Sunday, November 25, 2012

Die gawe om die unieke te herken en te waardeer.

Martin Versfeld se  Philosopher's Cookbook is seker een van die merkwaardigste boeke in ons geskiedenis. Ek lees tans lekker daaraan.

Menigte mense het al vertel hoe die boek hulle betower het.

Ek lees gister die volgende anekdote uit die Hasidiese literatuur daaruit:

Toe Rabbi Noag sy vader, Rabbie Mordegai, opgevolg het, het sy dissipels agtergekom dat hy in sekere opsigte anders as sy vader opgetree het. 

Toe hulle hom daaroor uitgevra het, het hy geantwoord: "Ek doen presies wat my pa gedoen het. Hy het nooit iemand anders nageboots nie. Ek ook nie."

Versfeld, die bekende filosoof wat jare lank aan Universiteit Kaapstad se Filosofie Departement verbonde was, skryf in hierdie boek dikwels oor godsdiens, of, eerder, oor spiritualiteit. Die spirituele punt wat hy hier wil maak is dat niks, hoeveel hulle ook al na mekaar lyk, dieselfde is nie. Eikebome is dieselfde boomsoort, maar nie een van hulle lyk presies soos die ander een nie. Boontjiesop is boontjiesop. Maar nie een pot proe soos die ander een nie. Dit is dom om eendersheid te soek, al gee bekende dinge ons sekerheid. Ons hou immers van patrone, van dinge wat ons kan herken en waarop ons kan staatmaak. In werklikheid word ons egter moeg vir herhaling. Wie wil dan nou elke dag dieselfde kos eet en dieselfde dinge doen? Ons soek mos nie om elke dag eindeloos dieselfde dinge oor en oor te beleef nie.

Te midde van eendersheid, soek ons ook na andersheid, na uniekheid.

Dit is 'n besonder gawe, dus, om die uniekheid in dinge wat op die oog af eenders lyk, raak te sien.Dit bring vreugde.

Hy het 'n boeiende toepassing hiervan. Môre meer daaroor.

Blog Archive