Monday, November 20, 2006

Liefde as die hoe van die geestelike reis. (Nouwen)

Nouwen skryf op 3 Januarie: (uit sy Dagboek - sien verwysing hier onder)


Kwesbaar soos ’n kuikentjie

Die lewe is kosbaar. Nie omdat dit so sterk en ewig soos 'n diamant is nie, maar omdat dit so verwondbaar is, so kwesbaar en weerloos soos 'n kuikentjie.

Om die lewe lief te hê, beteken om te aanvaar dat dit verganklik is en verwondbaar; dat dit versorg en beskerm en gekoester moet word; dat dit vra om aandag, en leiding, en ondersteuning.

Lewe en dood word deur verwondbaarheid verbind.


Sowel die pasgebore baba en die sterwende ouer mens herinner ons aan die kosbaarheid van die lewe.


Laat ons die kosbaarheid en die kwesbaarheid van die lewe nie vergeet in die tye wanneer ons sterk, suksesvol en gewild is nie.


Dit is ‘n opgawe en taak: om in die tye wat ‘n mens suksesvol is, op die kruin van die voorspoedgolf ry, te bly onthou dat dit alles so kwesbaar is en so maklik uit jou vingers kan glip. Wie wil nou daaraan dink in sulke sterk, suksesvolle en blink dae? Eerder bid ons – laat hierdie oomblik tog nie verbygaan nie, gee my nog meer.

Mementi mori ­ noem hulle dit in spiritualiteitsliteratuur: laat die herinnering aan verganklikheid, die dood jou tot ootmoed bring en laat soek na dit wat blywend is en werklik saak maak. Nie dat jy aan die verganklikheid moet ondergaan nie en in jou hoekie moet loop sit en jammer wees oor alles nie. Maar die verganklikheid moet jou aan die kosbaarheid van die lewe herinner – die lewe moet versorg, beskerm en gekoester word – a la Nouwen hierbo. Jy moet die oomblik koester. Nouwen werk dit net ‘n bietjie sterker uit: ‘n mens is nie bloot bewus van verganklikheid nie – jy is lief vir die lewe. Uiteindelik word jou reis gedryf deur hierdie energie van liefde wat jy het vir alles wat so kwesbaar en verwondbaar is.

Maar hóé? Elizabeth Ankja Vajagic, die Kanadese sangeres skryf iets hieroor in haar liedjie oor the stilness of the day (!): It's literally what it says: it's to stand the stillness of this day; it's to grasp the moment. Just stay there as if you where stopping everything that's happening around you and just taking the time to breathe basically. It could translate to anything. It could be taking a walk on the street and just feeling what's happening and being in that moment. Or at any point just to stand there taking the day to give the moment some stillness, so you could see what's happening and not constantly go go and walk into everything you're doing. Just stop for a second.

Haar manier is een manier van doen, van koestering, van bewuswording van die voorreg om deel te wees van die vloei van wat God tot stand bring in jou lewe. Maar vir wie glo, is daar ook gelukkig ’n uitnemender oomlik: Want dit is wat gebed ook behoort te wees. Nie daardie gierige ingesteld wees op die blinke en die voorspoedige dinge – “Here, gee my....” nie, maar die by-God-wees, in jou gedagtes in die voetspore van Jesus loop al met sy pad langs deur ’n land vol verlange na méér: Hy wat by mense is, hulle heel maak, vrolik saam met hulle kuier, ongeag wie hulle is, water oor hul uitgiet in ’n wonderlike sakrament om hulle deel te laat voel van God se nuwe plek en tyd, wat brood en wyn deel sodat hulle deel kan word en bly van God se nuwe groep. So bedink ons wat Hy doen, gryp ons die oomblik aan om in ons verbeeldingstog sy reis nuut te laat word, in ons innerlike in te sak en word die wêreld se verlange na dit wat werklik saak maak, vervul. Om by Jesus te wees is om God se gesig te sien en te bly lewe. En dit alles doen ons met energieke liefde, want wie by Jesus is, is in die liefde en word daardeur oorweldig.

Ek bid, God, dat U aan my 'n innerlike stilte sal gee, selfs wanneer ek die lawaaierigste pad loop sodat ek met kwesbaarheid na die liefde toe kan leef - dit wat werklik saak maak.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive