“Kan dit kerkmense wees wat só skryf?”
Die vertelling bly by my – omdat ek dink aan die geloofskrisis van daardie kind. Dit is haar indrukke van mense naby aan haar en haar huis – mense wat in die geloof ‘n kring vorm wat in lewe en leer eerder ‘n getuienis behoort te lewer van besondere bande wat hulle met mekaar het.
Ons het almal negatiewe ervaringe met die kerk. Dit val my op hoeveel kerkmense hulle daarmee besig hou – nog onlangs lees ek Rahner se nadenke oor die onmoontlike onderwerp – die sondigheid van die kerk! Ek onthou toe ek 'n ruk terug Nouwen se Dagboek vertaal het, hoe ek ingetrek is deur wat hy oor die kerk skryf. Hy het ‘n hele paar oordenkings, veral in sy Oktobermaand-stukke oor die kerk. En hy worstel duidelik met die feilbaarheid van die kerk.
Vanoggend hoor ek weer kerknuus soos koue water in my gesig uitgeskiet. Ek kry ‘n wrang en diepe onvergenoegdheid oor my. Ek gaan terug na Nouwen om te kyk op watter manier ek hierdie ervaring vanuit spiritualiteit kan benader. Een na die ander van sy stukke vertel my hoe die kerk bestaan uit allerhande soorte mense wat erg van mekaar verskil en groot foute maak. Ek moet hulle aanvaar, want hulle is ook op reis met God.
Ek sit terug, onwillig gewillig (!) om toe te laat dat sy gedagtes my lei. In sy stukkie van 25 Oktober herken ek myself as hy skryf dat ons net in die kerk vrugbaar kan wees as ons werklik liefhet.
Liefde vir mense in die kerk wat so neerbuigend, arrogant, liefdeloos is en van beter moet weet? Dis ‘n groot eis. Maar hy is reg. En ek het dit so dikwels in die gemeente gesien – hoe erg vernietigend mense teenoor mekaar kan wees. Maar as ‘n mens ‘n liefdesverhouding met hulle het, skuif dinge. Tog wel. ‘n Mens moet vrugbaar wees, nie verbitter nie.
Ek wonder hóé en wáar ek hierdie liefde gaan kry. Miskien in die wete van eie foute, mislikheid teenoor ander, veral hulle naby aan my. Só self-vernietigend kan ‘n mens eenvoudig nie aanhou lewe nie. Maar iewers kry 'n mens dit dan tog by die dieper bron, die helderder manier om te verstaan: Jesus wat ‘n oor genees in die tuin van skande en verraad – simbool van sy konsekwente liefdespad. Dit is ‘n sterk liefde wat die skerp woord skep: sit terug jou swaard – hou op met die geweld.
Dit moet ek op my lewensreis my deel maak, dring dit tot my deur terwyl ek oor die kerk, Nouwen en hierdie oggend nadink: maar uiteindelik sal ek moet vrugbaar wees – en daarvoor het ek die liefde nodig. En die simboolryke verhale in die Woord wat my telkens aan die liefde herinner en daarmee verbind.
Die liefde is die ironiese antwoord op die liefdeloosheid wat so hoogty in die kerk vier. Dit is iewers so breekbaar maar net ‘n daad - "liefde" – maar dit is ook ‘n liefde wat die sterk getuienis laat hoor:
Jare gelede breek alle hel in die kerkraad los omdat een van die heethoofde weer met sy kenmerkende skerp tong ander te na gekom het. Die spanning loop hoog. ‘n Mede-broeder skryf ‘n brief van beswaar teen sy venynigheid. Maar die brief self is gelaai met harde uitsprake en veroordeling. So bots ons kop aan kop. Ons geweld skep geweld.
Ek sit met my hande in my hare en kyk die briefskrywer in die oë: waar ‘n mens jou verset teen die liefdeloosheid om ons, moet dit juis daardie liefdeloosheid transendeer – sonder om swak te wees. En in die oomblik wat ons oog om oog sien, weet ons almal helder hoe feilbaar ons is. Deur die ontmaskering van ons geweld waarmee ons geweld teengaan, kom daar by ons 'n oomblik van herkenning - ek is niks beter as my vyand nie. En dit is al 'n stuk genesing wat daar deurbreek.
“Sit terug jou swaard.” “Hou op daarmee” (Lk.22:51). Dit is die sterker woord, opgevolg deur die eintlike daad van genesing – stop die bloeding, maar genees die wond - sit die oor terug. Juis omdat die kerk so liefdeloos is en so ongelooflik skade kan aandoen, het die kerk die egte, goddelike liefde nodig. Daardie liefde wat geweld - tot skaamkry toe - kan uitwys en dit met genesing kan verplaas: so wil ons nie weer met mekaar omgaan nie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.