Thursday, August 12, 2010

Oor verbrokkelende gesinne

Die onderstaande stuk oor die langtermyn gevolge van huweliksverbrokkeling het my behoorlik aan die dink. Dit is nog ‘n goeie artikel deur Flip Buys met, soos 'n mens van hom gewoond is, deeglike argumente.

Die inligting, gestaaf deur ontstellende syfers, is nie baie bemoedigend nie. Soos gesinne uitmekaar val, is daar miljoene kosbare mense-lewens wat permanent seerkry. Soos hulle met die gevolge moet saamleef, word ‘n sirkelgang van lyding en ellende aan die gang gesit.

Dit is inligting wat veral deur die geestelike leiers goed bekyk moet word.

Ek is altyd verwonderd oor jare se kontak met gesinne,  hoe baie vroue verskeie rolle op ‘n indrukwekkende manier gelyk kan vertolk te midde van die groot druk wat op hulle geplaas word. Hoeveel gesinne, besef ek telkens weer, word aanmekaar gehou deur ‘n ma wat met innerlike krag al die aansprake op haar met opoffering aanvaar. Menige keer het ek gesien hoe ‘n vrou en ‘n ma in moeilike tye planne flink bedink om swaarkry-tye te bowe te kom.

En dit is ook waar dat daar pa’s is wat saam met so ‘n ma stilweg bly swoeg om vir mekaar en vir hul gesin darem ‘n vervullende lewe te bewerk – al sukkel dit, al kan hul skaars by hul begroting hou, al dreig en raas en baklei hulle dikwels met mekaar en die kinders. Daar is ma’s en pa’s wat weet hoe enige huwelik gelaai is met konflik, aanpassing, opoffering, stilbly en vasbyt. Hulle besef hulle moet daar deur. ‘n Egskeiding beteken nie die einde van die probleme nie – dikwels is dit maar net weghardloop van wat ‘n mens opmors om in ‘n nuwe situasie maar van vooraf ellende raak te loop.

Dit is nogal kenmerkend van ons tyd dat ons weghardloop van ons probleme. Of dat ons volstruisgewys kop in die sand steek en dink ons probleme sal verdwyn as ons niks daaraan doen nie.

Wat my laat dink aan ‘n goeie vriend van ons met wie ons dikwels lekker gekuier het. Jare nadat hy en sy vrou gedink het hulle is moeg vir mekaar en moet maar skei, sit ek en hy en gesels: Ja, vertel hy my, as hy nou terugdink, wonder hy of dit regtig die beste oplossing was. Hy het dit stilweg kwytgeraak, maar so veelseggend dat die woorde nou nog by my bly.

Die ou mense het met boere-wysheid die pad uitgewys: beter soek... Anderkant die draad...

Maar die punt in hierdie artikel spook by my: die gevolge van ons dade op ons kinders. Die weerloses, het hulle nie keuse’s gehad in wat hulle ouers besluit het nie. In Swede, lees ek onlangs, is egskeidings aan die afneem omdat kinders van ‘n generasie wat vir elke rede of wat geskei het, aan eie bas die gevolge ervaar het. Hulle wil nie hulle kinders aandoen wat hulle ervaar het nie.

Mens sien dit op baie ander maniere . Jy sien die kinders wat by jou in ‘n lesinglokaal instap: hulle met die oop gesigte, met die werkywer, met die mooi innerlike, met die spontane vriendelikheid. En jy herken agter hulle die gesellige aande tuis, die lekker vakansies saam, die gedeelde swaarkry, die eindelose humor, die taai baklei tussen boet en sus, ma wat hulle met ‘n houtoog aanstaar as hulle kanse vat of met verkeerde vrinne deurmekaar raak, pa wat troos as die teleurstellings toeslaan. Mooi kinders uit normale huwelikke.

Maar dan is daar die ander. Die met die toe gesigte, wat saans op straat dronk huis toe slinger, wat nie lesings bywoon nie, wat uitsak – hoe briljant hulle ook al mag wees, wat suur is, kla oor alles. Jy herken in hulle.... En jy weet hoe alleen hulle eintlik is en hoe stukkend hulle innerlik is.

Egte geluk, het ek voorheen geblok, besef baie mense, is te vinde in eenvoud, in ‘n lewensstyl wat ingestel is op wat nodig is – wat nie deur gierigheid gedryf word nie. Die mense wat gelukkig is, is mense wat verhoudinge kan hanteer en ontwikkel, wat met min kan klaarkom, wat dinge reg doen, wat ordentlik wil wees, wat doen wat goed is vir ander. Juis in die saam opeet van ‘n sak sout, kom daar groei by ‘n mens en word onbreekbare bande geheg. Ons skuld dit aan onsself om nie destruktief op te tree nie. Meer nog: ons skuld dit aan hulle naby aan onsself.

Net so ‘n paar los gedagtes.  Hier is die artikel:



Stukkende gesinne maak ’n land stukkend

Gepubliseer  deur Flip Buys op 10 Augustus 2010

Daar is beslis ’n direkte verband tussen Suid-Afrika se grootste knelpunte en die grootskaalse verbrokkeling van huwelike en gesinne in ons land. Net een derde van kinders in ons land word byvoorbeeld in ’n “normale” gesin met albei biologiese ouers groot.  ’n Opskrif soos “die einde van die gesin” sou dus nie ’n oordrywing wees van hierdie verskynsel wat so ’n verpletterende invloed op ons land se meer as 18 miljoen kinders het nie. Hulle is die grootste slagoffers van die gesinskrisis in ons land. In kort- die tradisionele huishouding van ’n getroude paar met kinders word ’n minderheidsleefstyl.

Krisisse soos geweldsmisdaad, armoede en swak skoolprestasie, is daarom nie die grootste probleem in ons land nie, maar veel eerder die skrikwekkende gevolg van die grootste krisis, naamlik die verbrokkeling van die tradisionele huisgesin. Ons stukkende land ís die gevolg van ons stukkende gesinne, en ons gaan nie ons land heel kry sonder om ons gesinne heel te maak nie. Dat die verbrokkeling van die tradisionele gesin ’n wêreldwye verskynsel is wat veral die  moderne Weste ook teister, verander niks aan ons probleem nie. Die feit dat dit in Suid-Afrika saamloop met baie ander knelpunte is waarskynlik daarvoor verantwoordelik dat dit hier so ’n sterk geweldskarakter aangeneem het.

Redes vir gesinsverbrokkeling
Die opkoms van die “nuwe ekonomie” is volgens Sosioloë soos Manuel Castells die grootste rede vir wat hy die “einde van die gesin” noem. Die belangrikste kenmerk van die nuwe ekonomie is die massa toetrede van die vrou tot die werksplek. Rosabeth Moss Kanter van Harvard Sakeskool beskryf dit as die grootste bevolkingsverskuiwing van die afgelope halfeeu, en sê dit het ’n diepgaande omwenteling van die gesin, werk en werksplek tot gevolg gehad. Waar daar in die VSA in 1970 net sowat 50% van vrouens gewerk het, het dit nou tot byna 80% gestyg.

Die Groot Trek van die vrou van die huis na die werksplek het talle voordele meegebring, maar het ongelukkig ook negatief op gesinne en kinders ingewerk. Daar is veral twee redes hoekom vrouens op so groot skaal buite die huis  begin werk het. Die “stootfaktor” was dat lewenskostes so skerp begin styg het dat die man se inkomste nie meer genoeg was om die gesin te onderhou nie. Die “trekfaktor” was dat die nuwe ekonomie baie meer geleenthede vir vroue gebied het om hulleself in die werksplek uit te leef. Die rede hiervoor was die oorskakeling van die nywerheidsera met sy swaar “mansgedrewe” handewerk, tot die inligtingsera met sy kenniswerk waar die nuwe tegnologie dit vir enigeen moontlik gemaak het om te werk.

Die oorsake vir die krisis van die moderne gesin is veelvoudig, en die oplossing is nie so eenvoudig as om die vrou weer te probeer “huis toe” stuur nie. Die probleem is veel eerder dat die samelewing nog nie genoegsaam aangepas het om hierdie nuwe werks- en lewenswyse te hanteer nie. Die nuwe ekonomie het ’n ongelooflike druk op die vrou geplaas, waar sy nou ’n vierdubbele rol van vroulief, huisvrou, moeder én voltydse werknemer moet hanteer en probeer balanseer.

Invloed op kinders
Hierdie rewolusie het nie net vroue, gesinne en huwelike ’n omwenteling laat ondergaan nie, maar het ook kinders se lewens totaal verander. Die belangrikste gevolg is volgens Castells dat min klein kindertjies vandag hulle ma’s se voltydse aandag kan geniet. Die gemiddelde aantal ure wat ouers by hulle kinders spandeer, het byvoorbeeld tussen 1960 en 1986 met tien tot twaalf ure per week afgeneem. Die gevolg hiervan sê Jeremy Rifkin, skrywer van “Die einde van Werk”,  is dat die afname in ouertoesig ’n “verlatingsindroom”  by kinders geskep het, wat verantwoordelik was vir ’n toename in kinder depressie, jeugmisdaad, drank- en dwelm misbruik en selfmoord. Daarom waarsku die Teoloog Professor Koos Vorster tereg teen die stelselmatige vernietiging van die huwelik en die gesinslewe, en sê dat dit ons land se maatskaplike stabiliteit op die lange duur kan ondermyn. Die feite wys ongelukkig ons is klaar daar. Wanneer die gesin, as die belangrikste draer van gesonde waardes ten gronde gaan, sal die samelewing dit nie oorleef nie.

Wanneer word die prys te hoog?
Robert Reich, ’n vorige Amerikaanse Minister van Arbeid, vra tereg of die nuwe ekonomie en al die welvaart wat dit meebring, die prys werd is wat ons huwelike, ons kinders en ons gesinne daarvoor moet betaal? Hy vra in sy boek oor werk en lewe in die nuwe ekonomie, “The Future of Success”: wanneer word die prys te hoog?
Die antwoord is kort en kragtig: as ons kinders en ons huwelike (vir wie ons welvarend wil wees) die slagoffers van ons strewe na beroeps- en finansiële sukses is.
Wat is die oplossing vir die krisis van die gesin wat ons kinders en ons land so erg teister? Prof Koos Vorster sê dat daar oorgenoeg navorsing en bewyse is, dat die beste vorm van menslike verhoudings vir mans, vroue en kinders – steeds die Christelike huwelik is.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive