Sunday, November 11, 2012

Te liggies verby lyding. Die hart van die evangelie vir ons tyd.

Lyding is nie 'n gewilde tema by ons nie. 'n Mens neig om dit te vermy. Dit bring donkerte in jou lewe. Dit laat jou dink aan God wat straf. Dit is geneig om jou lewe te bemoeilik, om jou tyd te steel en van jou veel te vra.

Maar tog: Lyding het so ‘n omvang aangeneem dat dit die nadenke oor die identiteit van Christen-wees ingrypend beïnvloed. Dit wil sê: as jy nugter is, as jy goed kyk, as jy met oop oë deur die lewe gaan. Niemand kan met twee voete in ons wêreld staan sonder om te dink wat al die lyding vir hom of haar as gelowige beteken en inhou nie.

'n Mens sou selfs kon sê: Spiritualiteit en die teologie verloën hulself wanneer hulle  lyding onderskat of tot 'n randverskynsel laat verword.  Egte spiritualiteit vra dat 'n mens die volle omvang van lyding sal besef en aanspreek. 

Dit besef ek terwyl ek ‘n boeiende artikel van Eggemeier oor die mistiek van geopende oë en oor ontferming vir ‘n lydende wêreld lees. Die mistiek, die nabyheid aan God, vra van gelowiges om die wêreld en sy lyding voluit in die oë te kyk.

Wat tel, in spiritualiteit en teologie, is immers hoe ons kyk na wat om ons omgaan. Dink maar aan die Barmhartige Samaritaan. Op 'n mistieke manier het hy eenvoudig net wawyd oop oë vir die lyding van die gewonde man wat langs die pad lê.

Ons kan egte kwessies heeltemal miskyk, net soos die priester en leviet. Hulle was spirituele mense wat allerhande vroom gebruike en geestelike oefening gehad het. Maar hulle het nie 'n oop oog en hart vir lyding gehad nie.

En as 'n mens begin nadink, is daar genoeg rede vir ons om in ons tyd terug te skrik van wat om ons omgaan. 

Die Jode-slagting in Duitsland, die moordtogte in Kambodja, Rwanda en in Sirië, die terroristiese aanslae in New York, Irak en die Midde-Ooste met hul tonele van ekstreme geweld het ‘n onuitwisbare stempel op die mensdom gelaat. 

Net so sorgwekkend is dit om te kyk na wat armoede aan mense doen: juis onlangs en tans met die stakings in ons land het mense bewus geraak van die oewerose ellende waarin mense hulle bevind wat nie meer met hul karige inkomste ‘n menswaardige lewe kan lei nie. Hulle is desperaat, desperaat tot geweld toe. Stories van armoede wat mense totaal dehumaniseer, laat 'n mens skrik.

Wie spiritueel wil nadink, kan nie maar ligweg oor lyding verbyloop nie.

As gevolg hiervan het bekende teoloë soos Metz en Sobrino die probleem van lyding as die sentrale tema vir kontemporêre teologie uitgewys.

Sodra ‘n mens sien wat lyding aan mens en wêreld doen, lees ‘n mens die Bybel met nuwe oë. Dit doen Metz en Sobrino. Hulle herlees die Evangelies en, skryf hulle, hulle sien hoe Jesus in die eerste plek op mense se ekstreme lyding fokus. Dit is, byvoorbeeld waarom Jesus praat van die Samaritaan. En waarom hy mense aanraak om hulle te genees van hul swaarkry.

In navolging van Jesus is gelowiges se primêre taak om sensitief te wees vir lyding. Niemand kan meer teologie bedryf, skryf Metz, onbesorgd of onsensitief vir die ekstreme lyding waarin ander mense leef nie.

‘n Mens kan maklik oor versoening praat. ‘n Mens kan groot preke oor sondevergifnis hou. ‘n Mens kan praat oor God wat vergewe.

En terwyl ‘n mens dit doen, kan jy totaal onbewus of onbesorg wees oor die lyding waarin mense in ons wêreld leef. Jy kan groot boodskappe bring oor mense se sonde, oor sondebelydenis en sonde-vergifnis en die evangelie op die manier onbedagd en ondeurdag moraliseer. Priester en leviet wat nie gekontamineer wil word nie.

En dan, langs die pad, lê iemand naby, baie naby aan jou, verwoes deur namelose lyding. Intuïtief weet jy, sê jou hart vir jou duidelik, moet jy, braaf, dapper, uitreik en die wonde verbind en hom versorg. Dit is wat God wil hê. Dit is egte evangelie.

Immers, besef ek terwyl ek nadink oor hierdie verrassende refokus op lyding, is die evangelie per slot van sake, 'n evangelie van die kruis. En die kruis is by uitstek die beliggaming van ekstreme lyding.

Blog Archive