Friday, August 20, 2010

Woestyntye word paradystye. Liturgiese gebed (1)

 
Van die begin af, Skepper, 
het U vir ons in U gedagtes gehou, vasgehou.
Toe ons nog nie eers bestaan het nie,
lank voor ons in die moederskoot was,
het U ons vir die wêreld bedink.

In volmaakte skeppingsmag,
het U dag vir dag alles gemaak –
vanaf die eerste tot die laaste dinge, 
gereed vir die mooiste wat sou kom.

En toe het U vir ons gemaak, goed,
na U goddelike beeld,
om soos U te wees,
om in die paradys te woon.

Liefdevol, al wandelende in U tuin,
al geselsende, in diepe gesprek,
was U sonder enige grense by ons,
wou U vir ons by U hê,
was ons een met U.

Dit was die kroon op alles.

Ons het dit verloor, Here,
ons het alles verloor.
Terwyl U ons u tuin van genade laat geniet het,
het ons ons eie dinge bedink, ons eie pad begin loop,
eenkant toe gebroei,
met donker geheul,
geluister na bekoorlike stemme, die ander, mooi woorde van verleiding.

U teenwoordigheid,
U goeie woorde 
was vir ons nie meer genoeg nie.

En só het ons in die woestyn beland, onsself van die paradys vervreem,
in vryheid gekies om oor ons eie lot te beskik.

Maar, toe het U, nog nader aan ons as ooit tevore gekom,
as die volkome mens,
as die beminde Seun,
in ons woestyn, verborge, op  U eie, het U, in verbete stryd 
met die verleidelike stem van mag, van praal, van roem
U nee geantwoord en, in daardie oomblik
alles weer vir ons teruggewen.

Deur U gehoorsame liefde, in U getroue volharding,
het die paradys teruggekom 
– toe reeds, in U eerste dae.

En in koel stilte, na die verbete stryd,
het engele bly, diep bly, die skoonheid van U geestelike mag gevier
toe hulle U manna gevoed het, 
daar, in 'n fees, in die bar, leë woestyn van Palestina.

U goedheid, God, is nie net deur die bose magte beveg nie.
Nie net in die woestyn moes die oorwinning behaal,
die paradys teruggevind word nie,
maar ook menslike magte het U bestry,
opnuut die paradys gestuit

totdat uiteindelik, aan die kruis,
skynbaar uitgelewer aan die grootste vyand,
U die gees gegee het 
en die dood weer sy tol geëis het.

Hoe donker weer, was hierdie nag van mislukking,
die wegglip van die paradys.
Hoe wild die waansin van geweld,
gerig teen goddelike liefde.

Maar nooit, getroue Gesalfde, het U die verborge teenwoordigheid van die Vader opgegee nie. 
U het gelowig, vertrouend, wetend, liefdevol die paradys
vir moordenaars ontsluit, 
reeds al in daardie laaste oomblikke van U aardse weg.

U het toe al seker, gelowig, bly vashou 
aan die Lig wat van God af sou deurbreek.

En op die Sondagoggend, God se nuwe dag, het U in helder lig
van die oggendson,
het U in die paradys, die tuin vol olywe – na eeue weer uitgereik
om by U eie kinders te kan wees.
Saam, een, verenig met hulle te wandel in God se nuwe tuin van genade,
met hulle, gemeensaam, lewenswoorde te wissel.

Ons voel die goddelike liefde,
die Verborge teenwoordigheid van hierdie paradystyd dikwels in ons.
Oor hierdie vreemde liefdesverhaal begeer ons 
hierdie hernude koms van U na ons toe,
om dit ons eie te maak,
om bly daarin te bly, sonder ophou, sonder grense.  

Want by U kom ons tot rus, 
in U vind ons vervulling.
U woorde van die Lewe raak ons, oortuig ons, roep ons.

Sag heilig U Gees ons, tot nuutheid en tot vernuwing.

En tog, weet ons, ook, van die donker kante wat in ons hierdie heilige tye bedreig.
Ons voel elke keer weer hoe ons, soos vanouds, ánder wysheid soek,
hoe ons weer tog maar die verleidelike áfdraaipaaie wil vat,
hoe ons opnuut weer twyfel,
hoe ons soms soek om sekerheid om ons innerlike twyfels te kan beveg,
hoe ons wil reik na U wonde om bewyse te kry.

Ons ontdek telkens weer dat ons U opnuut verraai, ontrou word,
dat ons opnuut weer ons paradys wil opgee.

Dit, Here, is waarom ons hier is, in hierdie plek
waar U ons opnuut weer wil kom haal met u ligte juk en sagte woord,
met die boodskap van liefde, met die evangelie van omgee.

Dit is waarom ons vir U hier, saam met ander, wil opsoek.

In hierdie heilige ruimte, die plek waar U woon,
waar U teenwoordig is,
waar U met ons praat, vir ons nader trek, na ons uitreik,
wil ons wees, wil ons hart oopmaak.

Gees van God, gee dat die heiligheid van hierdie plek waar U woon
en waar U werk,
waar ons nou is,
so naby aan U,
dat dit só deel van ons bestaan, van ons innerlike lewe sal word
dat dit in hierdie oomblikke by U só in ons sal insak,
dat ons opnuut weer kans sal sien en krag sal vind
om, in navolging van U,
en versterk deur U
     die woestyntye paradystye te maak,
     en om weer een met U te kan wees.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive