Wednesday, August 04, 2010

Oor die verborge aanskouing van God.

Ruusbroec (1293-1381), die mistikus van liefde, oor wie ek al voorheen geskryf het, is een van die bekendste Vlaamse mistici. Seker die moeilikste en mees omstrede van sy werke, is die Derde Weg (ongeveer 1335) waarin hy oor kontemplasie of oor die aanskouing van God skryf. In hierdie deel skryf Ruusbroec oor die besonder intieme eenheid van God en mens.

Dit is 'n werk wat dikwels misverstaan is.

'n Mens kan hierdie gedeelte nie lees sonder om te onthou dat Ruusbroec duidelik was daaroor dat God transendent is, anders as die mens en dat die verskil tussen God en mens nie uitgewis kan word nie. 'n Mens, beklemtoon hy ook telkens, kan nie deur kennis of deur skerpsinnigheid by God uitkom nie. Elke keer weer is die liefdesgemeenskap met God 'n gawe en, boonop, 'n spieelbeeld van die liefdesverhouding in die drie-enige God.

En tog het Ruusbroec diep nagedink oor die boeiende, raaiselagtige en mistieke Bybelse begrip van die mens as beeld van God en oor die allerintieme, spesiale verhouding tussen God en mens.

Hoe anders dan, as Paulus oor God skryf as die Een wat alles sal wees in almal (1 Kor. 15:28 - let op die verskil tussen die ou en nuwe vertalings)? Hier is tog 'n fokus en 'n eindpunt wat 'n mens na 'n goddelike eindbestemming neem wat 'n verborgenheid is.

Dit is 'n worsteling wat 'n mens in Galasiers kry as Paulus praat oor die mistieke eenheid met Christus. Hy leef vir God, hy is met Christus gekruisig; nou is dit nie hy wat lewe nie, maar Christus wat in hom lewe (Gal.2:19-20).

Wat beteken dit dat ons na God lyk? Dat God in ons leef? Dat ons God se beeld is? (1 Kor. 15:49!). Of meer nog: wat beteken daardie nog meer mistieke woord in 2 Petrus 1:4 dat ons deelgenote van die goddelike natuur sal word (en "verdorwenheid" sal ontvlug)?

Hier is, dink baie, sprake van eendersheid, maar dan word dit, vertel hulle, altyd ondergeskik gemaak aan die andersheid van God. Ons is wel "soos" God, maar ons is, veral, ook nie God nie.

Maar as dit waar is en al hou 'n mens aan die andersheid vas (soos Ruusbroec) - hoe moet ons nadink daaroor dat ons wel tog in 'n intieme eenheid met God opgeneem word? Hoe onvoorstelbaar is dit tog om te dink dat ons iewers 'n appel daarop kan maak dat ons "soos" en in God is, dat daar iets goddeliks in ons is? Dat ons nie meer leef nie, maar dat Christus, die Goddelike, in ons leef. Asof ons menslike identiteit deur God se inwoning oorgeneem word?

Paulus gebruik in Gal.3:23-24 sakramentele taal om die eenheid met God uit te druk. Geloof in Christus maak ons tot kinders van God. Ons is deur die doop met Christus verenig, ons het nou deel van Christus geword. Ons is nie "beeld" van Christus nie, skryf hy. Ons is "deel van" Christus.

Ruusbroec dink hieroor na. Hier is die eerste deel uit sy Derde Weg - woorde wat nou byna 700 jaar oud is.


Daar is mense wat God innerlik lief het. Hulle het en besit God in ‘n rus wat suiwer vreugde gee. Hulle woon toegewyd en aktief in die liefde. Hulle lewe is deurdring met deugde én toewyding. Sulke mense kom tot ‘n lewe wat God aanskou deur die volgende drie punte en deur die verborge openbaring van God. Dit is die mens wat God bemin en wat vroom en regverdig is, wat God in Sy vryheid wil kies en wat God wil verhef tot ‘n kontemplasie wat bo alle bestaande dinge uitstyg, wat in goddelike lig bestaan en wat in ooreenstemming met die weg van God is.

Hierdie kontemplasie en aanskouing van God gee vir ons toegang tot ‘n reinheid en tot ‘n helderheid wat al ons verstand te bowe gaan. Want dit is ‘n besondere verryking en ‘n hemelse kroon en bowendien ook ‘n ewige beloning vir alle deugde en alle lewens. En niemand kom daartoe deur middel van kennis of skerpsinnigheid nie en ook nie deur oefening of inspanning nie. Net die persoon vir wie God met sy Gees wil verenig en vir wie God met Homself wil verlig mag God aanskou en niemand anders nie. Die verborge goddelike natuur is ewig werksaam, aanskouend, kontemplerend en liefdevol ten opsigte van elke mens, altyd genietende van die omhelsing met elke mens in eenheid van wese.

In hierdie omhelsing, in hierdie wesenlike eenheid van God word alle innerlike geeste een met God in liefdevolle vervoering en hulle is presies dieselfde een wat die wese self in sigself is. En in hierdie hoëre eenheid van die goddelike natuur, is die hemelse Vader die oorsprong en die begin van elke werk wat in die hemel en op aarde gedoen word. En God sê in die diepe verborgenheid van die Gees:



“Kyk: die Bruidegom kom, gaan uit, ontmoet Hom.”


Ons gaan, sê Ruusbroec dan, hierdie woorde oor die bo-sinnelike aanskouing van God wat die grondslag is van alle heiligheid en van die hele lewe wat ‘n mens kan leef, nou verder uitlê en verklaar.

Hierop volg dan die res van sy boek.

Sien verder http://www.sofiatopia.org/equiaeon/3thlife.htm#7

Ruusbroec skryf in mistieke taal oor mistieke dinge. Dit is tastende formuleringe om 'n verborgenheid uit te druk wat "alle verstand te bowe gaan." Maar daar is rigting in wat hy skryf. Dit is wat Augustinus, dink ek, bedoel het toe hy gepraat het van die rus wat ons alleen in God kan kry. Hoe netjies ons ook al ons eie identiteit het, iewers is daardie identiteit gedra deur die diepere, deur die goddelike.

Terwyl ek hieroor nadink, besef ek ook hoe subtiel ons ook, in ons pogings om God se transendensie te "beskerm" ons onsself eintlik met 'n sekere trotsheid op 'n troontjie naas en gelyk aan God kan plaas. Daar is iets bevrydends en lig in Paulus se uitspraak dat hy nie meer leef nie. Wat saak maak, werklik saak maak, is dat God leef.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive