Wednesday, November 07, 2012

Wanneer 'n mens se liggaam gebreek word. Oor vas.


Jesus het in die bergrede vir sy dissipels aangesê om te vas – maar om dit te doen sonder om ‘n openbare vertoon daarvan te maak (Mt.6:16-18). Al wat nodig is, is dat die Vader die een wat vas, moet sien. “Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” 

Wanneer ‘n mens vas, is dit nie iets wat aan ander “afgewys” moet word nie. Vas is dus nie ‘n saak wat ‘n mens as ‘n prestasie uitstal nie. Dit word nie gedoen om deur ander gesien te word nie.

Vas het dus te doen met ‘n mens se eie geestelike vorming. Dit is self-gerig, na binne gekeer.

Maar dit is lank nie selfsugtig nie of self-gesentreerd nie.

Vas het te doen, volgens Matteus, met ‘n mens se verhouding met God: dit is iets wat ‘n mens doen om vir God te wys. Vas gebeur in die verborgene, weg van alles en almal terwyl die hart na Bo beur.

‘n Mens vas om God te sien en deur God gesien te word. Daarom is gebed en vas nou aan mekaar verbonde. Of mymering oor die Woord van God.  Deur vas word hierdie verhouding versterk en verdiep.

Vandaar dat dinge wat op  hierdie verhouding inbreuk kan maak, opsy geskuif word. Alles waarop ‘n mens altyd so vinnig wil vertrou, word geweeg en, waar nodig, opgegee. Alles wat altyd raserig jou aandag opeis – selfs daardie broodjie, die koppie tee – alles word vir die oomblik eenkant gesit.

Daarom skep ‘n mens deur vas in jou innerlike ‘n ruimte vir die binnekoms van God sodat God meer kan word…

Behalwe dat dit ‘n saak vir die verborgene is, vir die stilte, vir afsondering om die hart na Bo te rig, is vas ook ‘n doodgewone saak. Vas beteken maar net dat ‘n mens minder eet. Dit is die onthouding van voedsel.

Deur hierdie eenvoudige aksie, word ons gewone lewe nietemin, paradoksaal, juis ‘n sakramentagtige handeling. Hierdie keer eet ‘n mens nie die brood nie. Maar onthou ‘n mens juis daarvan. En in die onthouding, vind daar wyding plaas. Jou liggaam, leer jy biddend, is God s’n en God s’n alleen. Jou liggaam, voel jy akuut, word vir God gebreek, om sodoende plek te skep waar God kan woon in Verborge Teenwoordigheid, as ‘n mens se enigste troos in lewe en sterwe.

Blog Archive