Sunday, November 18, 2012

Verkrag op Goeie Vrydag


Verkragting, sal die meeste mense verstaan, is ‘n uitermate traumatiese ervaring.

Daarom is dit nie ‘n verrassing toe die spiritualiteitsbyeenkoms wat oor trauma handel, vanmiddag ook ‘n referaat daaroor bevat nie.

Maar dit was tog ‘n skok vir sommige mense in die gehoor toe die spreker, ‘n psigo-terapeut, ‘n referaat met ‘n gevalle-studie oor die verkragting van ‘n man aanbied. Dit is iets wat nie inpas in mense se verwysingsraamwerk nie.

Die 28 jarige man, ‘n jeugwerker wat in ‘n arm buurt geestelike werk gedoen het, is een oggend toe hy juis besig was met sy taak, deur twee groot rowers met ‘n pistool aangehou en verkrag.  Dit het hom so getraumatiseer dat hy post-traumatiese stress ontwikkel het.

Die psigoterapeut  bespreek hoe hy daarna deur fase’s gegaan het:

Hy het as ‘n toegewyde kind in ‘n streng huis grootgeword waar sy ouers vir hom alles feil gehad het en vir hom die volmaakte kind wou maak. Daarom  het hy ook nooit eintlik enige geestelike kwessies in sy lewe gehad nie. Hy het aanvaar wat in sy lewe gebeur het, wat dit ook al was. Dit was sy "ou ek" met al die geestelike bagasie wat uit die tyd gekom het.

Maar met sy verkragting het daar ‘n ommekeer gekom. Hy, ‘n gelowige, het na die verkragting geworstel met die probleem dat God so iets kon laat gebeur terwyl hy as jeugwerker juis met God se werk besig was.

Die spreker wat die voordrag gee, raak stil. Aangedaan sê sy: “En, om alles te kroon is hy op Goeie Vrydag verkrag.”

Dit is die trauma waarmee hy verskriklik geworstel het.

Haar referaat handel oor die manier waarop hy die trauma gehanteer het. Deur allerhande terapieë kon sy vir hom ‘n ruimte skep waarbinne hy die kwessie kon aanspreek. En mettertyd het hy ook in homself ‘n woede teen God beleef wat. Sy het hom gevra om, wanneer dit met hom gebeur, tekste uit die Bybel te bedink waarin slagoffers van geweld uitvaar omdat God nie vir hulle red in tye van hul noodnie.

Hoewel hy dit op die manier op ‘n manier kon verwerk, kon hy tog ook nie heeltemal daaroor kom nie.

Op ‘n stadium het die vrou droom-terapie ingespan om hom verder te help: hy het vir haar van sy drome vertel sedert hy met die terapie begin het. In een van die drome, vertel hy, het hy die volle ervaring van die dag waarop hy verkrag is, weer beleef.

Maar, vertel sy, daarna het hy in sy droom opgestaan en die twee manne vermoor wat hom verkrag het. Toe sy hom verder invra, vertel hy dat hy homself ook vermoor het. 

Vir die eerste keer sedert die verkragting het hy nie passief aanvaar wat met hom gebeur het nie. Aktief het hy, in droombeelde, ‘n einde gemaak aan die manier waarop hy as die ou ek die situasie gehanteer het. Hy het sy ou ek vernietig en daarmee ‘n nuwe bestaan geskep. Die “moord” van homself was ‘n aggressiewe aksie wat hom sou bevry om aan te gaan met sy lewe.

Die terapeut vertel hoe verbaas sy was: sy het gedink hy sou, nadat hy die twee skurke van kant gemaak het, nou homself aanvaar en met ontferming oor homself optree. Toe ontdek sy met ‘n skok dat hy homself eerder vernietig. Hy het eerder deur aggressie as deur ontferming teenoor homself die probleem opgelos.

Vir haar beteken die geval dat ‘n mens dikwel in situasies beland waarin aggressie ‘n wesenlike rol in jou genesing speel. Eers nadat hy sy “ou ek” aggressief uit die weg sou ruim, het daar ruimte vir groter genesing en aanvaarding gekom.

Ek luister geboeid na haar en staan verstom oor die lyding wat mense ondergaan.

Maar ek voel ook  onvergenoegd.

Ek probeer my vinger op die pols kry, maar dit is nie maklik nie.

Is dit werklik aggressie wat in terapie nodig is? Is die antwoord op geweld net nog meer geweld – al is dit nie “letterlik”-bedoelde geweld nie?

Is dit nie juis die uitstaande betekenis van Jesus se kruisverhaal dat Jesus die lyding wat hom aangedoen is  deur sy transformatiewe , geweldlose optrede omgebuig het nie? Selfs “figuurlike” geweldstaal het nie ‘n plek op Golgota nie.

Dit alles beteken nie dat 'n mens verkragting moet "aanvaar" of "verdur" nie. Wanneer 'n mens weier om toe te laat dat die dade van ander jou lewe vernietig, moet 'n mens nie soos jou verkragters word nie. Selfs nie eers in jou taal nie en selfs al bedoel jy nie letterlik dit wat jy se nie. 


Blog Archive