Friday, November 02, 2012

Om jouself te vind - in die ander... Oor 'n liefdesgedig.


Dit is lekker om die onderstaande liefdesgedig van I.D. du Plessis te lees sonder om te veel kritiese vrae te vra.

Dit is ‘n liefdesgedig. Tydloos. Roerend. Liries.

Terwyl ek die gedig lees, besef ek tog ook dat dit ‘n mistieke karakter het.

Hoe dan anders? As dit oor die liefde gaan?

Die gedig praat van innige verlange na die ander. Die digter praat intiem, verlangend met die een sonder wie hy nie meer kan bestaan nie. Die gedig is ‘n roep, ‘n uitgestrekte hand na die ander een…

Die digter se belewenis skuif weg van homself en fokus op die geliefde. Die ervaringskern is anders as voorheen. Vroeër kon hy baie ander dinge hoor as hy na wind en water luister. Maar nou, hoor hy in hulle net een ding: die geliefde wat in wind tot hom praat. Alles is ingestel op die geliefde. Hy tob nie oor homself nie, bedink nie sy eie dinge nie. Die kern van sy ervaringswêreld is nou buite hom.

Daar is ekstase – die digter wat homself “oorgee” aan die geliefde en dit gebeur “onvoorwaardelik.” Daar is die heel intense belewenis: die “verheerlik deur my drome.” So mooi, so spesiaal is die geliefde – ‘n mens verloor jou in haar.

Daar is die niks-wees van jouself sonder die ander. So kompleet vind die oorgawe plaas dat dit die digter selfs laat vrees dat die "nietiging", die niks-heid in vergelyking met die grootsheid van die ander, “vernietiging”  sal word. Sy siel, dig hy, het selfs sy krag verloor as hy nie by die geliefde kan wees nie.

Die digter is passief, die geliefde werk direk op hom in: Voorheen het hy hom oorgegee – nou is dit “jy wat tot my fluister, wat aangesweef kom.” Hy het uitgereik, maar nou kom die geliefde na hom. Hy word deur die geliefde geraak. Die geliefde kom in sy innerlike binne.

Daar is eenwording wat kontinu gebeur: die digter vind homself in die geliefde – “slegs in jou” vind ek my.  

Die geliefde se inwoning is duidelik: jy fluister tot my, kom aangesweef. Die geliefde is altyd daar, ‘n ewige teenwoordigheid, ‘n nabye gespreksgenoot. So sterk en blywend is die geliefde teenwoordig, dat die innerlike lewe van die digter ondenkbaar geword het daarsonder.

Daar is ook die vereniging en wedersydsheid met die ander: in die geliefde vind die digter homself weer. Oor en weer vorm hulle ‘n eenheid, vind hulle ‘n rusplek in mekaar.

Ek kyk na die rympatroon: daar is drie groepe van vier strofe’s. Die eerste en derde, tweede en vierde strofe’s rym. Maar in die eerste groep van vier ry, die derde reël gebeur dit nie. Die rym is daar tot niet. Die “vernietiging” waarvan die reël praat kom dus selfs in die vernietigde rympatroon na vore. Die vorm van die gedig sluit op die manier aan by sy inhoud.

En terwyl die eerste twee groepe stomp eindig (met “vir my kan wees” en “sy krag verloor”), is die slotstrofe ‘n sonore: “Kan ek myself weer vind.” Weer is die vorm van die gedig meesleurend, betowerend.

Hoe vervullend, betekenisvol, is die liefde uiteindelik tog.

Sonder die liefde is daar net vernietiging en kragteloosheid. In die liefde vind ons ons egte self. Dis ironies: juis deur jouself vir die ander te gee en in die ander te verloor, kom jy tot jou volle bestemming.
 

Hier is die gedig:

Ek het my aan jou oorgegee
So onvoorwaardelik dat ek soms vrees
Vernietiging is al wat daar uiteindelik
vir my kan wees;
Want voorheen kon ek in die fluistering
Van wind en water ander dinge hoor:
Nou het my siel in stille mymering
Sy krag verloor.
Dis jy wat tot my fluister in die bome
En aangesweef kom op die wind;
En slegs in jou, verheerlik deur my drome,
Kan ek myself weer vind.

Blog Archive