Saturday, November 03, 2012

Die verlore hart en die hart van lig. Oor die gee van jou hart aan ander...


Een van die beroemdste verhale oor Katariena van Siena gaan oor die bekende destydse gebruik van “harte-omruiling.”

Sy het in 1370 ‘n besondere ervaring gehad toe sy die woorde van Psalm 50 (Skep in my ‘n rein hart, o God) aan die bid was.

Op ‘n gegewe moment het sy ‘n visioen gehad waarin Christus aan haar verskyn, haar linkersy oopgemaak het en haar hart uitgehaal het.

Sy het dit so sterk en werklik aangevoel dat sy vir haar geestelike begeleier vertel het dat sy geen hart meer in haar oor het nie. Hy het hieroor gelag, want, het hy geantwoord, niemand kan sonder ‘n hart leef nie.

Maar sy het bly sê dat haar liggaam leeg sonder haar hart was.

‘n Paar dae later, na ‘n mistieke ervaring in ‘n kerk in Siena, ervaar sy, op pad huis toe, hoedat die Here na haar kom terwyl ‘n helder lig oor haar skyn, met ‘n helderrooi hart in sy hand. Hy het die hart deur die opening aan haar linkersy in haar liggaam geplaas.

So werklik was die ervaring dat sommige van haar tydgenote vertel het dat hulle die merk aan haar sy gesien het.

Katariena het dikwels daarna opgemerk dat sy nie haar hart aan Christus kan gee nie, want hy het dit reeds besit.

Hierdie verhaal was nie uniek nie en is ook nie verbasend nie. In die Middeleeue kom dit dikwels in lewenverhale van vroue wat as heiliges beskou is, voor. 

Dit was ‘n godsdienstige manier van praat wat ook in nie-godsdienstige verhale gevind is. Chaucer se verhaal, Troilus en Criseyde, vertel van die heldin wat in ‘n droom ervaar hoedat ‘n arend haar hart met sy kloue uithaal en dit met haar geliefde se hart vervang.

Dit was die manier waarop mense in die Middeleeue uitdrukking kon gee aan die liefde tussen twee partye.

Die verhaal van Katariena, wat so buitengewoon invloedryk was en selfs aan pouse kon voorskryf, is ook ‘n simboliese vertelling van wedersydse liefde.

Mens kan daaroor jou wenkbroue oplig. Jy kan sinies daaroor wees. ‘n Mens kan ook vir jouself ver distansieer van sulke ekstatiese oomblikke.

Maar, as ‘n mens die boom aan sy vrugte ken, kry ‘n mens ‘n ander perspektief op hierdie omruiling van harte.

Of soos Waaijman sê: die mistieke ervaring het steeds weer ‘n bepaalde uitwerking waaraan ‘n mens die aard daarvan kan beoordeel.

Sy self skryf oor die vrug, die gevolge van die mistieke ervaring:

“Kan u sien,” sê sy vir haar geestelike begeleier, “dat ek nie meer dieselfde persoon is nie, maar ‘n totale metamorfose ondergaan het. Daar is soveel vreugde en lof wat my siel oorweldig het. ‘n Intense vuur brand in my. Dit is so intens dat ‘n gewone vlam soos ‘n koue, doodse ding voel. Die vuur brand in my en gee aan my innerlike self nuwe lewe. Ek voel so skoon en gering asof ek ‘n kind van ‘n jaar of vier, vyf is. Dit bring in my ‘n grenslose liefde vir ander – soveel so dat ek selfs bereid is om met vreugde en blydskap te sterf vir ander.”

Die uitruil van harte, wat Katariena so werklik ervaar het, was die bron van inspirasie vir haar geestelike werk. So sterk is die liefde van Christus in haar ingeplant dat sy bereid was om, soos Hy, alles vir ander te gee.

Hoe anders haar mistieke ervaring ook al was, kan ‘n mens aan die uitwerking daarvan veel van die Bybel herken. Self-prysgawe was immers die hart van Jesus se woorde en werk.

Blog Archive