Friday, August 13, 2010

Ore: wanneer twee wêrelde onverwags op mekaar insny....







Bon Jovi, foto's hierbo, (o.a van "Livin on a Prayer" en "It's my Life" faam) tree toe vanaand in die Ellen Degeneres program op en sing sommer ‘n nommer of wat. Tussen-in het hy ‘n onderhoud met haar waarin hy onder andere vertel hoe baie hy van die huis af weg is. Dit laat hom maar teenoor sy familie skuldig voel.

Toe belowe hy maar een aand vanuit Japan vir sy seuntjie tuis dat as hy huis toe kom daar op hom ‘n lekker verrassing wag.

Sy seuntjie, tipies, wil onmiddellik weet wat die verrassing is. En, soos alle pa’s uit baie tye maar doen, moet hy nie die geheim weg gee nie. Want dan is daar mos geen afwagting en spanning meer oor nie.

Seuntjie, vertel Bon Jovi, rustig verder, hou aan met vis, totdat hy maar op die ou end vir hom uithelp met ‘n wenk: die geheim, sê hy vir hom, het met “ore” te doen.

Hy het gedink sy seuntjie sou darem na ‘n rukkie agterkom dat hy hom DisneyWorld toe gaan neem waar hy dan vir Mickey Mouse met die groot ore kan sien.

Pragtig, die intertekstualiteit wat hier na vore kom en die ervaringswêreld wat by ‘n mens opdoem. Wie van ons weet nie van Mickey Mouse nie en hoe hy en Walt Disney vir geslagte van mense prakties dieselfde was nie? Noem jy die een, dan sien jy die ander een. Mickey Mouse is oor die aardbol heen vir mens by uitstek die handelsmerk van Walt Disney en sy massiewe vermaakskultuur.  







Die storie is vir my verder lekker oor die manier waarop mense dinge waarneem en onthou. As ‘n mens Mickey Mouse sê, doem ‘n paar groot ore inderdaad voor jou op, besef ek, self half verras. 

Dis mos deel van die tekenprent-kultuur dat ‘n enkele liggaamstrek ‘n karaktertjie kenmerk en in mense se geheue en genietinge bly vasssteek. Groot ore en Mickey Mouse is sinoniem met mekaar. Disney wou ‘n karakter skep vir wie kinders lief kon wees. Daarvoor moes hy ook menslike eienskappe hê. En groot lekker bakore help nogal baie.

Ook onthou ek, as ‘n mens in Amerika kom, merk jy in elke tweede winkel ‘n paar Mickey Mouse ore wat jy kan koop en dra. 






Kyk hoe lyk so 'n paar ore bymekaar:






Maar wat vir Bon Jovi en vir mense op die aardbol heen ‘n weggee-geheim was, het in hierdie geval glad nie gewerk nie. Sy seuntjie was duidelik aan die wonder oor wat sy pa vir hom as verrassing gaan bring en kon nie die raaisel oplos nie.

Uiteindelik, vertel Bon Jovi, vra sy seuntjie toe vir sy pa: “Gaan ons dan na die Wit Huis?”

Die gehoor in die Ellen Degeners ateljiee, bars dadelik uit van die lag en skater lank, lank oor hierdie familie-storie. Hulle snap die bekoorlike humor onmiddellik. Want Amerika het in Obama natuurlik ‘n lekker bakoor-president. En in die seuntjie se fantasie-wêreld het die president van Amerika sy eie plek en die president se ore sak in sy geheue diep in. 

Ore het hom laat dink sy pa gaan hom en die familie verras deur hulle na die Wit Huis in Washington te neem om die president te ontmoet.

Nog ‘n teks wat meespeel: Mickey en Walt Disney en Amerika en die Wit Huis en Obama – en alles opgeroep deur die onwaarskynlike gemeenskaplike motief van ore...








Wat my laat dink aan ons eie klein seuntjie, daar van Dallas, Texas, wat een Desember-maand, soos ek al geblog het, op Gouritzmond, met vakansie, in sy aand-gebedjie gebid het vir sy President, duidelik bedoelende Pres. Obama. As ons seuntjie nog so helder wakker is en nog nie wil slaap nie, rek hy mos daardie gebed met al wat leef en beef op sy gebedslys sodat hy nog geselfskap in sy kamer by hom kan hê. En onder sy gesin, familie, vriende, diere het sy lys ook die president ingesluit. Van die mensdom daarbuite was daar in sy sesjarige-wêreldjie net hierdie een verteenwoordiger.

Dit is egter die gehoor se spontane, egte en durende lekkerkry- reaksie wat by my bly en my die grap laat onthou.

Mense lag uitbundig en hou baie van goeie humor. Hulle is beÏndruk as ‘n grappie slim en oorspronklik is. Soos Bon Jovi se ore-grap. 

Maar hulle lag op ‘n ander manier oor ‘n grap soos hierdie ore-grap. Dit is ‘n lag uit die hart uit. Oor ‘n seuntjie wat ‘n fout maak deur ‘n goeie raaiskoot te waag, maar wat aan sy president in terme van ore dink. Oor ‘n president wat geskiedenis gemaak het, maar wat ook, heel menslik, in kinders se gedagtes ‘n paar bakore het. 

Alles ingebed in humor. Dit is lewenseg, nie uitgedink nie - dit kom uit die ervaringswêreld, uit die hart uit. 

Egtheid bly altyd verrassend mooi en spreek ons meer as enige iets anders aan.

Soos egte godsdiens.



En hier is Livin a Prayer. Nogal woorde om te herkou....







Maar hier is hul mooiste liefdesballade:


http://www.youtube.com/watch?v=ESOVrc4K3CQ&feature=fvw










No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive