Sunday, December 10, 2006

Die gebroke riet

N.a.v. Psalm 51:19:

My hart is gebroke, niks werk meer vir my nie. Ek kyk na die son wat helder, geelhelder, op ‘n wonderskone lentedag alles rondom my vrolik in vele, helder, sprankelende kleure baai. Maar dié vreugde, die wonderkleure bly veraf, op ‘n afstand hang, verskrik voor die koue wat oor my hart afgedaal het.

My hart het my verlaat. Ps.40:13.

My gebroke hart is vol dowwe klanke van verval. Ek luister na die stemme van musiek, oor liefde en lewe met beloftes van troos en heling. Maar die soetheid steek in die lug vas, teruggedring voor die rasende gekreun van my sterwende hart. Al die tyd hoor ek, deurdringend, skerper, die nog rinkelende naklank van my hart wat in duisende stukkies breek.

Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel. Ek brul van die gebons in my hart. Ps.38:9.

My gebroke hart woon in die gevangenis van die dowe. Om my en naby aan my is die vriendelike gesigte van hulle wat elke dag met my praat, met my saamleef. Maar ek merk hulle nie op nie. Gedurigdeur klop my hart selfverstrikt en sterwende in my. Ek wil leef met die dieper, wanhoop-wete: my hart is gebroke, dit is stukkend, vir altyd, onherstelbaar.

Platgeslaan soos die plante en verdor is my hart; Psalm 102:5

My hart is gebreek. Goeie gedagtes tel my nie op nie. Soet klanke dryf verby my sonder om my aan te raak. Die nabyheid van die wat by my woon, wat met my praat raak my nie. My hartklop het tot stilstand gekners, dit het yskoud in my geword.

Hoe lank sal ek planne beraam in my siel, met kommer in my hart oordag? Ps.13:3.

My hart is gebreek, ek is stukkend geslaan deur houe van vernietiging. Ingeteël in my selfmarteling, verstom woorde. Gebed syfer weg. Gedagtes syg vertroebeld in die moeras van my oorgawe.

Was my hart maar stukkend geslaan “deur die Here, deur sy heilige woorde”! (Jer.23:9). Ek merk die Here nêrens nie. Ek voel die rou verwerping, die rasperhoue van die kliewende tong. My hart is stukkend geslaan deur here, deur hul genadelose woorde. Die buitenste duisternis van mensetaal het in my kom woon.

O God, is U die Geneesheer van stukkende harte? Heel my hart, hierdie stukkende, gebroke hart van my. Kom, klaar op die duister, hierdie donkerte wat benoud, verstikkend in my kom woon het. Sou U dit tog kon doen? Kan U dit nog doen?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive