Friday, November 17, 2006

Unieke lyding: spiritualiteit en de Lubac

Henri de Lubac (Paradoxes of Faith, 171) skryf:

Alle lyding is uniek – en alle lyding is dieselfde. Ek moet myself gedurig aan die laaste aspek herinner wanneer ek ly – en van die eerste wanneer ek ander sien ly.

Dit is ‘n eenvoudige stelling, maar terapeuties belangrik. ‘n Mens kan maklik teenoor ander wat swaarkry, die opmerking kwytraak dat jy verstaan wat hulle deurmaak. Kán ‘n mens dit werklik regkry om ander se lyding te peil? En is dit nie die ellendige van sulke maklike opmerkings dat dit ander se lyding intenser maak nie – juis omdat hulle voel dat hulle deur sulke goedkoop bejammering des te meer aan hul lot oorgelaat word?

Minder woorde, mede-Jobsvriende, minder woorde in die aanskyn van ander as swaarkry. Elke mens se lyding het dimensies wat ons nie kan peil nie – is uniek.

En dan aan die ander kant is daar die verdrinkingsindroom: ek gaan onder aan my lyding. Niemand, dink ek, het nog ooit deurgemaak wat ek deurgemaak het nie. En is dit nie die ellendige van hierdie soort lyding wat omslaan in oewerlose selfbejammering, dat dit lyding net meer uitsigloos maak? Minder self-flagellasie is soms ook nodig – net daardie gepaste relativering van my donkerte wat my op my voete kan hou. Ek is nie die enigste een wat al hierdie pad geloop het nie.

Aan die kruis op Golgotha was daar die “ek het dors”-oomblik, die selfbewuste moment van eie konkrete lyding. Daar was die oomblik van vyandsliefde (vergewe hulle!) met sy uitreik en omgee vir ander. En dan, dan was daar die oomblik van gebed – die hand uitsteek na boontoe. Dit is miskien die dieptepunt om by te bly: om in ‘n mens se godverlate lyding uit te reik na die Ander, weg te kyk van jouself, selfs al is die donkerte verstikkend om jou, jou blik weg te draai van al die simpatiseerders – in die rigting van die Een wat wéét, wat by my bly in my lyding: “In U hande...” Wat ‘n veilige uitkoms, want wee ons as ons in ander mensehande beland, of, nog erger, onder ons eie hand deurloop.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive