Wednesday, August 11, 2010

Is die Bybel waar? Die interpretasie van die Bybel (2)

“Bybelstudie,” noem ons dit.  Oral-oor, in kerke en in huise kom mense in groepe bymekaar om die Bybel te “bestudeer.”

Dit is ‘n interessante benoeming: hier skop mense se “brein” in. Hulle wil meer “weet” van die Bybel. Hulle is geïnteresseerd in historiese inligting. Hoekom kla Paulus oor vroue wat sonder ‘n bedekking op hulle kop in byeenkomste bymekaar kom? Hoe is mense gedoop? Watter soort feeste was daar? Hoe het die tempel gelyk? Hoe is mense begrawe? Hoekom het mense hul hande en voete gewas?

So ‘n Bybelstudie het dus meer “kennis” in die oog. Aan Universiteite en opleidingsinstellings is vir ‘n lang tyd ook “Bybelkunde” geleer. Die “wetenskap” oor die Bybel was ‘n gewilde vak.

Dit is veral kenmerkend van Protestantse groepe en kerke.

Ek sit onlangs in Nijmegen waar ‘n ortodokse Protestantse predikant en ‘n katolieke professor oor Bybelvertalings praat. Die katolieke professor prys die Willibrord-vertaling hoog aan. Maar, reageer die Protestantse dominee op sy kollegas se aanprysing, daardie vertaling verkoop so sleg omdat Katolieke nie die Bybel lees nie. Protestante lees die Bybel, vertel hy. Want Protestante het nie ‘n gesagsinstansie soos ‘n pous naas die Bybel nie. En Protestante wil die Bybel leer ken.

Daar is absoluut niks verkeerd met Bybelstudie nie. Sonder kennis van die Bybel is geloof arm en bloedarmoedig. Voordat ‘n mens oor die Bybel kan nadink, moet ‘n mens eers goed weet wat daar in die Bybel staan. Dit is juis waar van baie kritikasters van die Bybel en die Christendom dat hulle so oppervlakkig krities is en nie regtig goed weet wat in die Bybel staan nie.  ‘n Gelowige mens kan nie dom oor die Bybel wees nie. Sonder kennis kan die geloof nie.

Maar die Bybel is lank nie geskryf om van ons slim, ingeligte, ingestudeerde mense te maak nie. Ons lees nie die Bybel om een of ander abstrakte stuk kennis op te bou nie.

Dit sou wees om ‘n motor te besit, al sy padprestasies en onderdele haarfyn te kan beskryf, maar om nooit in die motor in te klim en te ry nie.

Ons wil nie maar net weet wat “sê” die Bybel nie. Ons wil ook en veral weet of die Bybel waar is. Dit is een ding om alles oor die Bybel te weet. Dit is iets heeltemal anders om te weet dat wat die Bybel sê, die waarheid is wat my lewe onherroeplik raak en omswaai.

As die Bybel vir ons waar is, wil ons ontdek hoe die Bybel waar is en watter verskil  dit aan ons lewens maak.  Ons wil nie bloot historiese kennis opdoen nie. Die Bybel wil ‘n lewensveranderende invloed op mense uitoefen. As ek die Bybel lees, is die eerste en belangrikste vraag wat dit aan my doen. Hoe stuur dit my lewe? Hoe verander dit die koers van my lewenspad? Hoe swaai dit my kop, maar ook hoe draai dit my voete in die regte rigting.

Dit is wat die Bybel self sê. Die tekste wil mense vissers van mense maak. Getuies van die waarheid. Dissipels van Jesus wat uitsluitlik aan hom getrou is. Hoe kan ‘n mens vrug dra? Juis daarom het Jesus in Johannes Evangelie keer op keer as ‘n refrein die oproep om in Hom te bly, in Hom as lote ingeënt te wees. Ons lees die Bybel om ons lewens te verander. Die Bybel trek ons nader, neem ons as ‘n loot aan en plant ons in sodat ons die lewenssap van die Bybelse teks deur ons are kan voel vloei, sterk kan word en nuwe lewe kan laat uitbot.

Dít is hoe ons die Bybel benader. Dit is die belangrike voorveronderstelling waarmee ons die teks optel. As ons nie oop is hiervoor nie, as die leser nie die transformerende impak van die teks afwag nie, kom die Bybel nie tot sy reg nie.

Daarom kan slegs gelowiges die Bybel eg lees. Iemand kan die Bybel lees, interessant vind en voortgaan met sy of haar lewe soos vanouds, asof niks gebeur het nie.

Daarteenoor vind iets heel anders plaas wanneer iemand die Bybel optel, afwagtend om die ware God te ontmoet, welwetende dat die ontmoeting met God nuwe avonture, nuwe lewe kan bring.

Bybelstudie? Die spiritualiteit ken Bybelgroepe: mense wat “Rondom die Bybel” bymekaar kom en die impak daarvan kontempleer. Dit is boeiend om te sien hoe hulle die teks van alle kante belig en bedink en bestudeer. Hulle geniet mekaar se insigte, leer baie en vind baie dinge interessant.

Maar altyd weer is hierdie intellektuele oefening net ‘n deeltjie van die hele proses. Hierdie groepe vra ook verder wat doen die Bybel-byeenkoms aan hulle. Soms sit hulle net stil en dink. Hulle wonder. Soms het die groeplede ‘n behoefte om te bid. Hulle is geraak. Soms gebeur daar met hulle wonderlike dinge wat, sê hulle, vir hulle laat voel hulle is in die teenwoordigheid van God. Hulle is verwonderd.

Bybelstudie? Rondom die Bybel? Miskien eerder: Om God te hoor praat?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive