Ek kry vanoggend ‘n e-pos van iemand wat skryf dat hy dalk nie ‘n byeenkoms, gereël vir môre, sal kan bywoon nie omdat sy bejaarde skoonpa sterwend is en hulle vermoed dat die einde vandag nog kan kom.
Gisteraand hoor ek per e-pos die slegte nuus van ‘n vriendin van baie jare, dat sy môre vir ‘n kwaadaardige gewas geopereer gaan word. Sy self vra, kenmerkend vanuit haar predikant-vir-ander wees en haar omgee-ma-van-kinders wese, bloot vir ‘n gebed om krag veral vir haar kinders.
Met die jare bevestig sulke berigte vir ‘n mens hoe fragiel die lewe is – en hoe kosbaar. Maar eerder as om bloot clichee-agtige gedagtes kwyt te raak oor ons vlugtige bestaan wat ons moet koester (Ek kry so ‘n onheilige gevoel as ek in November elke jaar by herhaling hoor – die jaar is al weer op sy rug), roep sulke berigte by my ‘n behoefte op om na te dink oor die baie treurige gevoel wat op my toesak as sulke nuus my bereik.
Vyf jaar gelede moes ek ‘n begrafnisdiens hou van ‘n bloedjong Rhodes student (“in die fleur van sy lewe”) wat verongeluk het. Ek onthou nog goed hoe ek gesteun het op Nouwen se opmerkings oor jongmense wat hul lewe verloor en hoe dit ‘n mens meer skok as normaalweg – want die kapelletjie sit toe vol van sy getraumatiseerde vriende. Nouwen skryf, troostende, dat nie die lengte van ons jare tel nie, maar die kwaliteit daarvan. Iemand kan in ‘n paar jaar meer lééf as ander oor jare heen. Dit is hoe ons die moeilike skokkende dood van ‘n jongeling verwerk – moeiliker as wanneer ‘n ouer persoon skielik sterf.
Dit is sekerlik waar, miskien bloot net omdat dit die mense wat agterbly daaraan herinner dat hulle lewenskwaliteit moet jaag. En tog, bly die gedagtes oor die afgelope vyf jaar by my draal oor daardie boodskap by die begrafnis van ‘n onverwags gestorwe jongman. Want terwyl sy dood my skok en treurig laat voel, ondervind ek by my en in my lewe dat die dood van ouer mense en die lyding van tydgenote vir my swaarder verwerkbaar is – dikwels selfs ongeag hul lewenskwaliteit.
Jare se liefdevolle bande weef ‘n hegte, warme bokhaar-duur kombers waaronder jy kan gaan inkruip in die wintertye van jou lewe, wat jy kan bewonder as ‘n kunswerk in die goeie tye van jou mooi dae. En as dit skeur waneer jy totaal verknog is daaraan, kruip die koue ysterhard en yskoud daardeur. Die skeur wat flarde maak, besteel jou van jou vreugde wat nie sommer op enige ander plek opgetel kan gaan word nie, van jou vreugde wat geknoop as aan honderde herinneringe, duisende gewoontetjies, tientalle sêgoed of net deur ‘n daar-wees-vir-jou.
Dit werk dus nie vir my om te sê dat ‘n mens die dood makliker aanvaar omdat iemand ‘n vol en gelukkige lewe gelei het waneer hy of sy op ‘n bejaarde en ryke ouderdom sterf nie. Die dood bly wreed – dit ontneem mense ‘n Godgegewe steunpilaar, ‘n troos-maat, ‘n praatvriend, ‘n oupa met die lawwe stories, ‘n ouma met die karringmelkbeskuit-kombuis, ‘n eenmaal-in-die-jaar-saam-koffiedrink maat. En as iemand swaarkry en jy sien agter die swaarkry presies daardie onselfsugtigheid (bid vir my kinders om krag), daardie liefde om die welsyn van die ander, dan sny dit skerper as ooit – jy weet watter geryptheid in ouerskap lê in sulke woorde weggebêre en jy wens dit kan anders wees, baie anders. Jy hoor daardie woorde en jy ken, jy weet, jy onthou die ryke bestaan, die gewone, normale lewe waarin dit inpas, die intense gedagtes wat agter hulle skuil, te fragiel, te edel om uitgespreek te word. En hoe weerloos is hulle tog nie teen die swart vuis van lyding en dood nie.
Niemand kan die aanslag weerstaan nie en niemand gaan daarvan gespaar word nie. Lyding en die dood is afgryslik. En die oorwinning in die opstanding ‘n groot, ver, merkwaardige misterie.
Dit is nie vir ‘n mens sommer net maklik om te glo nie, veral nie as jy van liefde ontneem word nie. Daarom, juis daarom moet geloof geskenk word. En die gawe ontvang ‘n mens wanneer jy die liefdevolheid van die versoek om gebed ráákhoor, die wankelrige, maar moedige vashou aan God opmerk (bid vir my kinders), ‘n geskenk van God in die tyd van nood.
Waters het gedreig om my te verswelg, maar U, U was by my. U liefde het my nie verlaat nie.
Monday, November 13, 2006
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2006
(47)
-
▼
November
(20)
- Dink weer oor die vreugde van godsdiens! Spiritual...
- Spiritualiteit en Jan van die Kruis (4): God se ge...
- ‘n Wrede God? Oor ons Godsbeeld en spiritualiteit
- ‘n Terebint van geregtigheid. Oor wanhoop en spiri...
- Die vleuels van die dageraad: Oor spiritualiteit e...
- Liefde as die hoe van die geestelike reis. (Nouwen)
- Geluk volgens Connolly - die weg van spiritualiteit
- Inspuiting en alarm: Immauel
- Spiritualiteit: Jan van die Kruis 3: Hoe lyk ieman...
- Nouwen oor blydskap en hartseer
- Unieke lyding: spiritualiteit en de Lubac
- Spiritualiteit en Nouwen : Verrassing
- Lewensbande en die dood.
- Spirituality: Embracing our weaknesses - a voice f...
- Innerlike skoonheid: Aap-lelik
- Spiritualiteit: Salvador Dali en Jan (Johannes) va...
- Spiritualiteit en lyding (Thomas Merton)
- Spiritualiteit: Die verborge omgang: wat regtig sa...
- Spiritualiteit: Die groot dorheid, Miskotte en die...
- SPIRITUALITEIT: JAN VAN DIE KRUIS (2)
-
▼
November
(20)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.