Monday, November 26, 2012

Om in Christus te glo, om anders as Christus te wees. Oor God se transformasie


‘n Mens kan nie elke dag dieselfde soort kos eet nie. Gou-gou word dit afgesaag en smaak dit sommer sleg.

Dit is, skryf Versfeld, dieselfde ding met koerante. Ons lees graag dieselfde koerant elke dag. Maar as die koerant elke dag dieselfde nuus oor en oor sou herhaal, sou dit spoedig geen lesers oorhê nie.

Dus: ons wil dieselfde patroon volg. Elke dag is vele van ons geswore koerantlesers wat die nuus van die dag volg. Maar ons wil terselfdertyd “nuus” hê. Die koerant moet “nuwe” gebeure beskryf. Daar moet variasie, onbekendheid, uniekheid wees.

Hierin is ‘n lewensles te vind. Godsdienstige mense wil oor geestelike dinge lees. Hulle vind vastigheid en sekerheid in dinge wat oor die groter, belangriker sake gaan.

Maar steeds weer is dit belangrik om nuut oor hierdie vastighede te praat. Dit kry ons reeds in Bybelse tye. Die kerk het oor Jesus gepraat, herhaaldelik. Maar steeds weer is daar nuwe dinge oor Jesus vertel of is nuwe implikasies van die Evangelie uitgespel. Vandaar dat daar ten minste vier evangelies was. En Paulus het vele briewe aan sy gemeentes, gelowiges in die familie van God geskryf. Elkeen met sy eie beklemtoninge van wat die Evangelie beteken.

God, voeg Versfeld by, is ewig. Maar God is nie staties nie. God se teenwoordigheid bring steeds weer nuwe dinge: profeet na profeet, apostel na apostel verstaan dinge nuut en vars. Kyk maar hoe Handelinge vertel van die nuwe dinge wat God doen – die wonders en tekens.

Toe God die skepping na die beeld van God geskape het, was hulle nie almal dieselfde nie. Hulle was almal anders en verskillend van mekaar – en tog is hulle die spieelbeeld van God.

Om Christus na te volg, moet ‘n mens dus anders as Christus wees. As die wêreld vol mense is wat presies soos Christus lyk, skryf Verfeld toegespits, sal dit maar ‘n hellerige plek wees. Dit is juis die probleem met kits-godsdiens, met “ingelegde” godsdiens wat so op groot skaal vir die massa’s aangebied word, dat dit so smaakloos en vaal is. Niks vars, niks nuuts, niks waagmoed nie. Dit klou vas aan ou patrone en maak mense onkrities - slawe van die feilbare denke van vorige geslagte.

Dit het Christus ook duidelik belowe: die Gees wat oor mense uitgestort sal word, sal vir hulle nog groter dinge as Christus laat doen (Joh.14:12).

Vasgeanker in Christus, maar steeds weer vernuwend aan die werk. Reformata reformans. Wat ‘n verligting, ‘n vryheid en ‘n oproep tot kreatiwiteit. Steeds weer moet ‘n mens soek om God, die verborge God, die geheimenis van die goddelike liefde, in ‘n mens se lewe te ontdek. Dit kom nie netjies verpak in boksies en in pakketjies nie. Dit moet uit die hart voortkom.

Daar is miljoene gelowiges. Maar God, die Wonderbare Skepper, het hulle nie soos Coke-bottels van die produksie-lyn laat stroom nie. Elkeen dra op ‘n unieke manier die beeld van God. Ons lyk op God, maar o, ons lyk so verskillend. Hoe groot is die werke van hierdie goddelike kunstenaarshand…

Blog Archive