Monday, August 09, 2010

Hoe en hoekom lees 'n mens die Bybel? Die Bybel as boek van lewegewende verhoudinge

Wanneer ‘n mens nadink oor lees van die Bybel, kan ‘n mens rofweg drie groot benaderings onderskei –  en in elke benadering is daar weer ‘n klomp verskille te herken.

1.  Eerstens is die Bybel vir baie lesers ‘n spesiale boek wat hulle nader aan God bring:

Mense wat die Bybel lees, doen dit om verskillende godsdienstige redes. Sommige lees dit omdat hulle na geestelike voedsel soek. Hulle leef op die wyshede in Spreuke, geniet die eenvoud van die Bergrede, of kry troos  uit Openbaring. Hulle hou van die Bybel. 

Hulle is selfs lief vir die Bybel as ‘n oulike boek.

Sommige Bybellesers lees die Bybel van hoek tot kant as ‘n goddelik geïnspireerde boek wat God se wil vir die wêreld uitspel. Hulle glo selfs dat hulle uit die Bybel op 'n bonatuurlike manier inligting kan kry oor besluite wat hulle moet neem. Hulle bid oor ‘n saak, slaan dan die Bybel oop en sit ‘n vinger op ‘n vers. Soms vind hulle dan in daardie vers die nodige antwoord. Hulle toor antwoorde op hul eie persoonlike vrae op die manier uit die teks op. Hulle het buitengewone respek vir die Bybel omdat hulle glo dat God elke woord daavan geïnspireer het. Hulle is diep beïndruk deur die Bybel as ‘n bonatuurlike boek.

2.  Tweedens is die Bybel vir baie lesers ‘n gewone boek wat hulle iets van mense vertel:

Ander weer, lees die Bybel met ‘n kritiese oog. Hulle het mondig geword, sê hulle. En as mondige mense kan hulle die Bybel herken in al sy gebreke. As hulle baie krities is, vind hulle op teenstrydighede en kruhede  daarin. Kaïn wat vir Abel doodslaan, Noag wat dronk is, Petrus die verraaier, Paulus die vervolger. Hulle lees die Bybel om argumente te kry waarom hulle nie die Bybel moet lees nie. Hulle gebruik die Bybel om te bewys waarom ‘n mens nie ‘n gelowige kan wees nie. Hulle sien in die Bybel net onderdrukking raak: vroue word uitgebuit. Slawe word aangehou. Mense word gestenig. Armes word gemanipuleer en uitgebuit.

Nog ander mense, ongelowiges, lees die Bybel om meer van die geskiedenis van die Christendom te leer. Dit is vir hulle ‘n belangrike godsdienstige boek wat ‘n mens help om die Westerse samelewing te verstaan. Jy kan allerhande inligting ontdek wat jou help om te verstaan hoekom mense vir eeue lank op ‘n sekere manier opgetree het.

Nog ander mense sal die Bybel lees om te begryp hoe werk mense se koppe as dit oor godsdiens gaan. Of hulle sal die Bybel lees omdat daar sulke mooi gedeeltes in is, of beroemde verhale. Dit is vir hulle ‘n boek wat vertel van die groot hoogtes wat mense kan bereik.

Ander mense weer lees die Bybel heel geleerd as ‘n boek wat mense se geestelike denke oor God uitspel. Dit is ‘n boek soos alle ander boeke, met die verskil dat dit veral oor godsdienstige sake gaan.

3.  Derdens is die Bybel dit wat alles verander.

Tussen die twee verskillende posisies is daar sommige mense wat die Bybel lees in terme van ‘n verhouding met God. Die Bybel gaan oor God, maar in die Bybel fokus dit veral op die verhouding wat God met mense het. Maar, voeg hulle by, die Bybel is ook ‘n menslike boek waarin mense nadink oor hul verhouding met God. Die Bybel is dus nie ‘n boek vol feite nie, of ‘n boek wat ‘n mens mooi wil laat leef nie, of ‘n boek wat insig gee in kulturele gebruike van lank terug nie. Dit is nie ‘n boek wat so mooi is of wat so bonatuurlik is nie. Die Bybel vertel van God en mens wat met mekaar in ‘n verhouding staan. Dit is ‘n boek wat ‘n verskil maak.

Dit is een ding om ‘n mens te bekyk as iemand wat belangrik is. Of om iemand te sien in die lig van sy verlede. Of om iemand te probeer verstaan as ‘n godsdienstige mens. Of om iemand te beskryf as ‘n goeie persoon. Die ryk jongman het by Jesus raad gevra. Die Fariseërs het vir Jesus besoek en uitgeluister. Die dissipels het lang reise met hom afgelê.

Dit is iets heeltemal anders om met iemand in ‘n verhouding te staan.

‘n Mens kan baie dinge oor God sê. Jy kan God bewonder, of prys vir baie dinge wat mense oor God sê, of oor God getuig.  Job se vriende, die dissipels in die tuin van Getsemane, Paulus op pad na Damaskus het almal die Bybel geken en baie van God geweet.

Dit is iets anders om met God in ‘n verhouding te staan.

Die Bybel wil nie van God praat nie, of oor God nie. Ook nie van mense of oor mense nie. Die Bybel is ‘n boek wat vir mense intrek in die verhouding met God wat die wêreld totaal verander.  

Die Bybel is die plek waar ‘n mens lees watter verhouding God aangeknoop het met mense. En as jy die plek herken het, word die Bybel ‘n magneet wat jou in daardie plek wil intrek. Die Bybel is nie ‘n stuk informasie of ‘n interessante stukkie kultuur nie. Dit wil nie ‘n mens laat goed voel of beïndruk nie. Die Bybel wil, soos Schneiders dit beskryf, veral en in die eerste plek bemiddel: dit wil God en gelowiges bymekaar uitbring deur te vertel hoe God en gelowiges telkens in alle tye bymekaar uitgebring is.

Die Bybel gaan oor God. Maar dit gaan ook oor mense. Dit is ‘n goddelike boek, maar dit is ook ‘n menslike boek. In die bladsye van die Bybel herken ons die gesig van God. Maar ons sien ook op elke bladsy gesigte van mense. Dit is ‘n onfeilbare boek. Maar ons lees daarin baie feilbare dinge: ons lees van Jesus wat op ‘n goddelike wys sy taak volbring, maar ook van Judas en Petrus se verraad, van Paulus se geraas en gedreig, maar ook van Paulus se onselfsugtige bediening en sy onverskrokke verdediging van die evangelie.

Ons lees die Bybel met ons brein: ons herken al die moeilike, menslike, feilbare, gewone dinge daarin. Ons herken al die spesiale oomblikke daarin, die oomblikke waarin mense totaal verander en vernuwe word. Ons lees die Bybel ook met ons hart: dit raak ons aan, roer ons, beweeg ons. Dit is vol inhoud, vol feite, vol kennis. Maar dit is ook vol passie, ervaring, meelewing en transformasie.

Ons lees die Bybel krities, versigtig, om te verstaan, om te besef wat aangaan, om goed ingelig te wees. Ons oë is wyd oop om al die probleme raak te lees en te herken. Maar ons lees die Bybel ook gelowig, met ‘n oop, ontvanklike hart. Ons lees die Bybel gehoorsaam, gewillig om geleer en verander te word.  Die Bybel as geloofsboek wil ons lees om in geloof te groei.

Wat werklik saak maak, uiteindelik, is wanneer ons verstand en ons hart geraak word deur die geloofsgetuienis van baie feilbare mense oor eeue heen, sodat ons ingetrek word in ‘n verhouding met God.

Keer op keer, weer, dag na dag, tel ons hierdie Boek/boek op. Dit is die enigste boek, bely ons, met ‘n gepriviligeerde plek in ons lewens. Dit het voorrang, dit vra om gelees en herlees te word. Dit is geïnspireer, sê ons. Met al sy beperkinge, bly dit ‘n boek wat geen perke in ons geloofslewe het nie. Dit trek ons in in ‘n steeds dieper wordende verhouding met God wat ons daagliks vernuwe en anders maak.

Hoe arm is mense wat die Bybel as ‘n stukkie geskiedenis, objektief, bekyk. Wat dit as ‘n menslike boek, vol menslike ervaringe ondersoek. Wat dit as ‘n interessante stukkie kultuurgeskiedenis bedink. Hulle mis die verborge rykdom wat agter al die bloed en sweet van die geloofshelde in die Skrif skuil. Hulle lees verby die Verborge geheimenis wat woon in mense-woorde en mense-vertellinge. En hulle leef verby dít wat werklik saak maak: om te deel in God se verhouding met mense.

Hulle lees eintlik nie die Bybel nie. Hulle lees maar net nog ‘n boek....

Alles hang af, alles hang inderdaad af, met watter perspektief en om watter rede ons die Bybel oopmaak wanneer ons dit wil lees.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive