Sunday, August 15, 2010

Om saam te regeer, is om saam te bly stry... Bybelstudie oor Openbaring (9)

Dit is die derde keer dat Johannes sy naam neerskryf. In Openbaring 1:1 het hy vertel dat die openbaring aan hom gegee is. In Openbaring 1:4 noem hy dat hy aan die sewe gemeentes skryf. En hier in Openbaring 1:9 praat hy vir die eerste keer in meer detail oor homself.

Maar baie oor homself praat beteken nog lank nie dat hy met homself behep is nie. Inteendeel, beskryf hy hom as die gemeentes se broeder en deelgenoot. Johannes wil hierdie twee woorde baie versigtig met mekaar verbind (hulle deel net een lidwoord). Die woord “broer” is reeds al ‘n intieme woord. In die vroeë Christen-gemeentes is die woord dikwels gebruik om die verhouding tussen gelowiges te beskryf. Wat kan nader aan ‘n mens wees as jou broer of suster? Mense van geloof is aan mekaar gebind deur band wat so naby is soos die bloedbande wat broers en susters bind.

En die woord deelgenoot is ook sterk geformuleer: Johannes beskryf hom deur die saamgestelde woord as die een wat “saam” met hulle ‘n aandeel het in wat met hulle gebeur. Dit is asof hy nie genoeg kan beklemtoon dat hulle saam in hierdie saak ingetrek is nie. Johannes indentifiseer hom ten nouste met die sewe gemeentes. Hulle lot is sy lot. Hulle ervarings is ook syne. Wat hulle ondergaan, beleef hy ook. 

Johannes kon, soos Paulus soms doen, sy posisie en amp uitgelig het. Maar vir hom is dit belangriker om sy solidariteit en nabyheid met hulle te onderstreep. Tussen hulle bestaan die allernouste verhouding. Hulle is as broers en susters, kinders van die Vader in Jesus (sien weer vers 6!), saam op pad. Wat met die een gebeur, gebeur met die ander. Johannes gebruik ‘n woord wat wys op hul gemeenskaplikheid. Hoewel hy die een is wat God opsoek met ‘n besondere openbaringswoord, is hy aan die ander kant volledig een met die gemeentes. Hy is so pleinweg soos hulle: mense wat deur God geroep is. Hy verstaan hulle. Hy hoor God se woord nie net vir en namens hulle nie. Dit is 'n woord wat hom ook intrek en raak.

Drie dinge deel hy as hul mede-gelowige met die gemeentes: verdrukking, die koninkryk en volharding.

Dit is seker nie verbasend dat Johannes eers onderstreep hoe hy deel het aan hulle verdrukking. Dit is ‘n hoogs gelaaide woord wat in Bybelse konteks wys op die lot wat gelowiges in die eindtyd sal oorval. Hier praat ons nie oor dingetjies wat ons elke dag kwel nie. Johannes sal weer in Openbaring 7:14 oor hierdie “groot” verdrukking praat. Maar Jesus het in Markus 13:19 en 24 ook oor die moeilike tyd gepraat. Dit is ‘n tyd van teenspoed, maar veral van vervolging wat Christene in hul omgewing sal ervaar. Dit is die tyd waarin geloof grondiglik aangeval word, die kerk fundamenteel verdag gemaak word en God as vyand voorgestel word. Die dwase mense wat nie olie vir hul lampies het nie, sien nie die moeilike tye raak nie. Hulle rus en slaap en geniet. Maar wie dieper kyk en fyner luister, weet hoeveel op die spel is.

En dan die verrassing: Johannes deel ook met sy lesers die koninkryk. Dinge is nie net swaar nie. Behalwe die verdrukking as die negatiewe, is daar ook die positiewe en kragtige. Hulle koninkryk is God se koninkryk. En hulle dien die koning van die konings van die aarde selfs al is daar groot verdrukking. Mooi in die middel van die drie begrippe word hierdie positiewe beeld geplaas. Hulle wag nie maar bloot op die koms van hierdie koninkryk nie. Jesus het immers die dood oorwin en is nou al die koning van die konings. Net so deel hulle nou al aan die koninkryk. Daar is ‘n spesiale verhouding tussen ‘n mens se verdrukking en die koninkryk: wie wil deel aan die koninkryk, moet deur lyding heen. ‘n Mens moet deel hê aan die lyding van Christus om te kan deel in sy heerskappy. Geloof vra toewyding.

Laastens deel Johannes met hulle “volharding.” Volharding is daardie adrenalien wat in jou are begin pomp wanneer ‘n mens deel gemaak word van die geestelike resies. Geloof vra nie net toewyding in verdrukking nie, maar ook waaksaamheid. ‘n Mens kan volhard in die geloof omdat ‘n mens weet jy is deel van God se koningskap. As ‘n mens God raaksien in al God se krag en heerlikheid, kom die volharding.

Maar die driedelige formule word afgerond met die eenvoudige byvoeging “in Jesus”: Dan moet ‘n mens eintlik lees dat gelowiges deel verdrukking in Jesus, die koninkryk in Jesus, volharding in Jesus. Weer eens kom Johannes se sterk Christologiese denke na vore. Hy is maar net ‘n dienaar. Hy bly maar soos alle ander mense 'n gelowig. Die verhouding met Jesus bepaal vir hom alles – dra ons ervaring van die hede in vele opsigte. Oor hulle lewe in die geloof, waak Jesus in liefde - Hy het immers duur vir hulle betaal (vers5). Alles kry sin oor die dieper, verborge boodskap van die goddelike uitreiking na mense en die goddelike omhelsing van mense deur die liefdevolle Seun.

Maar kyk net watter sin bring dit: ons deel met mekaar as gelowiges, skryf Johannes, nie net sinlose lyding nie, maar ons deel die lyding van Jesus. Die ellende wat ons beleef, is eintlik gerig teen Jesus. Maar ons kan alleen hierdie verdrukking in die oë kyk omdat ons behoort aan die ruimte waar Christus regeer. En wie in Christus is, ontvang energie en krag om getrou te bly en te volhard.   Ons kyk in die geloof dieper en sien die groter kragte wat goedheid wil uitwis. Maar terselfdertyd weet ons dat ons dit alles alleen maar kan raaksien omdat ons so ondeurgrondelik diep en uit genade deur die Liefde aangeraak en bekragtig is.

Om deel te wees van die koninkryk gee energie om te bly stry....

Om saam met Jesus te regeer, is om saam met Jesus te bly stry...

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive