Tuesday, November 13, 2012

Lyding laat 'n mens geen keuse nie. Oor spontane spiritualiteit

Spiritualiteit gaan om dit wat die allerbelangrikste in die lewe is. 

Die Priester en die Leviet in die Gelykenis van die Barmhartige Samaritaan was gelowige mense wat hulle lewens aan die Here gewy het. Daar was goeie redes waarom hulle ‘n wye draai verby die gewonde man gestap het.

Die gelykenis is baie spesifiek: die Priester en die Leviet het die wye draai om die gewonde man geloop toe hulle hom “gesien” het (Luk. 10: 31 en 32).

Sienende blind. Hulle het belangrike dinge gehad om te doen.

Hulle was toegewyde mense wat belangrike diens in die tempel gelewer het. In hulle tyd het mense hulle daarvoor gerespekteer. 

In die proses het hulle die allerbelangrikste van dinge misgekyk.

Die Samaritaan het wel raakgesien wat regtig saak maak. Hy was geen geestelike nie, ook nie ‘n teoloog nie. Hy het doodgewoon die gewonde man kaal en halfdood langs die pad “sien” lê (Lk. 10:30). Hy het gesien dat die man skaars asemhaal, dat bloed uit sy wonde stroom en dat hy hulpeloos langs die pad lê.

Daar staan ook duidelik: hy het op die gewonde man “afgekom” en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.

Die Samaritaan huiwer nie. Die swaar lyding van die gewonde man roer hom. Sy innerlike bestaan word omgekeer deur wat hy ervaar. 

Die halfdood, kaal mens op die gevaarlike pad van rowers word vir die Samaritaan die allerbelangrikste saak in die wêreld. Hy kan aan niks anders dink nie. Sy gevoelens oorweldig hom. Onmiddellik, sonder om te huiwer, kom alles in hom in beroering. Hy het verstaan: hierdie gewonde man het my nodig.

Hy huiwer nie. Hy weeg nie eers netjies af wat hom te doen staan nie. Hy kyk nie rond of die rowers nog in die omtrek is nie. Hy let nie op of dit ‘n Joodse man is nie. Hy dink nie daaraan dat die man hom dalk in ‘n lokval lei of dalk sy vyand is nie.

Hy gaan dadelik na die man om hom te help. Hy voel verantwoordelik vir hom, skryf Eggemeier, as hy praat oor Metz se perspektief op die Evangelie van lyding. 

Dink net: 'n mens ontferm jou, bloot net omdat jy iemand anders sien ly. Dit is egte spiritualiteit.

Blog Archive