Saturday, August 14, 2010

Pratende oor seerkry bring genesing

 
Drie miljoen mense het al hierdie You Tube weergawe van Johnny Cash, die legendariese Man in Swart (en onderwerp van die fliek “Walk the Line”), se onvergeetlike “Hurt” (geskryf deur Trent Reznor) gesien. Die ander weergawe het nou al byna 30 miljoen kykers getrek.(Sien en luister die link hieronder)

33 miljoen!

Johnny Cash was ‘n rebel, maar ook ‘n uitgesproke Christen. Een van die grotes in die Amerikaanse musiekwêreld, het hy gedurig oor sy geloof gepraat – maar altyd weer vertel hoe diep sy morele stryd loop en hoe hy sukkel om aan die evangelie getrou te bly en van sy spyt oor wat in sy lewe skeefgeloop het. Tog het hy altyd weer vasgehou aan vergifnis. Mense het hom bewonder vir sy eerlikheid, groeiende nederigheid en selfs sy vrygewigheid. Hy het, tot miljoene se verwondering, ‘n klank-opname van die hele Nuwe Testament (New King James Version) gemaak.




'n Jeugdige Johnny Cash.

Uit die kommentaar op hierdie lied op You Tube kan ‘n mens gou agterkom mense identifiseer met die pyn en die menslikheid van die lied.

Hurt, hierdie somber, donker lied, oorspronklik geskryf deur Reznor (van Nine Inch Nails – ‘n industriële rock band) was eers uitgevoer as ‘n anti-geweld proteslied. Dit praat oor die mensdom se drang tot vernietiging, moord, afbreek en die verskriklike gevoel van verlies wat daardeur opgeroep word (“I focus on the pain, the only thing that’s real”).

Ongeag al die pogings om die pyn van die vernietigingsproses te verdoof, bly ‘n mens se gedagtes by jou hang en draal – en dan word dit boonop gekoppel met die nog erger vraag: “What have I become?” Jy word die gevangene van wat jy jouself aandoen - hoe jy ook al daaruit wil wegkom. Die pyn word jou deel en lot, maar erger nog – jy bewerk die pyn aktief en al soekende daarna.

Johnny Cash het die lied op sy unieke manier sy eie gemaak. Hy het dit beskryf as een van die beste anti-dwelmmiddel songs wat hy ooit gehoor het.

‘n Reeds baie siek Cash het dit in 2003, vyf maande voor sy dood opgeneem toe ha 71 jaar oud was. Sommige dink dit is sy grafskrif en lewensepiloog.

Maar wat ‘n merkwaardige transformasie het die lied nie ondergaan nie. Reznor het die lied geskryf te midde van sy eie verskriklike eensaamheid en verlatenheid, het hy gesê. Maar in sy lied is daar min van godsdiens. In die eerste weergawe was die “I wear this crown of thorns” oorspronklik ‘n kru: “I wear this crown of shit.” In Cash se weergawe, gesing met sy kenmerkende skor stem, is die lied ‘n sterk godsdienstige kleur gegee, met grepe uit Cash se eie verlede – maar met flitse van Christus aan die kruis met ‘n doringkroon. (Reznor het Cash se uitvoering hoog aangeprys, veral omdat dit die eerlikheid van die lied behou het.) Dit is ‘n lied wat Cash se worstelende spiritualiteitsreis aangrypend verbeeld. Hy verander nie net die lied in ‘n uitgesproke Christelike weergawe nie, maar hy trek dit in sy lewe in. Self-implikasie. Geleefde geloof. Ervaarde geloof. Spiritualiteit.

Hier is die lirieke:
I hurt myself today
to see if I still feel
I focus on the pain
the only thing that's real
the needle tears a hole
the old familiar sting
try to kill it all away
but I remember everything
what have I become?
my sweetest friend
everyone I know
goes away in the end
and you could have it all
my empire of dirt

I will let you down
I will make you hurt

I wear this crown of thorns
upon my liar's chair
full of broken thoughts
I cannot repair
beneath the stains of time
the feelings disappear
you are someone else
I am still right here

what have I become?
my sweetest friend
everyone I know
goes away in the end
and you could have it all
my empire of dirt

I will let you down
I will make you hurt

if I could start again
a million miles away
I would keep myself
I would find a way

En hier is Cash se weergawe - ook te hoor op Youtube:



Ek luister die lied en wonder hoe dit kom dat mense soveel troos daaruit put soos die vele reaksies daarop laat sien. Cash se unieke stem, sy herhaaldelike val en sy opstaan, sy worsteling, asook sy groeiende berou en egtheid, sy toenemende nederigheid en sy innerlike stryd speel seker ‘n rol om mense te inspireer om nie tou op te gooi nie. Alles vertel hulle van ‘n nuwe begin. Maar hulle bewonder ook die rou eerlikheid van ‘n man wat voel hy is in die diepste modderkuile vasgevang om dan maar weer op te staan en voort te stry.

Iewers wil-wil die lied my aan Psalm 51 laat dink. Maar daardie Psalm, voel ek toe ek dit weer lees, het so ‘n totaal ander perspektief. Hierdie lied, oor Pyn, Seerkry, oor “Hurt” eindig met ‘n groot versugting:

“If I could start again a million miles away,I would keep myself, I would find a way.”

En dit is waar dat die lied in die geval van Cash nog in die rouheid van verlatenheid stilstaan. Terwyl Psalm 51 verder beweeg. Waar die gevallene hand oor die bors opkyk, opkyk en smeek na Bo.

Die Psalm doen dit dus anders: daar is ook in die Psalm ‘n sondebesef. “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.” Maar die res van die Psalm is ‘n dringende roep om God se vergifnis. Eintlik is Psalm 51 nie ‘n boetelied nie, maar ‘n gebed om verginis. Dit vertel ons wat oratio is, daardie biddende verlange en roep na God, daardie hartstog om God, die wegkyk van jouself en die opkyk na waar Vergifnis woon. Dit is nie die beeld van ‘n mens met dowwe oë wat moontlike goddelike flitse sien nie. Dit is ‘n Psalm van iemand wat God herken, wat God se onmeetlike vermoë om te kan vergewe in aanspraak neem. Kortom, dit is ‘n Psalm waarin die bidder hom totaal in God verloor, weggedraai van die hardheid van die verlede.

Hoe mistiek: hierdie totale verlorenheid in God. Die aanhoudende smeek na en appel op die Here.

En tog het “Hurt” iewers op sy eie weer ‘n besondere bekoring wat ‘n mens aangryp. In “Hurt”, wat iemand een van die 50 grootste songs beskryf het en ‘n ander weer as een van die vyf invloedrykste songs ooit, word die lied self egter ‘n beswering van pyn. Deur oor pyn te skryf, oorkom ‘n mens dit, praat ‘n mens daarteen, verdryf jy die afbrekende en destruktiewe magte wat jou lewe dryf. Die lied self, die sang, die lirieke, word die beiteltjie wat die hardheid kraak.

In Spiritualiteit word dikwels oor die genesende werking van skryf, van skep, van kreatiwiteit gepraat. Daar is iets mistieks in ons pogings om uit die slym van kwaad op te staan deur ons stryd in woorde uit te druk, deur ons lyding in taal te verwoord, deur met ons mistagoog in gesprek te tree. Cash doen dit deur iemand anders se lied sy eie te maak en deur dit sy eie te maak, dit in die lewens van miljoene mense (33 miljoen!) in te dra.

Hoe wyd kan die Evangelie tog nie loop nie... As dit maar eg gebeur.

Die Verlore Seun se boeiende tot homself kom en die terugkeer, bevestig dit. As jy self tussen die varkpeule sit en daarvan padgee en daaroor praat, met jou Pa gaan praat, begin die lang pad van genesing. Al die pad huis toe het die seerkry ook die Verlore Seun gesny en laat ly. Ek gaan my pa vertel hoe sleg ek is, het hy al die pad huis toe aan sy “Hurt” gesing.

En toe hy tuis kom.... En nog later, toe Lukas dit in sy eie woorde omskep het... Die sirkelgang van goedheid, van goddelikheid wat niemand kan stuit nie...

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive