Seuntjie, vertel Elizabeth, het hom letterlik stom geskrik toe die rookalarm in hul Dallas-huis afgaan. Hy het heeltemal verstyf en stokstil bly staan. Sy het getroos en bemoedig, opgehef en bygestaan, moederlik en ontfermend. En hy het verstaan, maar die skrik was nie minder nie.
Vroeër die week het hy gegaan vir sy inspuiting en droewiglik, met totale oorgawe gehuil, geskree. Tuis, met aandete, het sy vir pa vertel dat hy darem nie so verskriklik gehuil het toe die verpleegster hom ingespuit het nie. “Nee,” korrigeer hy haar met kinderlike oorgawe en onbesmetheid, “ek het verkriklik hard gehuil.” Hy kan, soos sy pa, maar net by die waarheid hou. Die trauma moet sterk aangepak word.
Seuntjie het dus ‘n traumatiese week gehad. Na die alarm uiteindelik stilgeraak het en hy aangaan met sy spelery, kom sy naderhand agter sy hoor hom nie. Sy soek in elke kamer van die huis totdat sy hom uiteindelik in hulle kamer onder die komberse ingekruip, in die donkerte kry. Hy het die veiligheid van die bed, by pa en ma se skuiling, gaan opsoek.
Kan ons tog maar altyd net so ‘n nessie gaan belê as ons getraumatiseer word! En, ons wil nie, ons wil nie ons kinders en veral nie die kleintjies so sien skrik nie.
Maar dan, hoe kan dit anders – die groot leerskool teen ons seerkry en skok, begin kleintyd al. Ons huil en ons kan die warmte van veiligheid opsoek. Ons moet daardeur. Niemand en dan ook geen enkele een, selfs die kleinstes en die onskuldigstes onder ons kan dit gespaar bly nie. Wat tel is, waar ons gaan skuil en by wie ons gaan huil.
Gelukkig is daar ‘n pa wat kan luister na die hartseer-verhaal, met oorgawe vertel. Gelukkig vir ‘n ma wat gaan soek en so bietjie ekstra liefde na die donker skuilplekkie aandra.
Immanuel.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.