Sunday, November 26, 2006

‘n Terebint van geregtigheid. Oor wanhoop en spiritualiteit

Ek het nog net een keer in my lewe ‘n laaste brief van iemand gelees. Ek onthou twee dinge uit daardie skrywe: hoe hy iemand wat baie naby aan hom was beskryf het – sonder verwyte, sonder enige afsku of haat. Dit was iemand wat jaar na jaar saam met hom geleef het en by hom verbygeleef het na uiterlike dinge: die persoon het hom totaal misbruik deur hom eindeloos in die skuld te dompel. Toe verloor hy sy werk, maar kon nog ‘n skaflike inkomste verdien – wat totaal te min was om al die skuld en die voortgaande uitgawes te dek, hoewel ‘n normale huisgesin gerieflik daarvan sou kon lewe. Dit het hom moeg gemaak. Moeg vir aangaan. En onder die moegheid was dit duidelik dat hy nie meer kon liefhê nie. Al die drome wat hulle twee bymekaar gebring het, wat hulle oor jare heen moes gedeel het, was aan skerwe. Onmoontlik stukkend, dit kon op geen manier gelap word nie. Die liefde was vir hom tot niet.

En die ander ding wat ek onthou en wat sy leê hart, leeg aan liefde, ontbloot het was die onverbloemde haat en bitterheid wat die plek daarvan ingeneem het: hy was verbitterd teenoor sy baas wat hom sy werk laat verloor het en sy situasie nog erger gemaak. Miskien onthou ek veral hierdie bitterheid die beste. Dalk was dit omdat dit ‘n mens soos ‘n koue skoot water in die gesig getref het – ‘n lewensruimte wat gevul was met verbete, obsessiewe verbittering teenoor 'n ander wat hom te na gekom het.

Dit alles het hom, iemand wat in sy werk uitgeblink hetsy hart leeg getap en gebreek. Toe sy hart leeg was, het hy een donker nag sy hand aan sy eie lewe geslaan en ‘n verslae familie – met tienerkinders – agtergelaat.

Hy wou nie meer verder nie, hy het aan die einde van die pad gekom. Sy hart was leeg, gebroke.

Net om só ‘n brief te lees, bring seerkry. Soveel erger is dit as ‘n mens nog nader as brieflees is aan die mens wat ondergaan aan wanhoop. Ek moes een keer vir ‘n pa en ‘n ma gaan vertel hulle seun, twintig jaar oud, het nie meer kans gesien om te lewe nie. Die dag toe ek hom begrawe het, was ek in ‘n kop-aan-kop botsing betrokke. Ek het tot vandag toe totale geheueverlies: ek onthou dat ek vroeg-oggend, teen dagbreek, in die hospitaal wakker geword het waar ‘n gemeentelid pas ingekom het. Ek het nie geweet waar ek was nie, wat ek daar doen nie. En my geheue het by ‘n merkwaardige punt afgesny: ek onthou net dat ek my toga (!) na die begrafnis uitgetrek het, nie eers opgehang het nie maar sommer op die bed neergesit terwyl ek gedink het: nou moet ek net hier wegkom.... en daar sny my geheue uit. Die trauma van die begrafnis- en dit was iemand wat nie eers met bloed aan my verbind was nie - en van die ongeluk het alle gedagtes weggevat en hulle wil nou nog nie terugkom nie.

Om met ‘n leë hart moed op te gee vir altyd traumatiseer dus selfs mense wat veraf van jou lewe. Jou, laaste finale daad het eindelose gevolge. Ek het dikwels in later jare saans by die jongman se pa en ma gaan inloer. Hulle het nooit herstel van die hou wat hulle toegedien is nie. Dit is ‘n verhaal van lewenslange lyding van húlle wat agtergelaat word, wat sny aan hart en been. En ek was die pastor, die één wat, gelukkig nog, kon huis toe gaan en die intensiteit van die donker leed tog ‘n bietjie by die voordeur van hul hartseer huis kon agterlaat. Maar hulle, pa en ma, moes agterbly, in die ruimte waar hul seun groot geword het, die ruimte wat hom nie kon terughou daardie nag toe hy uitgegaan het om met sy gebroke hart die duisternis te omhels nie.

‘n Leë hart wat tou opgooi skep meer probleme as wat dit oplos. Vir die wat agterbly. Maar ‘n leë hart, rou geskuur, wat kies vir die einde, dink nie aan die verskriklike gevolge nie – dit maak dit soveel erger. Dit kies vir die ewige stilte, ongeag die gevolge.

‘n Leë hart? Ons ly baie, ons kry swaar, ons het min moed, ons sukkel om oor die weg te kom. Ons is hartseer. Dit is iets wat elke dag ons deel en lot is, hierdie seerkry. Maar dit gebeur min dat ons hart heeltemal leegloop. Dalk net een of twee keer in ons lewens. Om by so 'n punt uit te kom, moet 'n mens weet, vra om hulp te kry - dringend en vinnig en met oorgawe. Om donker gedagtes oor die einde te koester, vra dat 'n mens ten alle koste nie moet probeer om alleen verder die pad te loop nie. Soms is dit uitbranding, fisieke moegheid, chemiese wanbalanse wat deur praktiese hulp verbeter en verander kan word.

Wat om van binne uit te doen as dit gebeur en as al die hulp nie vervulling en vertroosting bring nie? As die sielkundige en die arts nie antwoorde kan bied nie? As jy daardie totale gebrokenheid soos 'n swaar sak oor jou voel asof lewe uit jou binneste weggesypel het en jy voel jy het regtig niks meer om voor te lewe nie. Wat doen ‘n mens aan hierdie verlammende, vernietigende gedagtes?

Die trauma van die begrafnis van ‘n jong man wat met ‘n leë hart gesterf het, die geskiedenis van ‘n pa wat gebroke gedink het hy het niks meer om voor te leef nie, die vernietiging wat ek in die bediening in baie huise raakgeloop het, sou 'n mens goedkoop kon redeneer, bring in mens ‘n wete hoe ek moet leef om nie dieselfde aan ander te doen nie. Ons moet almal lééf met die wete: my een woord, my een optrede kan iemand anders se leë hart volmaak.

Dit is maklik om vir 'n mens met 'n gebroke hart te vertel om liefdevol te lewe. So dikwels sou sulke mense met alle geweld dit wil doen, maar in die groot swart gat vervalle, ontbreek enige krag daarvoor.

Maar daar is 'n dieper dimensie wat 'n mens moet probeer vasgryp: Wat gebeur met 'n mens as jy in die donkerte vasgeval is? Jy het 'n verskriklike behoefte dat iemand jou kom vashou en vir jou liefde en sekuriteit gee. Dit is 'n hartskreet om liefde te ontvang. Ons word op die manier iewers ‘n slagoffer van die liefdeloosheid, die wreedheid en die eindelose gesukkel om ons. Uiterlike faktore bepaal ons keuses.

Ons het vergeet van ons innerlike vermoë gegee om lief te hê en liefde te gee. Trouens, dit was Jesus se grootste aandrang by sy dissipels – hierdie innerlike krag wat hulle het om liefde te gee, eerder as om te ontvang moet hulle as lewensgeheim ontdek. Leef vir die liefde, nie om liefgehê te word nie. Dikwels beland ons in ‘n situasie waarin ons ondergaan aan ons gebroke, leë harte juis sodat ons kan verstaan hoe belangrik dit is om liefde te skenk.

Terwyl ek hierdie stuk skrywe en worstel om ‘n gebroke hart te oorkom, onthou ek skielik uit die bloute, asof die Gees dit in my fluister, die onvergeetlike beeld van Jesaja in sy ewe onvergeetlike hoofstuk 42 in die poëtiese ou Afrikaanse vertaling. Ek word herinner aan die lydende Kneg van die Here in vers 3:

Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie.

Dit is God se gesig: die Lydende Kneg van die Here - die Een wat God se liefde in die wêreld stil en in verwerping uitdra, is in dit alles die Een wat uitreik na ander. Jesaja 61 vertel opgewonde God se nuus aan die “ootmoediges”:

Die Here het my gestuur om te verbind die gebrokenes van hart...

om al die treurendes te troos, om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die Here, tot sy verheerliking.

“Terebinte van geregtigheid”?: bome van redding in die Nuwe Vertaling. God wil ons só plant, so sterk soos ‘n boom – om soos God, verniet, sonder verdienste liefde te wees in ‘n donker wêreld. God het ons geskep om hierdie liefde te kan meedeel en te kan gee, selfs al ly ons in die proses. My eie, innerlike lyding en leë hart doof nie my liefde uit nie, maar laat my net al hoe intenser besef hoe nodig dit is dat niemand om my ontdaan word daarvan nie. Dit maak hartstog in my wakker - 'n ywer om bonatuurlik, bo die natuur van my wanhoop om, ten spyte van wat my omstandighede is, my innerlike krag om liefde te gee nie tot einde te laat kom nie. Hoe donkerder dit om my is, hoe meer moet ek besef – dit is juis hierdie donkerte wat God deur die helder lig van die liefde in my wil verdryf. As ek aan die einde van my pad gekom het, is dit waar God, die Lig, oorneem. En as Lig teenwoordig is. God wil, in my wanhoop oor ander se liefdeloosheid, dat ek nooit, nooit wanhoop aan die ongelooflike krag wat ek in my het om tóg, anders as ander, liefde te kan gee. Dit maak my tot wat ek is. Ek is nie die slagoffer en die produk van wat ander aan my doen nie. Ek het iets groters en duurders en goddelikers om aan hulle terug te gee.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive