Wednesday, August 18, 2010

Die Bybel kan duidelik wees sonder om ‘n duit verskil te maak. Oor die geestelike lees van die Bybel (3).

Wanneer iemand die Bybel lees, gebeur daar eintlik verskillende dinge. ‘n Mens kan veral verduideliking en interpretasie as twee kante van Bybellees onderskei. En elkeen van hulle is weer op sy beurt gevul met verskillende aspekte.

1.   Verduideliking

In 'n heel eerste stap soek 'n mens doodgewoon om die teks te verduidelik - wat staan daar en waaroor gaan dit?


1.1. Wat staan daar? 

‘n Mens lees ‘n teks bloot om te weet waaroor gaan dit. Wat, wil 'n mens verduidelik, sê die teks en maak hierdie inhoud sin?

Lukas 15:11-31 se vertelling oor die verlore seun lees kan ‘n nuuskierige mens besig hou. Hoe is dit moontlik, sou ‘n mens kon vra, dat ‘n seun sy erfgoed voor sy pas se dood opeis? Waarom is dit vir Lukas so belangrik om te vertel dat die verlore seun varke opgepas het en varkkos wou eet? Hoekom moet die seun na sy terugkeer ‘n ring kry? Hoekom is die oudste seun in die prentjie, veral as die verhaal eintlik gaan oor die jongste seun wat sy erfporsie uitmors?  Wat was dan tog verkeerd aan die oudste seun se vies reaksie op sy jongste broer se morsige lewe?

Sulke vrae is nie fout nie. Deur hulle ontleed mens die betekenis van die teks. Deur sulke vrae kom helderheid: ons kyk byvoorbeeld baie versigtig na die manier waarop die seun se transformasie begin: “hy het tot homself gekom”, vertel die Ou Vertaling. Maar die Nuwe Vertaling gee ‘n ander “betekenis” aan die frase deur dit te vertaal met: “toe kom hy tot inkeer” – wat die verhaal ‘n vertelling van sy “bekering” wil maak.  “Toe hy uiteindelik tot sy sinne kom” is weer die weergawe van die Nuwe Lewende Vertaling, so asof die seun in ‘n dwaal was.

Ons probeer dus die betekenis van hierdie gelykenis verstaan deur die inhoud van elke woord en frase deeglik uit te pluis en te vertaal.

Maar, skryf mense soos Ricoeur gevolg deur Schneiders, ons loop ook ‘n verdere pad as net bloot inhoude vasstel deurdat ons ook verder na die “sin” daarvan vra. Maak die teks se inhoud vir ons sin? ‘n Mens sou kon sê dat die seun is “verlore” omdat hy “verdwaal” het. Só ‘n uitspraak is op sy eie geneem nie nonsens nie. As ‘n mens van ‘n verlore seun praat, kan dit in beginsel beteken dat die seun iewers sy koers kwyt was. Maar dit maak in die konteks van die gedeelte nie sin nie, want die verlore seun het goed geweet om koers te kies na die ver land toe.

Die eerste groot vraag wat ons dus vra as ons na die “betekenis’ van die teks soek, is: “wat sê die teks en hoe maak dit sin?”

1.2. Waarna verwys die teks?

Wanneer ons ‘n Bybelboek lees, is ons egter ook in ‘n verdere proses ingetrek. Ons wil weet waarna die teks “verwys.” Wat, wil ons verduidelik, sê die teks oor die werklike situasie waarin dit ontstaan het? Lukas wil nie die episode van die seun vertel om te rapporteer wat Jesus gesien het nie of wat iewers in Jesus se tyd regtig gebeur het nie. Lukas vertel ‘n “gelykenis”. Die fiktiewe karakters in die verhaal verwys nie na letterlike persone iewers in Palestina in die eerste dekades van die eerste eeu nie, maar dit verwys direk na Jesus se teenstanders. Lukas wil vir ons vertel wat Jesus gedink het van mense wat hom beskuldig het dat hy slegte geselskap opsoek en met watter tipe mense hy omgegaan het. Lukas wil dus deur die gelykenis na die werklikheid buite die teks verwys soos dit in Jesus se lewe self te vinde is.

As ‘n mens dus wil weet wat ‘n teks “beteken,” sluit dit in dat mens weet “waaroor” ‘n teks gaan.  Daarmee word die teks “verduidelik,” hoe die teks destyds in sy eie tyd gewerk het. Dit sluit in dat ‘n mens uitwys hoe anders en selfs “vreemds” die teks is. ‘n Mens sou kon sê dat jy selfs die teks wil “distansieer” van jou eie tyd sodat jy die betekenis daarvan so helder as moontlik kan begryp.


2.  Interpretasie

Dit is egter nog lank nie al nie. As ons hierdie twee dinge weet en die teks dus “verduidelik” het – dit is, “wat sê die teks” en “waarna verwys die teks?” – het ons nog net een deel van ons ontmoeting met die teks afgehandel. 

'n Teks kan vir ons duidelik wees sonder dat dit aan ons 'n duit verskil maak.  

Om ‘n teks te lees, stel die leser aan iets meers, aan ‘n onkeerbare proses bloot. Niemand kan ‘n teks lees sonder om op een of ander manier self daarop te reageer nie. Vele reaksies is moontlik: instemming, kritiek, vrae, afkeur, woede, irritase en nog vele ander. 

Wanneer ‘n mens ‘n teks lees, lees jy nie net die inhoud van die teks en oor die werklikheid of wêreld waarna die teks verwys nie. Daar is ook ‘n ander stap by betrokke. Die teks stap jou wêreld as die latere leser binne en bring jou as moderne lesers in ‘n verhouding en in ‘n dialoog met homself.

Byvoorbeeld: Lukas vertel vir sy lesers deur die gelykenis van die verlore seun dat Jesus bewustelik met die semels gemeng het, met mense wat deur die vromes van sy tyd as die uitgeworpenes beskou is. Hierin is hy vir Lukas die simbool van vrye, onvoorwaardelike genade en ‘n simbool van God se skone liefde. Hoe belangrik dit vir hom was, weet ons ook uit sy ander teks. In Handelinge herhaal Lukas telkens weer dat al die tradisionele vooroordele teen die onaantasbares teen die grein van die evangelie inloop. Hy wil daarmee dat sy storie oor Jesus se bediening iets doen aan die lewe van sy lesers. 

Ons as latere lesers sit nou verwonderd voor hierdie vriendelik gesig van God wat Lukas aan sy lesers voorhou. Hoe kan iemand soos Jesus so anders wees in sy belewing van God? Hoe verskil hy so radikaal van die vroomstes van sy tyd wat God se reinheid ten alle koste namens God wou beskerm? 

Ons lees vandag Lukas se verhaal en wil "verstaan" wat aan die gang is want ons leef met hierdie dralende gevoel in ons dat die teks ook nog vir latere lesers aanspreek. As ‘n mens as huidige leser, eeue na die tyd, gaan terugsit en dink, kriewel ‘n vreemde gevoel teen ons ruggraat af: is dit nie dalk moontlik, voel ons praat die teks met ons, dat ons ook in vroomheid vandag nog God se saak vir God wil baklei nie? Torring die teks nie aan ons om mooi te dink oor ons eie vroomheid nie? Ons wil "verstaan" hoe die teks in ons tyd beleef word. Waar pas ons in in die geestelike reis wat Lukas destyds met sy gehoor geloop het en, voor hom, Jesus met sy tydgenote? 

Ons leef eeue na Lukas se lesers met die gevoel dat die teks ook aan ons slyp. Hoe verstaan ek vandag in my eie wêreld hierdie teks uit die eerste eeu? 

‘n Mens kan die vrae nog baie skerper vra: Lukas kyk na Jesus, vyftig jaar na Jesus se bediening. Hy praat met sy eie, latere lesers oor hul "verstaan" van die "betekenis" van Jesus: Sy lesers is oor baie dinge “onderrig” – soos hy in Lukas 1:1 skryf. Hy wil dit weer netjies vir hulle uitpak, “in volgorde” sodat hulle “seker kan weet” oor die dinge wat hulle geleer is. Die woorde oor Jesus moet by hulle nie maar net kennis bly nie. Dit moet lewenswysheid word wat in elke greintjie van hul bestaan ingesypel het en vir hulle sekerheid gee. 

Lukas gaan hieroor nogal heel indrukwekkend uit sy pad uit. Dit word 'n hele "proses". Hy gaan so ver om vir sy lesers eers te vertel in sy evangelie wie Jesus was en hoe sy volgelinge hom verstaan het. Dit volg hy later weer verder op met ‘n tweede vertelling in Handelinge oor hoe die eerste geslag Christene Jesus verstaan het. “Verstaan jy wat jy lees?” vra Petrus vir die hoofman in Handelinge 8. Van die begin af, dus, vertel Lukas, gaan dit om "verstaan." Dit is asof Lukas nie kan ophou nie. Hy "verduidelik" versigtig sodat hulle ingelig is oor wat die eeste Christene beleef het.

Lukas doen dan hierdie “dubbele” vertelling sodat sy eie lesers, vyftig jaar na die tyd, uit albei, dubbeld, kan verstaan waaroor hulle geestelike reis gaan. Kyk, verduidelik hy aan hulle sodat hulle kan verstaan, hoe het Jesus later vir Petrus verander en vir Paulus op die grond laat neerslaan, skryf hy. Hierdie vroom volgelinge van God is tot op 'n laat stadium in hul geestelike reis nog getranformeer. Hulle het tyd nodig gehad om die betekenis van Jesus in hul lewens te laat uitwerk. Hulle as die eerste volgelinge het Jesus (ook mettertyd beter) "verstaan" – hulle het sy woorde onthou, gesien waarna dit verwys in Jesus se tyd, maar toe begryp wat dit vir hulle tyd beteken en ervaar hoe dit hulle eie wêreld op sy kop gekeer het. 

En Lukas wil dat sy eie lesers ook so tot verstaan sal kom. Daarom skryf hy sy boek. Dit is 'n boek wat soek na verstaan, na 'n wete wat transformeer. 


3. Die Heilige Gees

Só, deur al hierdie stappe, kan ‘n mens die hermeneutiese proses netjies uitlê. Dit gaan oor informasie oor wat die teks sê en oor watter werklikheid van destyds die teks praat. Ons kan ook verder netjies vertel hoe die teks as transformatief benader moet word. Bewustelik moet ons kan sê: hierdie teks wil in my lewe ingryp. Gaan ek dit toelaat en hoe gaan dit gebeur? En wanneer dit gebeur, kom die leser tot verstaan.

Dit is nodig om meer oor hierdie "verstaan" te praat. As ons "verstaan" inbed in interpretasie as begrip, verloor dit maklik sy mees fundamentele karaktertrek.

Die leser moet nie die "ander" kant van verstaan en interpretasie miskyk nie. Mens kan helder uiteensit wat gebeur van die leser se kant en hoe die leser die teks benader, maar in al hierdie dinge gebeur iets ook van buite af.

Helderder moet ‘n mens dus ook ‘n verborge aspek van interpretasie benoem. Interpretasie gaan naamlik ook oor wat die teks self met die leser doen. 

‘n Mens lees die Bybel as teks met die veronderstelling dat die God van die Bybel met die mens in ‘n verhouding tree - dit is dus 'n dubbelkantige beweging wat hier plaasvind. 

Die teks bring die leser in 'n geestelike gesprek met God, die eintlike outeur van die teks. 

In afwagting skep ‘n mens in die verstaansruimte wat 'n mens vir die teks inruim, die oop ruimte waarin die teks dinge kan doen wat die leser nie voorsien of beheer nie. Die teks word geïnterpreteer, maar ons sien in dat die teks interpreteer die leser ook en daarop moet  'n mens ingestel wees. 


Tog waarborg selfs ons openheid vir die teks se werking niks nie. 'n Geestelike verstaan en 'n geestelike interpretasie van die teks kan verwronge, selfs gevaarlik wees.

Ek dink in die verband weer oor Handelinge se Paulus-beeld. Paulus, die vrome, die kenner van die wet, was 'n ingeligte leser van die Bybel en was goed ingelig oor Jesus. Hy sou met goeie argumente kom verduidelik hoe die Bybel hom gemaak het tot die vrome vervolger van Jesus - en dit terwyl hy in werklikheid die verlore seun was wat in ‘n morsige lewe van haat en geweld weggesink het.

Maar dan volg die verborgenheid as hy gebring word tot 'n nuwe, geestelike interpretasie. Op ‘n dag is sy lewe buite sy beskiking om omgedraai. Alles wat vir hom steeds sinvol was (soos hy self in Filippense skryf) het vir hom sinloos geword op ‘n oomblik dat hy onvoorbereid daarvoor was. In ‘n helder oomblik, in ‘n hemelse verrukking is aan hom helder en klaar uitgewys dat die wet nie verwys na die mens se ernstige, goedbedoelde en dapper pogings om te presteer voor God nie. Die goddelose lasteraar van die wet, het hy ervaar, die mede-Jood wat hy oor sy ketterse sieninge briesend gejaag het, was toe die Messias, die Here wat juis verby prestasie heen in mense se lewensruimte wil inwoon en wat juis verby haat en geweld heen die sagte, liefdesmag van 'n aantreklike God verteenwoordig en beliggaam.

