dat die mistieke moment ‘n meer pertinente rol speel. Maas vertel dat ‘n mens spiritualiteit te funksioneel kan benader – asof die funksie daarvan is om mense te help tot self-verwerkliking en groei.

Spiritualiteit het so ‘n funksie. Mense sal sterker en volwasser word wanneer hulle ingetrek word in geestelike praktyke. Dit is egter nie die volle waarheid nie.

‘n Mens word sterker en volwasser wanneer ‘n mens toegewyd aan God is en die ruimte ooplaat vir die Heilige Gees om jou lewe te stuur. Hierdie dimensie van Spiritualiteit is wel nuttig. Maar dit is ‘n newe-kwessie. 

Veel belangriker is dat ons volwassenheid ons nader aan God bring. Ons geestelike praktyke gaan nie om onsself nie, maar dit het 'n mistieke dimense wat groter as onsself is.

Hoe meer ‘n mens van spiritualiteit reduseer tot self-verwerkliking, tot psigoterapeutiese uitwerkings, hoe meer is ‘n mens met randsake besig. Spiritualiteit is veel meer as om jouself netjies te bestuur.

As Spiritualiteit nie aan die eintlike lewensaar, aan die teenwoordigheid van God, verbind bly nie, verwelk dit en lei dit aan bloedarmoede.

Alle Spiritualiteit het dit in gemeen. Hulle soek om te kan deel in die teenwoordigheid van God in die skepping. Daarom kan ‘n mens nie maar net sommer enige iets in Spiritualiteit doen en verdra nie. Altyd weer moet ‘n mens se hart ingestel wees op God. Die ryk geskiedenis van Spiritualiteit wys daarom dat daar steeds weer na God gevra word. Hulle stem hieroor saam. En dit beteken dat Spiritualiteit nie sommer net enige mooi gevoel oor jouself kan wees nie. Spiritualiteit is teologies gelaai.

Die verlange moet wees om in die ruimte van die Gees opgeneem te word. Spiritualiteit sonder die werking van die Gees is ondenkbaar.

Hierdie opmerkings, opgeroep deur die belangrike artikel van Maas, vra nou ‘n verdere vraag: Hoe moet ‘n mens die werking van die Heilige Gees verstaan?

Môre meer hieroor.   


Blog Archive