Saturday, November 17, 2012

Om sommer so die wrok agter te laat...


Ons sukkel om vervoer terug na ons hotel te kry. Dis laataand, ons is op die rand van die stad en die buurt is verlate.

Dis herwaarts en derwaarts. Maar oral is almal vriendelik. Ons is geholpe.

Uiteindelik is ons in die taxi. Drie van ons wat die aand se uitstekende besprekings bygewoon het, deel die koste. Dit help om jou begroting binne perke te hou.

Die bestuurder  raak gesellig toe hy hoor watter konferensie ons bywoon. Hy het allerhande stories om te vertel. Op die manier vind ons uit dat hy ‘n enkelpa van twee kinders is.

Maar dit is ons reisgenoot wat die geselskap oorneem. Al die stories  van die enkelpa – taxi-bestuurder juig sy met yerige entoesisame toe. Hy vertel hoe baie hy in die Bybel belangstel en hoe graag hy Israel toe wil gaan.

 Sharon vertel hom dat hy nie vir ‘n oomblik moet twyfel nie. Hy moet definitief gaan. En hy moet sien wat sy ook sien toe sy die afgelope paar jaar daar was. Maar dan moet hy Palestina toe gaan.

Daar sal hy sien hoe mense binne een geslag kan verander.  

Die Palestyne van die eerste geslag mense wat uit Israel uitgesit is, is vandag nog verbitter. Hulle is getraumatiseerde mense wat nie kan vergeet waarvandaan hulle kom nie en wat nie die hardvogtigheid van die Israeli’s uit hulle sisteem kry nie. Hulle mis hul vroeëre blyplekke, sluk nog swaar aan die onmenslike omstandighede waaronder hulle hervestig is en loop met ‘n wrok in hulle rond.

Die stertkant van haar verhaal bly hang aan my hart. Die kinders van hierdie eerste geslag hervestigdes wil niks weet van hulle ouers se bitterheid en wrokkigheid nie. Hulle het nie die trauma van die hervestiging gedeel nie. In hulle gemoed leef niks van die ervarings wat hulle ouers se lewens so ingrypend beinvloed het nie.

Hulle wil net aangaan met hul lewens. Hulle werk en woel om iets te bereik.

Sharon vertel dat sy dikwels in trane was oor die verhale van menslike trauma wat aan haar oorvertel is Maar dan was daar ook die aangrypende ervaring van ‘n nuwe geslag wat nuut wil begin en in die proses heeltemal anders as hulle ouers dink.

Van al die baie gesprekke in vanaand se konferensie oor 20 jaar se studie van spiritualiteit, bly hierdie woorde my by.

Hoe alleen is ‘n mens nie as jou kinders nie jou trauma met jou deel nie.

En tog, hoe bevrydend is dit nie om die verlede te kan agterlaat – so skielik, so sonder rede, so argeloos.

Blog Archive