Thursday, November 30, 2006

Dink weer oor die vreugde van godsdiens! Spiritualiteit en Jan van die Kruis (5)

In die vorige bespreking (Jan van die Kruis 4) het ons gesien hoedat God liefderik die mens wat met nuwe gloed vir God gevind het, op ‘n geestelike reis wil neem. Maar van ons kant af is daar onvolmaakthede (sonde) waarin ons menslike inspanning na vore kom. Ons wil tydens hierdie geestelike reis nie toelaat dat God ons neem in die ruimte van die egte liefde nie. Laat ons nou ‘n bietjie meer oor die onvolmaakthede praat:

Vertaling van 1.3.

Vandaar dat die siel dit geniet om lang tye en soms selfs ‘n nag lank te bid. Die siel geniet dit om boete te doen, om te vas, om deel aan die sakramente te hê en om oor goddelike sake te praat. Maar al doen die geestelike mens dit alles doelgerig en volhardend, al leef die mens dit uit en kom dit noulettend na, is die mens daarin geestelik gesproke tog baie swak en onvolmaak. Want die mens deel in die geestelike sake en in die toewyding omdat hy of sy daarin troos en genot vind. Omdat die mens nog nie deur ‘n kragtige worsteling hom of haar in die deugde bekwaam het nie, kleef daar aan hul geestelike werk baie gebreke en onvolmaakthede. Uiteindelik werk elke mens volgens sy eie volmaaktheid; en omdat hy of sy nog nie ‘n kans gehad het om sterk gewoontes te ontwikkel nie, moet hy of sy swak werke hê – net soos swak kinders.

Om dit duideliker te verstaan en ook hoe dit hierdie beginners ontbreek aan deugde juis in daardie geestelike dinge wat hulle so maklik met genot wil doen, sal ons dit illustreer aan die hand van ‘n bespreking van die sewe belangrikste ondeugde. Ons sal ook die vele onvolmaakthede in elk van hierdie ondeugde bespreek. Daaruit sal duidelik word hoe kinderlik die werk van hierdie beginners nog is. Ook sal blyk hoeveel weldade die donker nag vir ‘n mens inhou; dit gaan ons daarna bespreek. Hierdie nag reinig immers die siel van alle onvolmaakthede en louter hom.

  • Die pasbekeerde mens geniet godsdiens. Maar hierdie genot kan ‘n struikelblok wees!
  • Dit is ‘n teken van sondigheid selfs!
  • Omdat dit selfgesentreerd is: dit gaan vir jou om die voordeel wat jy uit jou godsdiens kan kry, die lekkerte wat dit jou bied.
  • Eintlik is dit ‘n teken dat ‘n mens ‘n baba in die geloof is, nog swak en wankelend.
  • Om regtig geestelik volwasse te word, wag daar op ons ‘n “worsteling”, ‘n “donker nag” en ‘n reiniging.
  • Of, diep onder hierdie teks sit daar die een groot aandrang van Jan van die Kruis: ons geestelike reis gaan eintlik nie om ons nie, maar om God. Doen alles tot eer van God – laat toe dat God jou neem na daardie plek waar jy egte liefde, die liefde wat aan God behoort, sal kan beleef. En dit is iets taamlik anders as die liefde vir jouself en die verliefdheid op die goeie ervarings wat jy het as jy jou godsdiens beoefen. As jy jou godsdiens jaag omdat dit jou laat goed voel, flits ‘n rooi lig...


Here, leer my om, soos Jesus, U woorde te hoor en nie na my eie woorde te luister nie. Lei my na U woning waar die egte liefde is. (Joh.14:23).

©Pieter G.R. de Villiers. Kontak pgdeviliers@mweb.co.za

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive