Saturday, December 02, 2006

Nouwen, die kerk en spiritualiteit (2)

Nouwen skryf egter oor die kerk een van die aangrypendste stukkies in sy Dagboek – iets waaraan ek dikwels dink.


Die gesag van meelewing

Die kerk maak ons dikwels diep seer.

Mense met geestelike gesag verwond ons dikwels deur hulle woorde, gesindhede en eise. Juis omdat ons godsdiens ons sulke diep vrae laat vra oor kwessies van lewe en dood, kan ons godsdienstige gevoelens so maklik gekwets word.


Predikante besef selde hoe ’n kritiese opmerking, ’n gebaar van verwerping, of ’n daad van ongeduld ’n leeftyd lank onthou word deur hulle teen wie dit gemik was.


Daar is so ’n geweldige honger na sin in ons lewe, na vertroosting en bemoediging, na vergifnis en versoening, na herstel en genesing, dat elkeen met gesag in die kerk gedurig herinner moet word dat “meelewing” en “ontferming” die beste woorde is om godsdienstige gesag mee te definieer.


Laat ons dan ons oë gevestig hou op Jesus, Hy wie se gesag juis die sigbaarste was in sy diepe meelewing met mense.

Liefde wat ons vir mekaar het, word hier ingrypend gekwalifiseer met ontferming. Liefde gaan oor ‘n houding in ons waarin ons ander mense raaksien vir die liefde wat hulle nodig het – ongeag wie hulle is en wat hulle sê. Nouwen se gehoor word hier nogal op ‘n opvallende manier beskryf. Dit is mense wat geweldig honger na
  • sin in die lewe,
  • vertroosting en bemoediging,
  • vergifnis en versoening
  • herstel en genesing.

Mense steek hierdie diep honger weg agter honderde maskers:

  • woede (omdat ek nie kan kry nie...)
  • angs (dat ek nog verder gaan verloor...)
  • klouerigheid (ek wil nie alleen wees nie...)
  • besitlikheid (ek moet iets besit....)
  • afknouerigheid (as jy nie van my hou nie.....)

Ontferming beteken dat die kerk t.s.v. al hierdie simptome wil uitreik na sulke honger mense.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive