Sunday, November 04, 2012

Om jou liggaam weg te gee. 'n Uitsonderlike daad van heiligheid...


Is dit altruïsme, of is dit ‘n vorm van masogisme? Dit is die vrae wat sommige mense vra wanneer hulle hoor dat ander hulle organe vir siek mense skenk.

In haar artikel in Spiritus oor orgaan-oorplantings en spiritualiteit, skryf Barbara Newman oor al die implikasies van sulke skenkings vir mense wat dit ontvang en wat dit gee. Ek lees die artikel eers met verbasing, en toe, al hoe meer, met geboeidheid oor ‘n onderwerp waaraan ek nie regtig voorheen aandag gegee het nie.

Daar sit iets aangrypends onselfsugtig in orgaan-skenkings. Tog is dit nie ‘n eenvoudige saak nie.

Enige een kan dit verstaan wanneer ‘n mens ‘n nier vir ‘n familielid of goeie vriend wil skenk. Dit is egter moeiliker om te verstaan as ‘n mens ‘n orgaan vir ‘n wildvreemde persoon wil skenk.

Des te meer omdat ‘n ontvanger gedurig bewus is daarvan dat hy of sy ‘n deel van ‘n ander persoon se liggaam dra. Dit is bekend dat sekere mense selfs sielkundige probleme hieroor ontwikkel.

Sy haal ‘n verhaal uit die New Yorker aan van ‘n Metodiste predikant wat ‘n bediening onder die armes gehad het en wat gehoor het dat ‘n siek persoon dringend ‘n nier nodig gehad het. Sy het dadelik aangebied om een van haar niere te skenk.

Die vrou het dit nie maklik gehad nie. Sy het nie veel besit nie. Boonop het sy twee weeskinders aangeneem en daarna ‘n baie moeilike tyd met vele ontberings in ‘n sendingveld gehad.

Die oggend met die operasie het sy vroeg en stilletjies uit die bed gekruip en hospitaal toe gery. Sy wou nie haar man wakker maak nie, want, het sy gesê, hy het ‘n moeilike dag agter die rug gehad en was moeg. 

Sy het nooit die man wat haar nier ontvang het, ontmoet nie. Hy het ook nie vir haar probeer opsoek nie. Sy het na die operasie ook nie pynpille gedrink nie en was ‘n week later weer terug by haar werk.

Sy het, anders as ander skenkers, nie vir ander mense gewaarsku dat slegs sekere mense organe kan skenk nie. “Waarom sal jy nie skenk nie,” het sy opgemerk, “probeer dit. Ons kan meer doen as wat ons dink. As jy ‘n nier het wat goed werk, maar jy het dit nie nodig nie, waarom kan iemand anders dit nie kry nie? My aarde, ek het verkoues gehad wat my slegter laat voel het.”

Agter sulke onbaatsugtige aksies, skryf Newman, herken ‘n mens ‘n baie ou geestelike patroon: dit gaan om opoffering, om mededeelsaamheid, gemeenskaplikheid, ‘n innerlike geestelike eenheid met ander.

Tog, voeg sy by, moet ‘n mens nie die probleme onderskat nie. Om iemand anders se orgaan in jou liggaam om te dra, stel hoë eise. Dit raak aan die mees basiese dimensies van jou mens-wees. Jy is op ‘n intieme manier aan iemand anders gebind – en dit terwyl dit so diep in ‘n mens ingebed is om jou eie persoon te wees, onderskei van ander. Terselfdertyd worstel ‘n mens met die wete dat jy, die lewende, die orgaan van ‘n dooie persoon in jou omdra.

Ook die skenker loop met ‘n merk: hul liggaam dra die letsels van ‘n operasie. Of hulle weet dat die organe van ‘n geliefde leef in iemand ander se liggaam.

Diep, diep is die implikasies van ‘n orgaanskenking. Newman skryf: ons moet besef, dit bly iewers ‘n heilige handeling – nie net vir die skenker nie, maar ook vir die ontvanger.



  

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive