Monday, November 19, 2012

Wanneer ons ons antwoorde nie meer raaksien nie...






In een van die sessies by die reuse-groot konferensie, is daar ‘n gesprek oor spiritualiteit, hoop en die klimaatskrisis.

Die sprekers is almal piepjonk. Ek skat hulle as dertigers in jare.

Maar hul gees is so oud soos die berge, maar veel, veel gedaner. Van hoop is daar nie veel sprake nie.

Ons planeet, vertel hulle, stuur op ‘n ramp en op vernietiging af. Ons kan dit nie meer keer nie. Ons moet deur die katastrofe leef en dan maar net hoop ons kom anderkant uit.

In besprekingstyd, heel aan die einde, staan ‘n vrou op en vra wat is dit dan waarna ons moet uitsien as die “anderkant.”  

Sy wil van die sprekers weet waarop hoop ‘n mens dan.

In hul antwoorde laat hulle nie ‘n bloue duit van ‘n toekomsbeeld deurskemer nie. Trouens, ‘n mens kry die indruk dat hulle deur die vraag ‘n bietjie uit die veld geslaan is. Dit is ook duidelik dat tradisionele taal, beide van die kerk en teologie, vir hulle nie meer werk nie en doelbewus aangepas moet word en vervang word deur ander taal wat meer gerig is op gemeenskaplikheid op verhoudinge.

Ek begryp hulle, ook in hul neerslagtigheid, hoop ek. Hulle het immers aan die voete gesit van ‘n geslag van teoloë wat hoë, geleerde sisteme uitgewerk het terwyl die wêreld om ons aan die vergaan is. Die teologie kon nie saampraat oor die ramp nie. Daar was nie transformatiewe krag in die teologie nie. 

En hulle opmerkings laat my dink aan ‘n onlangse skrywe van een van die land se bekende jong kunstenaars in ‘n brosjure waarin sy nuwe uitstalling bespreek word.

Hy skryf dat sy skilderye geïnspireer is deur Deadbolt. Dit is ‘n band wat hulle self beskryf as die skrikwekkendste band in die wêreld. Hulle lirieke is deurtrek met geweld. Hulle gebruik tydens hulle uitvoerings masjiene wat onder andere die gehoor met vonke bestook.





Dit is die volgende paragraaf waarin Botes sy werk beskryf wat my nou al weke lank bybly: hy skyf dat hy deur sy skilderye die werklikheid van die moderne bestaan beskryf. Dit is vir hom nie ‘n mooi saak nie.

Die mens bestaan in ‘n afgeremde, verarmde droomagtigheid of droom-wêreld.

Dit is ‘n bestaan wat die meeste mense op ‘n daaglikse basis beleef asof dit ‘n kruis tussen ‘n sepie en ‘n gru-film is.

Die verbruiker is soos ‘n zombie, ‘n lewende lyk, wat leef in die skadu’s. Hul bestaan word in beslag geneem deur die najaag van illusies van geluk deur onversadigbare en brein-lose konsumpsie.

Maar gedurig en onvermydelik bly hy of sy onvervuld en ontevrede. Hoe meer mense koop en verteer, hoe minder geluk vind hy.

Hy beeld met sy skilderye allegorieë uit. Hulle vertel hoe ‘n donker mag skynbaar ons gedagtes beheer en ons in verlorenheid gedompel het. Die gevolg is nou dat ons deur winkelsentrums dwaal. Ons deurkruis die internet sodat ons aandag afgelei kan word van ons intense onbehae in die lewe.

Botes se skilderye is deurtrek met godsdienstige motiewe. Hy gebruik beelde met n sterk godsdienstige karakter. Deur dit oor en oor uit te beeld, selfs dieselfde beeld te herhaal met ‘n klein verskille, maak hy van hulle gebruiksartikels. Dit is sy manier om godsdiens in die verbruikersmark in te trek.

Dit is nie altyd aantreklike beelde nie. Soms is hulle selfs weersingwekkend. Conrad Botes wil dit ook so hê, want dit is waar dat sekere vorme van godsdiens ‘n mens vervreem en selfs kan afstoot.  Sy styl is ook dié van die pop-kultuur. Dit herinner mens so bietjie aan die werk van Andy Warhol.

Maar daar is 'n ander, opvallende kant aan sy skilderye. Terwyl ek daarna kyk, ervaar ek hoe die kleure, maar ook sy vakmanskap my boei. Botes self skryf oor die boeiende effek wat hy raaksien in die gebruik van kleur. Daarom teken hy dieselfde gesig oor en oor in ander kleur, sodat skryf hy, hulle deurtrek is van ‘n psigedeliese intensiteit. Dit, weer, gee aan sy beelde ‘n ikoniese kwaliteit. Hy teken op so 'n manier dat sy skilderye beelde word wat jou vasvang, wat jou in die diepere inneem, wat jou laat vra vir meer, vir mooier.



Botes se werk herinner my ook so bietjie aan die werk van Etienne Leroux wat destyds soveel opspraak verwek het. Sewe dae by die Silbersteins is ‘n werk wat die wêreld, ons wêreld in sy verbystering en verlorenheid teken. Dit is waar ons leef. Dit is die tyd wat ons elke dag in die oë moet kyk en waarvoor ons nie veel hoop het of omgee nie. Dit is die wêreld waaraan ons selfs deelneem, argeloos, asof daar niks verkeerds loop nie.

Om te kan skilder in so ‘n wêreld, is om nog iets te vind om voor te leef.

Miskien is die geheim vir ons hoop te vind in die manier waarop ons oor die wêreld praat: ons kan hom teken in al sy verlorenheid en in al sy slegtheid. Ons kan hom uitbeeld as ‘n doodsdriftige, op pad na selfvernietiging.

Maar ons kan dit ook doen ter wyl ons soms woorde in sagte, intense kleure vind om in ons diskoers in te vleg.

Iewers is daar iemand wat die boosheid kan besweer: iewers is daar nog kleur te vind.

Die donker praat nie die laaste woord nie.

In al die kwaad is daar ook die boeiende: te midde daarvan skep ‘n mens jou eie wêreld waarin jy verby die kwaad heen die lig en die spel van lig kan herken. Om dit te beleef, is om die gevangeneskap van die tronk te ontvlug.

Net, dink ek, so bietjie meer is nodig. Ons tyd, so doodsdriftig, het meer lig, meer spel, meer kleur nodig. Ons moet, al is die tye so donker, maar veral omdat dit tyd so doods is, meer vertel. Ons is so gejaag deur die donker dat ons ons eie antwoorde nie meer herken nie...




Blog Archive