Die Fariseër wat so narssisties oor sy skone wetsonderhouding op sy eie skouer geklop het, het hy ontdek, was nie die beeld van vroomheid wat die wet eintlik in gedagte gehad het nie. Iets van buite hom het Paulus laat besef dat die “wet” verwys na Jesus. Daarmee is die wet in ‘n nuwe werklikheid ingetrek, het dit deel geword van die lewe van Jesus. En die oomblik toe die wet na Jesus verwys, het dit  nuwe, bemagtigende betekenis gekry. Die wet, het Paulus in hierdie geestelike oomblik van herkening en goddelike aanraking ervaar, het Jesus met die liefdesgebod verbind, met die goddelike verhouding van liefdevolle ontferming teenoor die tollenaar, teenoor die verlore seun, teenoor hulle wat hul met pyn ver van God gevoel het. 

Skielik kon Paulus die “betekenis” van die wet anders verstaan en nuut “interpreteer” in die lig van die ander werklikheid waarna die wet van toe af vir hom verwys het. Hy is radikaal tot 'n dieper verstaan van God en God se wil getransformeer. 

‘n Mens sou dit ook anders kon beskryf: In Paulus se geslote wêreld het Jesus in sy vryheid skielik op die gesigseinder deurgebreek. Op die horison van sy benoude wêreld, het die Son van God se gesalfde die donkerte van selfgemaakte wysheid uitgedryf. Die versmelting van horisonne vind dan plaas in die sin dat Paulus nuwe lig sien en ou insigte afsterf. Dit was die Messiaanse lig wat Paulus van toe af in ander mense se wêrelde ingedra het en wat hulle weer getransformeer het in 'n nimmer-eindigende, koninue proses van lewensvernuwing.

Elkeen wat gelowig is, weet te goed hoe 'n mens lang tye dink jy reis saam met God, om dan skielik op 'n dag te ontdek dat God ingryp om 'n mens tot egte geloof te bring. Spiritualiteit beklemtoon juis die prosesmatige. Die geestelike reis as proses het te doen met God se voortdurende ingryping, met daardie oomblikke van verligting, suiwering en formering.


Die diepste verborgenheid in die geestelike lees van die Bybel is te vinde in die kontemplatiewe oomblikke - as die Woord, die Teks sy vinger op jou hart kom plaas en die geestelike reis by 'n kruispad bring.

‘n Teks kry betekenis wanneer dit só helder en verhelderend lewens anders maak – nie wanneer dit bloot net al ons nuuskierige vragies beantwoord nie en ons alles daarin so netjies kan verduidelik nie en wanneer ons dit so alwetend omblaai en verduidelik nie.  Ons interpreteer ‘n teks deur dit in ons wêreld in te nooi en te ervaar wat maak dit alles aan ons hier waar ons is. Maar die "interprasie" gebeur deur 'n verborge werking van die Teks. 

Of dit gebeur in reaksie op die verborge en goddelike werking van die Teks wanneer die leser terugsit en die lees-ervaring verwoord. 

Of miskien, in 'n mistieke antifrase, is die uitnodiging aan die Teks reeds 'n aanduiding dat die Teks in ons aan die werk is. "Interpretasie" is daarom ook aanbidding - die direkte "wete" van 'n aanraking wat van buite ons tot ons gekom het. 

Terwyl ek dit alles bedink, wonder ek dus oor die nog steeds verstandelike karakter van begrippe soos "verduideliking," "interpretasie" en "verstaan." Interpretasie is baie meer: dit is ook ervaring, ontmoeting, aanvoeling en intuisie. 

Die verhouding met die teks is veel meer as net 'n omvattende ervaring vanuit 'n menslike hoek. My vraag na die verborge werking is daarom 'n poging om weg te kom van die greep van ons modernistiese denkbegrippe wat ons verhouding met die teks stuur in die rigting van "ons" "interpretasie" van die Bybel.  Ons kan veel van Levinas hieroor leer.

Daar is iets boeiends in die dinamiek van 'n Teks wat van buite ons self tot ons kom, gelaai met die wysheid en die lewenskuns van die ewigheid en wat ons, appellerend, so volkome wil heilig uit ons morsige bestaan uit.  Daarom praat ons van inspirasie, van die ademing van die Gees wat deur die teks voortdurend nuwe lewe skep sodat selfs 'n dooie, kliphard hart weer begin klop. 

Dan praat die teks so interpreterend met ons dat ons in aanbidding stil raak. Die einde van interpretasie is egte interpretasie.



No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive