Sunday, December 10, 2006

Jan van die Kruis 6: die bedreiging van 'n vurige geloof. Oor spiritualiteit en geesdrywery

Hoofstuk 2: Oor ‘n paar onvolmaakthede van die beginners wat betref hoogmoed.

2.1. Hierdie beginners is baie vurig en ywerig in geestelike sake en vroom dade. Dit is waar dat geestelike sake ‘n mens gewoonlik nederig maak. Maar by die beginners ontstaan daar uit die voorspoed dikwels tog ‘n sekere mate van verborge hoogmoed. Hulle raak ‘n bietjie selfvoldaan oor hul dade en oor hulle self. Dit lei daartoe dat hulle ‘n ydele en soms selfs hoogs ydele begeerte het om in ander mense se teenwoordigheid oor geestelike sake te praat. Soms doen hulle dit meer om ander te bepreek as om self te leer. In hulle gebede veroordeel hulle ander mense as hulle agterkom daardie persone nie vroom genoeg na hulle sin leef nie. Soms sê hulle dit sommer openlik. Hulle herinner ‘n mens daarmee aan die fariseër wat God verheerlik deur hom op sy eie werke te beroem en die tollenaar te verag (Luk.18:11-12).

2.2. Dikwels laat die duiwel by hierdie mense die vurigheid en begeerte toeneem om sulke en ander werke te doen sodat hulle hoogmoed en verwaandheid groter word. Die duiwel weet immers baie goed dat al hierdie werke en deugde wat hulle doen, nie net heeltemal nutteloos is nie, maar by hulle eerder verkeerd en ondeugdelik is. Dit gebeur dikwels dat sommige in die kwaad verval dat hulle wens dat niemand so goed sal lyk soos hulle self nie. Wanneer hulle ook al die kans kry, veroordeel hulle ander in woord en daad en smeer hulle swart deur te kyk na die splinter in die oog van hulle broer sonder om die balk in hulle eie oog te sien (Mat.7:3). Hulle sif die muggie en laat die kameel deurval (Mat.23:24).

2.3. Wanneer geestelike leiers hulle gesindheid en optrede soms nie goedkeur nie, dink hulle dat die leiers hulle gesindheid nie verstaan nie. Want hulle soek gretig daarna dat die leiers hul optrede waardeer en prys. Die leiers word dan as minder geesvervuld beskou omdat hulle die optrede van die beginners nie goedkeur en aanvaar nie. Onmiddellik wil hulle dan met iemand anders praat wat meer na hulle sin is en hulle kry sulke mense dan ook in die hande. Want gewoonlik wil hul praat met iemand wat hul weet hul sake sal aanprys en waardeer. En hulle vlug soos vir die dood van mense wat probeer om hulle op die veilige pad te lei deur hierdie gedrag te verhoed – of hulle word soms selfs vyandig teenoor sulke geestelike leiers. Dikwels koester hulle in hul eiewaan allerhande voornemens, maar hulle voer min daarvan uit. Menigmaal wil hulle dat ander mense van hul gesindheid en vroomheid weet met die gevolg dat hulle gereeld dit wys deur allerhande gebare, gekreun en ander seremonies. En soms het hulle selfs sulke ekstatiese vervoeringe – meer dikwels in die openbaar as in hul binnekamer. Dan skep hulle behae daarin as mense daarvan weet. Hulle is dikwels selfs versot hierop.

In hierdie gedeelte word uitgewys hoedat juis ‘n ernstige godsdienssin ‘n mens kan bedreig: dit gaan dan om ‘n verwaande godsdiens wat soek na erkenning. Ander mense moet beïndruk word. Die sleutelwoorde hier is: vurig en ywerig, verborge hoogmoed, selfvoldaan, ydele begeerte, veroordeel ander, hoogmoed en verwaandheid. Selfs mense wat met goeie bedoelings hier wil keer, word dan die slagoffer van die verwaande godsdiensssin. Die vuriges ontwikkel ‘n negatiewe houding teenoor mense wat hulle gesindheid nie goedpraat nie - en is weer eens hierin net so vol eiewaan (minder geesvervuld, vyandig teenoor).

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive