Saturday, December 09, 2006

Wag op God! Evangeliese mistiek/spiritualiteit en gebed teenoor demoniese, menslike gebed

Ek lees die volgende aangrypende opmerkings van Paul Althaus:

“Niemand kan die ontmoeting met God self bewerk of dit in iemand anders se lewe bewerk nie. Dit word aan ons deur God alleen geskenk. Openbaring is ‘n gebeurtenis wat ons nie kan beheer nie. Dit is ‘n gebeurtenis wat plaasvind wanneer en waar God dit wil hê. God alleen kan God aan my openbaar... Ek ken God net soos wat God Godself aan my bekend maak.

Openbaring is daarom nie iets wat ek deur my gedagtes of dade kan ontvang of bereik nie. Dit kan nie verstaan of bewerk word nie. Ons kan en ons behoort onsself oop te stel vir die openbaring. Ons fokus op daardie werklikhede wat ons van ander mense ontvang het en wat volgens hulle God se getuienis aan hulle was. Ons fokus ons gedagtes daarop, ons soek na die werklike teenwoordigheid van God, ons soek God. Maar dit gaan nooit bloot net om ‘n saak van nadenke, van innerlike konsentrasie of innerlike besinning nie. Dit is ook nie net maar ‘n kwessie van vrae stel oor God nie. Dit is altyd ‘n kwessie van ‘n mens se optrede, van ‘n hele lewenshouding/lewensistelling: ons soek daarna om van ons kant af die weg oop te maak vir ‘n ontmoeting met God, ons oop te stel, om te “verstaan” soos wat ons dink ons dit verstaan. Ons kan en ons behoort ‘n ontmoeting in hierdie ernstige lig te beskou. Maar ons kan dit nooit op hierdie manier verwerklik nie. En die ontmoeting van God is ook geheel en al nie afhanklik daarvan nie. Dit word geskenk waar God dit wil gee aan hulle wat dit nie verwag nie, maar ook aan hulle wat dit verwag. Geen oefeninge van enige soort, geen geestelike inspanning, geen instelling van ‘n mens se denke, geen metodes (“Hoe kan ons kennis van die dieper dinge verkry?”), geen asketisme of onttrekking, geen “vas” op watter manier ook al, geen soeke of gebed kan dit afdwing nie (hoewel dit sekerlik beloof word dat dit geskenk sal word in antwoord op sulke soekende gebed).

Wanneer God aan my geopenbaar word, sit dit natuurlik my denke, my wil en my dade in beweging. Geloof waardeur ons die openbaring vir ons toeëien, is ons reaksie. Ons kan nie die openbaring toeëien, vashou sonder dat ons daaroor nadink en daaroor mymer/mediteer en sonder om dit prakties te gehoorsaam nie. Maar hierdie geloof word voorafgegaan deur suiwer afwagting – en dit is die primêre grondslag vir ons dade. Openbaring is iets wat alleenlik deur God gedoen word. Ons kan maar net die openbaring ontvang in ‘n passiewe sin van die woord. As ons aktief reageer, volg dit op wat aan ons in die openbaring gegee word. Ek word verstaan, aangeraak, gegryp, aangespreek, geken en ek herken myself as iemand wat hierdie handelinge ondergaan. Alles wat ek weet hang af daarvan dat ek geken word.” (Aangehaal in The Minister’s Prayer Book, xiii-xiv).

Daarom is gebed ‘n reaksie op die Woord van God. As gebed nie ‘n reaksie op God se Woord is nie, is gevaarlik. Daarom, vervolg The Minister’s Prayer Book – in ‘n aanhaling van Daniel Jenkins,

is gebed nie noodwendig altyd ‘n goeie ding nie. Tensy dit, soos dit hoort, gerig is aan die regte Persoon, kan gebed iets demonies word en ontelbare skade aan die mensdom en die wêreld aanrig. Dit kan hoogs gevaarlik wees, die mees subtiele en effektiewe manier om die mens van God se aangesig af te sny. Natuurlike menslike gebed gryp en reik uit na God op die mens se voorwaardes. Dit kan op kru, maar ook op hoogs subtiele maniere die verantwoordelike keuse vir God, die self-toewyding aan God, die volle gelykwording aan die wil van God vermy – iets wat nie in egte gebed sal gebeur nie. Menslike gebed, soos menslike roem en prag en waarheid en alle menslike godsdiens moet eers self verlos word voordat dit ‘n bron van groot seëning kan word. Ons taak is nie om ons gebedslewe te versorg en om spiritualiteit na te jaag nie. Ons taak is om na God se Woord te luister en vir God daarop in gebed te antwoord.


Laat my op U wag, God, totdat U na my uitreik, totdat ek voedsel van U op die regte tyd ontvang - Psalm 104:27; Psalm 130.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive