Tuesday, November 27, 2012

Heiligheid wil nie uitgestal word nie. Oor innerlike vervulling

-->
Heiliges soek nie roem of erkenning nie. Hul lewe word nie deur uiterlike dinge opgetooi nie.

Mistici koester hul spesiale ervarings. Meestal hou hulle dit vir hulleself. Dit is vir hulle oorgenoeg dat God hulle lief het en hulle opsoek. Wat saak maak is nie hoe ander beïndruk is of hoe hulle reageer nie. ‘n Mens hoef nie die liefde van God uit te stal nie. ‘n Heilige mens leef eenvoudig vervuld in daardie liefde.

Pascal het nooit oor sy merkwaardige mistieke oomblik gepraat nie. Eers na sy dood het hulle die papiertjie ontdek waarop hy dit neergeskryf het – toegewerk in die soom van sy kleed.

Heilige mense begeer niks. Hulle streef na niks. Hulle wil nie uitstyg bo ander nie.

Hierdie eenvoud is al ‘n teken van hul heiligheid.

Egte heiligheid, skryf Versfeld, bly onontdek, ongerekend.

Wat saak maak is dat ‘n mens op enige plek, by enige mens en in enige konteks jouself kan wees. Wat tel is of jy jou lewe sinvol lei, hoe eenvoudig dit ook al is.

‘n Heilige mens is iemand wat voluit leef, van binne uit.

Kyk na al die groot, belangrike mense van vroeër, skryf Thomas in sy Navolging. Hulle is weg. Niemand praat of dink oor hulle nie. Hulle is vergete. Hulle gedagtenis het vergaan. Roem vergaan.

Wat eerder tel is om elke oomblik, te midde van verganklikheid, vervuld te lewe.

Blog Archive