Thursday, August 19, 2010

Vreugde in pyn en pyn in vreugde. Oor die geheim van ons reis na geestelike volwassenheid.

‘n Deel van volwasse-wording is die besef dat ‘n mens se lewe nie net uit voorspoed bestaan nie. Tye van vreugde is gekoppel met moeiliker, donker tye. Maklik dink ons dan in siklusse van vreugde, verdriet en vreugde. Ons begroot vir tye waarin ons goeie dinge ervaar, terwyl ons dink dat ‘n mens maar moet aanvaar dat daar by tye nie vreugde sal wees nie.
 

Nouwen skryf die volgende stuk in sy dagboek wat ek vertaal het in Afrikaans as : “Drie Minute Stilte by God. ‘n Jaar se gedagtes oor wysheid en geloof” en bring ‘n ander perspektief. Ons lewensvreugde word nie afgewissel deur verdriet nie. Dikwels is daar in ons vreugde iets pynliks, skryf hy. En, andersom, in ons tye van pyn ervaar ons ook vreugde.
 
Die uitkoms hiervan is duidelik: in verdriet moet ons oplet na dit wat ons verdriet oopbreek. 'n Liefdevolle omhelsing van iemand wat omgee besweer ons pyn. En as ons bly en dankbaar is, moet ons nie verbaas wees as ons terselfdertyd op daardie vreugdevolle tyd ook met ‘n stil, seer hart opgeskeep sit nie. Die gemis van iemand wat nie saam kan bly wees nie, kan die vreugde verdonker. In een oomblik van vreugde, kan ons ook met pyn gekonfronteer word.
 
En die volgende nuanse in die stuk broei ook by my: ons “laat” vreugde toe. Ons “laat” pyn in ons lewens inkom. Ons is nie slagoffers van dinge wat met ons gebeur nie. Ons stort ons willens en wetens daarin, welwetende dat ons lewens in een oomblik, in een bui, ‘n gemengde potpourri van die hoogs uiteenlopende en kontrasterende ervaringe kan word. Ons eien dit vir ons toe. Ons stap daarin. Ons neem graag vreugde oor, maar ons ons omhels selfs pyn.
 
Waarom? Omdat ons weet ons groei deur blootstelling aan alles wat deel is van die menslike bestaan – nie net die goeie nie. Ons groei in groter menslikheid in, in ‘n ryker lewe en in ‘n ryper lewensfase as ons menslikheid in sy volheid binnestap.
 
Ons word op die manier deel van ‘n proses waarin ons die dieptes van die menslike gees op ‘n geestelik manier verken en beleef.
 
Dit alles doen ons dan, in die woorde van Nouwen, met groot oorgawe: ons maak ons oop vir “uitbundige” vreugde, al weet ons daar is dalk diep seerkry daarin verborge. Hoe intenser ons ervaring, hoe dieper verloor ons onsself in die wonderlike gawe van die lewe en hoe mensliker word ons. Ons gemengde gevoelens maak van ons al hoe suiwerder mense. Pyn en blydskap kom saam as ouers wat aan iemand die groot gawe van die lewe skenk.
 
Hier is Nouwen se stuk:

2 Januarie
………………………………………………………………………

Ons geestelike ouers 

Blydskap en hartseer kan nie geskei word nie.
 

Wanneer ons ’n ongelooflik mooie natuurtoneel met harte vol vreugde indrink, word ons blydskap dalk getemper omdat ons afwesige vriende mis, met wie ons dit sou wou deel.
 

Wanneer ons deur smart oorweldig word, kom ons dalk juis agter waaroor ware vriendskap gaan. Blydskap is weggesteek in hartseer en hartseer in blydskap. Albei laat ons groei. As ons hartseer tot elke prys wil vermy, smaak ons dalk nooit blydskap nie. As ons agterdogtig is oor uitbundige vreugde, sal ons diep pyn ook nooit naby ons toelaat nie.
 

Blydskap én hartseer is die ouers van ons geestelike groei.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive