Monday, August 23, 2010

Patmos: Wanneer God ons barre ruimte heilig. Bybelstudie oor Openbaring (10).

Ek, Johannes, was op die eiland wat Patmos genoem word, ter wille van die Woord van God en om die getuienis van Jesus Christus. Ek was in die Gees op die dag van die Here” Openbaring 1:9-10.
 


Patmos, naby die moderne Turkye, het deur die boek Openbaring ‘n besondere betekenis gekry. Dit is, vir baie, ‘n plek van straf, verbanning en veroordeling, 'n plek sonder die Here.  

Oor Patmos is groot, treurige dinge geskryf. Sommige beweer dat dit ‘n plek was waarheen politieke teenstanders van die Romeine verban is. Hulle het hul besittings en hul burgerregte verloor. Dit sou ook Johannes se lot gewees het.

Maar, het een van die bekende uitleggers van Openbaring, Sir William Ramsay geskryf, slegs ryk en bekende mense is op die manier gestraf. Johannes se lot was eintlik erger. Patmos was ‘n strafkolonie, soos Robbeneiland, waar Johannes, soos ander gevangenes op daardie eiland, deur harde arbeid in die gruisgate moes werk. Patmos was dus 'n baie treurige plek van hardepad en lyding.

Maar nog ander het gesê dat Christene nie deur die Romeine so behandel is nie en dat ons vandag geen dokumente het wat bewys dat Patmos ‘n strafkolonie was nie. Eers baie later is Christene in wydverspreide vervolginge deur die Romeinse owerhede doodgemaak. 

Ons het, skryf hulle, geen bewys dat daar in die tyd van Openbaring ‘n grootskaalse amptelike vervolging van Christene deur die staat was nie. Johannes, beweer hierdie groep van interpreteerders, is eerder Patmos toe vir sendingwerk – om die woord van die Here te verkondig:  ek “was” daar, skryf Johannes neutraal, “ter wille van” die Woord van God. Vers 9 kan dus heel “normaal” getuienis-diens betekens. Patmos, beklemtoon hierdie uitleggers verder, was buitendien nie ‘n verlate eiland nie. Dit was ‘n besige plek met ‘n groot getal inwoners.

Op hierdie maniere wissel die interpretasies van Johannes se opmerking dat hy op Patmos was.

Tog moet ‘n mens nie vers 9 te maklik as bloot 'n neutrale opmerking lees nie. Johannes praat tog uitdruklik van die “verdrukking” wat hy saam met ander gelowiges ervaar. En die res van die boek vertel van gelowiges wat ter wille van hul geloof gedood is (Open.6:9). Of die vervolging “amptelik” deur die Romeine was, maak uiteindelik nie soveel saak nie. Vir Johannes het die keuse om Jesus te volg, groot gevolge gehad. Selfs al was Johannes op die eiland om te preek, was sy situasie nie maklik nie. Openbaring vertel duidelik van die uitdagings wat geloof meegebring het.

Toe Johannes daar op Patmos was, was dit dus vir hom nie maklik tye nie.

Maar selfs dit is nie die belangrikste nie. Hierdie vers is aangrypend om ‘n ander rede: Dit interesseer my dat Johannes nie vir homself sit en jammer kry nie. Hy kla nie, Jobsgewyse, oor al sy smart en pyn wat hy daar so alleen op Patmos bitter moet ly nie. 

Hy kyk verby homself. Dit is vir hom belangriker om sy lot te sien as ‘n lot wat hy deel met ander gelowiges en wat die natuurlike uitkoms is van mense wat aan Christus behoort. Hulle volg die Lam “waar Hy ook heengaan” (Open. 14:4). Wie kies vir Christus, ly saam met Christus. Dit is ‘n mens se voorreg.... Hy kyk na sy eie situasie vanuit 'n gesigspunt wat glad nie op homself gerig is nie.

Johannes se situasie op Patmos word geheilig deur die plek en rol wat Jesus in sy lewe speel. Die kerk sal, soos Jesus, skryf hy, nie huiwer om getuienis te lewer nie (Openbaring 11!).  Mense het Jesus gekruisig, daarom sal hulle sy volgelinge ook verwerp.

Tog is dit nie al nie. Johannes kyk wel na homself vanuit 'n geloofsperspektief. Maar hy ervaar ook op 'n boeiende manier iets diepers. Op die dag van die Here, op Sondag, wanneer Christene met dagbreek hul dienste gehou het, waar hulle ook al was, kon Johannes ‘n spesiale oomblik beleef.  

 Dit is die feitlik ondenkbare: Johannes ervaar op Patmos heel merkwaardig: “Hy was in die Gees.”

Waar gelowiges ook al gaan, hoe haglik ook al hul situasie, watter Patmos ook al hul blyplek is, daar is God ook. 

God “heilig” die ruimte waarin ons ons bevind, hoe mistroostig ook al. God se Gees word nie verhinder of besweer deur afstande of omstandighede nie.

Niks kan die gelowige mens skei van God nie. God se Gees bring vir gelowiges die boodskap van troos waar hulle hul ook al bevind.

Wat tel, is nie die omstandighede waarin mense hul bevind nie. Wat tel, is dat God na mense uitreik. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive