Tuesday, August 10, 2010

Jesus, die Sterke: Bybelstudie oor Openbaring (8)

Openbaring 1:4-5: Aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië. Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5 en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in ewigheid. Amen. kyk, hy kom met die wolke, en al die mense sal hom sien, ook hulle wat hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor hom in selfverwyt weeklaag. Ja, dit is seker!

Kyk maar net die lengte wat Johannes vir elkeen van sy drie karakters gebruik:

Van God word kortliks bloot net een ding met drie dimensies gesê: God is, was en kom. God hou die tye in die hand. In vers 8 gaan Johannes hierdie gedagte weer herhaal. Hy omraam daarmee hierdie gedeelte met sy verwysing na God. En in vers 8 staan die drieledige "wat is, was en kom" weer in die sentrum. Johannes onderstreep dit deur God nou die alfa en die omega te noem. En alles te eindig met die opmerking dat God die almagtige is. Johannes se lesers voel opwinding: nie die keiser en die arrogante konings van hul stede nie, maar God het die mag in die hand...

Van die sewe Geeste lees ons dat hulle “voor God se troon” is: die profete as God se boodskapper, hoor hul boodskap van God self. In Lukas 1:19 sê Gabriël vir Sagaria: “Ek is Gabriël wat voor God staan en ek is gestuur om met jou te spreek en hierdie goeie tyding te bring.” Wat mense van die profete hoor, kom van die allerheiligste plek. Die boodskappers was in God se teenwoordigheid. Hulle woord  is ‘n woord wat op God self teruggaan. Openbaring 4-5 gaan meer van hierdie troon vertel: dit is waar alles wat gebeur, bepaal word. Om te dink: waar God is, word oor mense gepraat! God se bestaan is ten nouste gekoppel en toegewy aan mense.

Maar so kort as wat Johannes oor God en die sewe geeste praat, so baie praat hy oor Jesus:  

1. Jesus is eerstens die geloofwaardige getuie. Wie na Jesus luister, hoor by hom hoe die egte stem van God klink. Hoewel Jesus verneder en vermoor is (deurboor is in vers 7), is hy die een wat onskuldig en reg was. Ons sal in Openbaring 11 ook weer van getuies lees. Daardie twee getuies sal ook oor hul getuienis doodgemaak word, maar hulle sal, soos Jesus, ook opgewek word. Om ‘n getuie te wees, is ‘n saak van lewe en dood. 

2. Jesus is tweedens die eerste een wat uit die dood opgestaan het. In Openbaring staan die opstanding van Jesus sentraal. Wie oor Jesus praat, praat oor die opstanding. Hy is uniek. Niemand het voor Jesus die dood kon oorwin nie. Nou het dit gebeur. Jesus is sterker as die dood.  

3. Wie die mag het, heers oor alles en almal. Wie die dood oorwin het, se mag is oneindig groter as die mag van selfs die sterkste koning. Daarom is Jesus die heerser oor die konings van die aarde.

4. Nog is dit nie die einde nie: Hierdie Jesus is die liefdevolle een. In Johannes se boek wat so kwaai kan praat oor die oordeel, is hierdie liefdevolheid opvallend. Jesus is gedood al is sy koms gedryf deur die liefde. Hy betaal ‘n hoë prys. Sy bloed vloei, om mense vry te maak.

5. Jesus bevry nie net nie, hy bemagtig ook. Wie hom volg, word ‘n koninkryk en priesters. Mense wat in sonde vasgevang is, word verhef. Hulle heers nou, hulle sal sit op trone (Open.20). Hulle mag nou in die tempel ingaan soos priesters.  

6. Johannes kom by 'n punt uit dat hy nie homself kan inhou nie. Terwyl hy so oor Jesus skryf, gaan hy sommer oor in ‘n doksologie, lied van verering. In die Ou Testament is 'n doksologie aan God gewy. Hier kom dit aan Jesus toe. Aan hierdie Jesus, "behoort die heerlikheid en die krag tot in ewigheid. Amen." 

Dit bly merkwaardig watter hoë posisie Jesus in Openbaring het. Hy word beskryf met ‘n status wat aan God s’n gelyk is. En hy word aanbid soos God aanbid word. Johannes het 'n
hoë Christologie.

7. Uiteindelik gaan Johannes nog verder en praat oor die toekoms. Hierdie Jesus wat hy so uitvoerig beskryf het, is ook die Jesus wat kom. Hy kom met die wolke, mense sal hom sien, ook hulle wat hom vermoor het.  Dan sal die volke berou kry. Daaroor kan niemand twyfel nie. 

I
n hierdie inleiding het ons dus 'n beeld van Jesus se verlede: hoe hy mens bevry en bemagtig het. Die een wat van God getuig, is die Een wat alles vir mense gegee het - al het dit sy bloed gekos. Maar hierdie Jesus se verhaal is nie verby nie. Hy is nou in die hede aan die werk. Hy leef in die gemeentes. Hulle getuig nou soos hy dit gedoen het. Hulle volg die Lam waar hy ook al gaan. Hulle loop 'n pad met Jesus. Maar Jesus is op pad na die toekoms. Hy kom terug. Alles wat nou nog verborge is, sal dan duidelik en onmiskenbaar sigbaar wees. Dit groot onthulling sal dan plaasvind. 
 

Johannes begin sy boek op 'n hoe noot: Wie vir God wil ontmoet en wie na die profete luister, staan uiteindelik voor Jesus. Openbaring is daarom in die heel eerste plek 'n boek oor Jesus. Hierdie Jesus is so besonder, sy liefde so groot, sy getuienis so kragtig, sy dood so bemagtigend, sy terugkeer so oorweldigend, dat 'n mens hom as God aanbid. Wie God wil ken, moet na Jesus kyk. En wie Jesus sien, sien God. 

Openbaring is 'n Jesus-boek. Daarmee berei Johannes sy eerste visioen voor wat in die volgende afdeling beskryf word. Vreemd genoeg, is hierdie goddelike Jesus ook 'n Mensseun. In hom kom menslikheid en goddelikheid in 'n verborge geheimenis tesame. Hy, die een wat aanbid word, lyk ook soos 'n mens. Hy sterf soos 'n mens. Maar, dan weer, word hy uit die dood opgewek en heers hy oor alle konings.

Daar is 'n verborge oorvleueling: God wys gesig in Jesus. En Jesus vertel ons wie God is. Al die ou, onoorbrugbare afstande tussen God en mens, mens en God, word oorkom. Die paradys word weer oopgesluit. Die gevalle mens word weer ingenooi in God se teenwoordigheid. 


En dit, skryf Johannes, is te danke aan Jesus.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive