Dit is ‘n Saterdagaand laat toe my telefoon in die pastorie se studeerkamer lui. Die predikant bel my uit ‘n Bolandse dorp om my te vra om aan ‘n jongman wat in my dorp werk die nuus oor te dra dat sy pa wreed verongeluk het.
Ek probeer hom in die hande kry, maar hy is vir die aand uit na ‘n plaaslike disko. Ek ry daarheen, maar dit is verlate – almal is al huis toe na die aand se jolyt. Al wat oorbly is ‘n deurmekaar saal, besaai met drankbottels en ‘n alkoholwalm wat tam in ‘n mens se neusgate opslaan.
Ek ry aan na sy huis, waar motors skeef oor die werf geparkeer staan, enkele vriende in die kombuis verslae en stomgeskok alleen rondsit. In die sitkamer tref ek die jongman aan. Hy het intussen die nuus gehoor. Hy rol rond, verskeurd deur smart, op die sitkamervloer, sy liggaam ruk wilde houe onder sy rou kreune. Niemand is by hom nie. Hy is wild-alleen.
Ons gesels en hy word rustiger, maar ook al stukkender soos hy die seerkry internaliseer. Hy is, sê sy lyftaal, sy fisieke verslaentheid, duidelik lief vir sy pa gewees. Sy pa was ‘n gelowige man, kerkmens in sy gemeente. Nie die vernaamste in die dorp nie, maar die dominee se bedeesde vertelling het my reeds laat besef dat dit iemand is wat naby aan die Here geleef het.
‘n Mens gaan werk in ‘n plek ver van die huis, met eie salaris, eie huis, eie afleiding en ‘n eie lewe. Dit is ‘n lewe vir die uitbundige, teen die vinnige pas, ‘n lewe gedryf deur die go-for-it sindroom. Pa sal altyd daar wees, die ouerhuis die plek waar ek kersfees sal kan gaan kuier: pa sal groet, met my oor al die dingetjies van die ou tyd praat. Pa, my pa wat skooltyd langs die veld gestaan en kyk het hoe ek speel, wat skemertyd om die tafel met ma se bredie, liefdevol elke beweging aanprys en herleef het. Pa wat trots is oor die matriek, oor die nuwe werk. Pa sal vir my die nuwe motors in die garage gaan wys, sy nuwe werkswinkel by die koöperasie. Pa in die kerk, in my ou bank, met die vertroude gesigte rondom my, almal nog in hul bekende plek. Dominee se temerige, lang preek, die gesange en die bewerige orrel, die klanke wat nog ‘n keer die ruimtes vul van die kerk op die heuwel te midde van die koringvelde.
In hierdie wêreld, hierdie jonkmenswêreld leef pa mos vir altyd. En my onbesorgdheid is op sigself ‘n stuk sekerheid.
Ek praat met die stukkende hart hier by my in die eenvoudige sitkamer met sy reuse televisie, sy groot hi-fi, die oerske drankkabinet, in ‘n veraf plattelandse dorpie op ‘n stil, laat Saterdagaand. Hy kreun gebroke en skeur die woorde uit sy hart: ek het verkeerd geleef en nou straf God my. Ek het hierdie jaar nog nie my voete in die kerk gesit nie. God het hom van my weg geneem om vir my ‘n les te leer. Ek kan nie eers vir my pa totsiens sê nie.
Hy het in ‘n disko oor ‘n happy dronk lyf gehoor van sy pa se dood.
Ek staan verslae oor die verskriklike Godsbeeld waarmee hy uitkom: ‘n God wat berekenend mense sit en dophou en hulle hard, ongenaakbaar en genadeloos slaan waar hulle die seerste gaan kry.
Maar, sê ek vir hom, en dit kom soos ‘n fontein uit my uit, vir my as koel waters waarin ek my eie skok oor sy hartseer, maar veral oor sy selfveroordelende, heetharde woorde kan baai: God is nie ‘n wrede God nie. Hy straf nie vir mense só wreed nie. Dít is tog waarom my hele lewe as gelowige draai. Luther se genadige God, wat my sonder verdienste vashou. Ek ken God nie so nie. God sal nie koelbloedig en berekenend jou pa van jou wegvat omdat jy hierdie jaar nie kerk toe gegaan het nie. God is nie ‘n sommetjiesmaker wat punte teen opponente wil aanteken nie.
En in my kou dit aan my: Hoe gebeur dit tog dat ‘n mens só ‘n beeld van God oor jare heen opbou? En watter verskriklike uitkoms om in oomblikke soos hierdie, in die aanskyn van self-verwyt, wroeging en self-kastyding daardie beeld van God in jou kop te hê.
Ek weet nie wat van die jongman geword het nie. Hy is uit die dorp weg. Maar dit spook by my, die beeld van absolute gebrokenheid: die beeld van ‘n jongmens wat rukkend rondrol oor ‘n sitkamervloer. En ek wonder hoe sy lewensreis verloop – die reis wat daardie aand in alle erns begin het – weg vanaf die disko verby die hi-fi en die reuse kabinet in die sitkamer die toekoms in – op soek om die liefde van Pa weer te kan ervaar.
My gedagtes dwaal na die tydloosheid van hierdie verhaal. Prediker, jy was reg – die son sak elke dag oor die ou-ou verhaal, want daar is niks nuuts onder die son nie. Dit is die tydloosheid van Lukas 15 oor die jongman wat op ‘n dag by sy pa vir sy erfdeel gaan aanklop het – daardie bewuste daad van afstand skep, van jou eie koers inslaan – angstig oor die ver land wat vir jou wink en wat nie kan wag nie. My gedagtes flits na die Een wat hierdie tydlose verhaal vertel het: Op watter stil aand en waarom het die jongman Jesus met sy jong maats hieroor gepraat? Hy en sy ruwe vissermaats, die dissipels, was net so oud was soos daardie jongman wat gebroke op sy sitkamervloer rondgerol het: Jesus praat met hulle in diepe, diepe gesprek oor wie God, wie die Pa is. Jy kies van nature om jou pa agter te laat en jy kies so vir ‘n reis wat in alleenheid eindig.
Jesus het dit nie sommer maklik as ‘n lessie vir hulle vertel nie. Hy het dit vertel om homself te staal vir wat voorlê. Hy sou immers by herhaling voor dieselfde keuses kom staan. Vir oulaas nog in ‘n ver land, in ‘n stil tuin, het Hy ook sy twyfels geken (die beker), op die grond in ‘n donker nag in gebed rondgerol in worsteling oor die die lewensreis wat op Hom wag. En die dissipels, die verlore seuns, wat hom nie goed gehoor het toe hy vir hulle van die verlore seun vertel het nie, was daardie aand ook in ‘n ver land toe Hy bloed gesweet het. Hulle was slapende, so stom soos die kabinet en die h-fi voor die self-verwytende rou van ‘n stukkende mens op ‘n Saterdagnag in die diep platteland.
Wat tel, fluister hierdie Jesus, die Gees van die liefdevolle Vader nou, ná die tyd, in ons harte, is nie dat ons onsself verder straf met gedagtes dat dit ons verdiende loën is en dat God ons nou straf vir wat ons verdien nie. Wat tel is dat ons terugkeer na die liefde, na die Pa wat op ons sit en wag en ons wil omhels, al was ons verlore en al het ons ons erfdeel van hom afgevat. Op die stoep van die Vaderhuis sit hy en kyk pad af om te sien wanneer ons by die plaashek ingedraai sal kom om nader te hardloop en om ons te oorlaai met soene van vergifnis en blydskap (Lk.15:20). Ons gaan huis in, saam met pa om teen skemeraand ma se bredie saam te eet, saam hande te vou voor God, om oor die ou tyd te praat. En Sondag sal ons weer op ons ou bank gaan sit, die orrel beluister, die dominee se lang preek uitsit, maar met ‘n gelukkige hart oor die tuiskoms, die weer-by-pa-en-ma wees. En ons lewensreis sal ons bly loop, met al sy kringe en draaie, wetende dat dit ‘n reis in die teenwoordigheid van die ewige liefde is.
Die aand toe daardie telefoon in my studeerkamer gelui het en toe ek uiteindelik later, onuitwisbaar op my geheue ingebrand, totale gebrokenheid moes aanskou, het God ‘n storie in my lewe begin inskryf wat my gedurig daaraan herinner om God as God van liefde te bly ken en bemin – én om naby aan God te wees om orent te kan bly wanneer ek wil struikel en val onder die harde houe wat my soms toegedien word. Ek dink dit is die storie wat God ook in die lewe van die jongmens wil skryf. En ek dink sy aardse pa sou wou hê dat hy ook dit as die storie van sy lewe sou herken.
Hoe sou ek, God, ooit vir U as wreed kon sien? U wat suiwer liefde, liefde vir U kinders is. Hou my vas, hou my vas in U vaderliefde noudat ek niemand anders om my het nie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.