‘n Mens moet dus weet dat God die siel wat hom of haar met oortuiging tot die diens van God bekeer, geestelik sal voed en koester – net soos ‘n liefderike ma haar hulpelose kindjie: sy nestel die baba warm aan haar bors, voed dit met kosbare melk en ligte, soete spyse en omhels dit koesterend in haar arms. Maar soos die kind ouer word, hou die ma meer en meer haar koestering terug en hou haar vertederende liefde vir die kind verborge. Sy begin die baba te speen, hou haar of hom minder vas en laat hom of haar selfstandig word sodat die kind minder van ‘n baba word en meer aan groter en belangriker sake aandag kan begin gee. God se genade, die liefdevolle moeder (vgl. die Vulgaat se weergawe van Wysheid 16:25-26), doen presies dieselfde met die siel wanneer die siel opnuut met ‘n nuwe gloed en vuur gebore word om God te dien. Die genade van God gee aan die siel vreugde in al die dinge van God, sonder enige inspanning aan die kant van die siel, sodat die siel soet en kosbare geestelike melk en ‘n groot vreugde in geestelike toewyding geniet. God gee dus aan die siel ‘n bors van tere liefde soos ‘n ma aan ‘n hulpelose baba (1 Pet.2:2-3).
Die siel vind groot vreugde in geestelike “toewyding.” In die Nederlandse vertaling is daar by die woord “toewyding” of “oefening” ‘n interessante verklaring. Toewyding, lui die verklaring, is veral in die eerste fase van die geestelike reis nodig. Geestelike toewyding verwys na ‘n soort dissipline en ‘n gepaste houding in die verhouding met God. Gelowiges is as beginners dikwels behep met vele onvolmaakthede. Hulle wil graag presteer in die geloof. Hulle wil hulle laat geld en in beheer wees. Hulle is daarom dikwels meer op hulleself as op God gerig. Juis daarom bly hulle agter en is hulle gebrekkig in hulle toewyding en verloor dan met verloop van tyd hulle sin daarin. Mense wat gevorder het op die geestelike weg is nie ingestel op hulle toewyding omdat hulle daaruit bevrediging put nie, maar hulle is al hoe meer daarop ingestel ter wille van God self. God lei die mens tot aan die grens van sy of haar vermoë om die mens tot ‘n suiwerder hart te bring. God maak dit daarom vir die mens onmoontlik om van sy of haar kant nog iets te doen om nader aan God te kom. Juis wanneer ‘n mens niks doen, ontstaan daar die volmaakte ruimte vir die eintlike toewyding, dit wil sê die toewyding aan die liefde en die liefde bestaan daarin dat ‘n mens God in jou laat werk.
- dat ‘n mens hierdie reis nie aflê omdat dit jou laat goed voel nie of omdat jy so ‘n goeie mens geword het nie.
- dat ‘n mens wat dieper in die geloof groei, al hoe meer weggroei van jouself en van selfbehae en meer en meer ingestel is op wie God is en wat God behaag.
- dat ‘n mens op jou geestelike reis gedurig aan die einde van jou kragte kom. Dan kan jy nie verder nie. En juis dít is wat God wil hê.
- As jy aan die einde van jou kragte gekom het, is daar ‘n groot oop ruimte waarin jy moet binnegaan: hier moet jy jou oorgee aan die liefde.
- Van hierdie punt leef jy “sonder enige inspanning.”
- God voed en koester. God se genade gee vreugde. God is die groot gewer in die geestelike reis.
- Liefde is juis wanneer God in my werk, waar ek niks meer (kan) doen nie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.