Friday, November 09, 2012

Geloof is om raak te sien dat ons lewensverhaal eintlik God se storie is.

Gedurig vra ‘n mens die dieper vraag oor wie jy eintlik is en waarheen jy met jou lewe op pad is.

Die antwoord hierop kan op verskillende manier bedink word. Wie jy is, hang ten nouste saam die verhouding wat jy met jouself het, wat vir jou belangrik is en wat vir jou sin uitmaak. Ons vertel hierdie dinge in verhale oor wie ons is. Ons praat oor waar ons werk en woon, ons vertel wat ons graag doen en nie doen nie. Ons verduidelik wat ons in ons omgewing en werk insit en belê. Daardeur onthul ons ons identiteit – wie ons werklik is en hoe ons onsself sien.  

Ons leef ook nou en intiem saam met ander mense. Hulle lewens raak ons en gee sin aan ons bestaan. Ons praat dikwels oor hoe ons omgee vir ander, wat ons vir hulle doen en hoe hulle welsyn vir ons belangrik is. Ook hierin gee ‘n mens iets van jou identiteit weg.

Maar dan leef ons ook in ‘n verhouding met God en hierdie verhouding gee verder aan ons lewens sin en betekenis. Ons vertel hoe God in ons lewe teenwoordig is, hoe God ons lewens verander en hoe ons in God berusting, hoop en inspirasie vind.

Ons verhouding met onsself, met ander en met God word die inhoud van al die stories wat ons vertel oor wie ons is. Mense praat graag oor al hierdie dinge soos dit in die verlede ervaar is, soos dit in die hede aan die gebeur is en soos hulle dit in die toekoms sien gebeur. Deur hulle stories op die manier te vertel, word hulle lewens ‘n netjiese eenheid en ‘n sinvolle geheel.

Hoe ons oor onsself praat, vertel iets van hoe ons onsself sien en watter identiteit ons aan onsself toeken.

Op die oog af, lyk alles so eenvoudig. In ons lewensverhale is ons aan die woord. Gedurigdeur dink en praat ons “stories.” Ons gee sin aan wie ons is, wie saam met ons reis en wie God vir ons is deur al die verhale wat ons vertel.

En dan ontdek ons, as ons goed oplet, in ons stories ‘n Verborgenheid. Ons dink nog dit is die storie van ons lewe wat ons vertel. Maar dan hoor en begin besef ons dat dit eintlik God se storie is. Ons weet eintlik nie mooi hoe alles gekom het tot die punt waar ons is nie en waar ons storie gaan eindig nie. Ons dink nog een oomblik ons weet wie ons is en waarheen ons op pad is, maar skielik word dinge omgegooi en is ons op ‘n totaal nuwe, ander pad as wat ons voorsien het.

Gedurigdeur moet ons ons lewensverhaal aanpas en oorvertel. Want daar gebeur dinge met ons. Dit, sien ons in, gaan nie meer om dinge wat “ons” doen of laat gebeur nie. Dit is nie meer ons storie wat ons vertel nie. Dit word ‘n storie oor wat God met ons doen.

Soms sal ons sê: wie het nou ooit gedink dat ek vandag hier sal wees en sal doen wat ek nou doen nie. Soos Paulus, na Damaskus. Sy lewensverhaal het ‘n radikale breuk ervaar. Maar wat hom in die duisternis gedompel het, was niks anders as God se werk nie. Ons vertel die storie, ja. Dit is ons storie, beslis. Maar dieper, dieper, is dit eintlik God wat doen.

Ons kan die storie vertel, maar ons kan nie die storie beheer nie. Om elke hoek en draai kan ons lewensverhaal radikaal verander. God wag op ons, in onvoorsiene en onbekende plekke en en op verrassende nuwe maniere loop God met ons ‘n pad. Wanneer ons dus praat oor ons lewe, praat ons oor transformasie. Ons praat oor die Verborgenheid wat gedurig nuut oor ons pad kom en ons buite ons gemaksone neem. Dan word ons in ‘n groter avontuur opgeneem. God neem ons waar ons nooit gedink het ons sal wees nie. 

Wat ewig bly, is hierdie Verborge ingryping in ons lewens. Altyd weer moet ons daarom vra: waar is God, waar is die dieper sin in wat in my lewe aan die gebeur is? Dit is soms pynlik, soms swaar om te moet worstel om te verstaan wat die sin van die lewe is. Die sekerheid is egter dat God, die Verborgene, transformatief aan die werk is.

Dit is waarom geloof gaan: om die onverwagte wendinge in ‘n mens se lewe met vertroue tegemoet te gaan, wetende dat God steeds weer teenwoordig is.

Geloof is om raak te sien dat ons lewensverhaal eintlik God se storie is.

Blog Archive