Monday, August 30, 2010

Hoe meer ons aanbid, hoe meer wil ons aanbid... Liturgiese gebed (2).

Die begin, Here, van alles wat ons wil dink en doen, wéét ons,
is om op te kyk,
weg van onsself, na U,
is om U raak te sien.


In U, die Alfa en Omega, die begin van alle dinge, die einde van alles,
verstil ons hartsverlange,
word ons innerlik vervul
en ervaar ons waarheen U met ons op pad is.


Ons wil U aanbid, vir U vereer,
ons wil met alles wat ons het op U fokus.


Ons kyk om ons, sien suiwer skoonheid by ons;
ons merk U op,
U verborge teenwoordigheid in die skepping.
Ons sien U kunstenaarshand in die plek waar ons bly, in die wydtes van U natuur.
Elke keer weer is dit vir ons eindeloos mooi,
geskep deur U, die Oneindige.
Altyd weer, Skepper, is U vir ons die Een wat alles gevorm het
en voel ons ons omring deur U, die Een wat volmaak mooi is.
Ons roep biddend uit van blydskap omdat ons só konkreet, so direk, so skoon
die Oneindige se oneindigheid kan ervaar,
omdat ons kan weet wat ons sien, is van U, is U.


Ook op ander maniere het ons U ontmoet,
raak U ons aan sodat ons harte ons aanspoor om U te besing, U lof te verkondig.
Ons het in U heilige boek die getuienis gelees, gehoor uit verre tye, lank terug en oor die eeue heen,
hoe getrou U gebly het aan dít wat U begin doen het in U skepping,
hoe U trou bly wys het aan hulle wat U op U wêreld laat woon.
Mense wat U van naby geken het, het met oorgawe oor U geskryf –
hoe goed U altyd vir hulle was.
Hulle het gesing oor U genade.
Hulle het verhale vertel van U volmaakte vriendelikheid,
hoe U hulle bevry het, die nuwe land vol rykdom gegee het.
U was vir die geslagte in die ou tyd die Verlosser, die Vriend.
Ook hulle boeke, hulle getuienis roer ons al en bring ons tot aanbidding.


Toe mense van alle tye ook donker paaie moes loop,
wanneer hulle alleen was,
in tye van verdrukking, in die somber tye van verlies,
was U ook vir hulle daar,
het hulle agter U ligkolom geloop
en in U voetspoor getrap.
U was vir ons voorouers ‘n goeie herder,
die Een wat hulle selfs in hul donker nag wou bly aanbid.


Ook in die blye oomblikke, in tye van vreugde, wanneer mense vir U feesgevier het,
het hulle U teenwoordigheid herken en erken.
By die geboorte van ‘n kind is U naam aangeroep, is offers van dank aan U geskenk, is die teken van die verbond oor hul jong lewens uitgekerf.
By die bind van die liefdesband, elke keer weer wanneer twee mense hul lewens vir mekaar gee, is diepe dank aan U gebring.
By die inbring van die oes, het U ook ‘n deel ontvang.
En altyd weer, selfs in die geringste gawes, is ‘n tiende aan U teruggeggee.


Só het U gedeel in die beste en mooiste van oomblikke van hulle wat die geestelike reis afgelê het,
só is U bly aanbid deur hulle wat U in hul bly tye herken het.


As ons dít alles bedink, hierdie skeppingskrag, U verlossersliefde, U hoedende ontferming, U wat saam met ons die mooiste dinge beleef,
dan wil ons U loof en prys.
Dan kyk ons op, verwonderd, in verering,
dat U wat alles begin het en alles in U hand hou,
dat U ons aanraak en ons U eie maak.
En ons kan nie ophou om U te prys nie.


Hoe skoon is U, God van goedheid, hoe oneindig skoon.
U is mooi, soos geen bruid ooit kan wees nie.


Ons kry nie woorde nie, ons taal is flou, ons gepraat so vaal as ons U naam wil besing.
Hoe vereer ons U? Hoe kan ons ooit die lof uitsing wat U verdien?
Ons besef, lank nadat ons woorde opgedroog het, ons taal verstil het, ons nog
gaan soek na maniere om U te prys, dat ons alleen maar stamelend kan prys, flou-weg kan loof.


Maar selfs al stamel ons, al soek ons na woorde, verlang ons om méér te kan sê,
is dit goed om U te aanbid, is ons pryslied gelaai met vreugde.


En wanneer ons U loof, hoe voorlopig en hoe onvoldoende ook al,
bring ons lof groter lof.
Want as ons U prys, ontdek ons in ons pryswoorde verdere skoonheid, ontdek ons verwonderd U grotere teenwoordigheid.
Want, Here, selfs die woorde wat ons vind om U te aanbid, is woorde wat U ons skenk.
Selfs die dank wat ons aan U bring, is dank wat ons van U ontvang.
Ons kyk op na U, terwyl ons goed weet dat dit U is wat ons laat opkyk.
Ons sing u lof, terwyl ons goed weet dat dit U is wat ons tong in beweging bring.
Verborge, so diep verborge is dit dat ons, die biddeloses, tog deur genade kan bid en aanbid.


Ons wéét, dit is U Gees wat die onuitspreeklike versugtinge in ons plant.
Dit is goed om by U te wees, om in aanbidding by U te kan woon.
Om te weet: hoe meer ons U aanbid, hoe meer verlang ons om U te aanbid.


Here, U is die Alfa en die Omega.
Deur U kom ons tot aanbidding


Tot U sal ons aanbidding wees, van nou af tot in alle ewigheid.


.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive