Tuesday, November 07, 2006

Spiritualiteit: Die groot dorheid, Miskotte en die dieper werking van die Heilige Gees

Beumer, J. (red.). Als de Hemel De Aarde Raakt. Spiritualiteit en Mystiek.

–Ervaringen– .

Kampen: Kok, 1989. Normaalweg E15, speciale prys E5.


Jurjen Beumer skryf in die boeiende bundel ‘n artikel oor die vraag: “Was Miskotte een mysticus?” Die subtitel van sy bydrae is: “Oor die mistieke en politieke trekke in Miskotte se werk.”

Hy haal as motto ‘n opmerking van Miskotte as 24-jarige student aan: “My eintlike ‘liefde’, d.w.s. fassinering, is tog in die finale instansie die mistiek (veral Eckardt) en na alles wat daarna lyk in die Romantiek, die Duitse Idealisme ens – dit bly die bepalende. Die ander ‘liefde’, d.w.s. die gewetensroep, wat nou onlangs na vore kom: die sosialisme.”

Miskotte (1894-1976) was veral bekend as iemand wat intens en diepsinnig nagedink het oor sulke onderwerpe soos die verhouding van die jodedom tot die Christendom, bybelse teologie, kultuur en literatuur. Hy was iemand wat bekend was daarvoor dat hy baie ingesit het om die teologie van Barth in Nederland te bevorder – dieselfde Barth wat met sy klem op die openbaring wat van buite ons (“direk van bo” –zenkrecht von oben) aan ons geskenk word, dus gevolglik maar bietjie sku was vir die mistiek en vir geloofservaring. Daarom sou dit miskien ‘n bietjie geforseerd kon voorkom om Miskotte met die mistiek te verbind en kan dit as ‘n modegier gesien word omdat spiritualiteit nou so oral gevind word.

Hoe Breumer Miskotte in die essay as mistikus lees, is ‘n eie bespreking werd, maar sy ander opmerkings wat die artikel inlei is boeiend omdat dit nog steeds so waar klink soos toe hy dit destyds in 1989 geskryf het:

Hy skryf oor die “groot dorheid” wat ‘n mens tans in die kerk aantref. Ons hoor nog wel, skryf hy, van hoe die heil jou aan jou hart gryp en ons sê dat ons dit glo, maar die vraag is of ons dit regtig ervaar. En as ons as mense in die kerk nie die “gloed van die geloof” self ervaar nie, hoe kan ons dit dan na buite straal?

Dit beteken nie dat ons nou almal in reaksie hierteen ‘n “hoera-geloof” moet jaag nie. Aan hierdie soort van geloof het ons in ons tyd beslis nie ‘n tekort nie. Ons het juis nie dit nodig nie, want dit is goedkoop. Dit is die tipe geloof wat bo-oor die alledaagse en harde realiteit van ‘n wêreld vol sorge met ‘n “fatale omweg” spring om reg in die individuele binnekamer te beland. Dit is dus ‘n geloof wat ‘n wêreldvreemde verskynsel is wat sy kop in die sand druk.

Let op, skryf hy, hoe ons tot dusver hierdie probleem probeer oplos het en ‘n uitweg uit hierdie geloofsdorheid soek deur elke geloofstema te bevra na sy maatskaplike tersaaklikheid. Dan wil ons elke keer weet: Wat sê ons geloof oor allerhande kwessies in die samelewing? Ons vra dit sodat ons weer ‘n bietjie “vuur” kan terugkry in die kerk en ons geloof lewe vertoon.

Nie dat ‘n mens hierdie tendens moet verwerp of veroordeel nie. ‘n Mens moet dankbaar wees dat mense uiteindelik besef dat die evangelie alles met die wêreld te doen het en prakties verskil maak aan die alledaagse omgewing waarin ons lewe en waarin daar soveel onreg en swaarkry voorkom. Dit is indrukwekkend dat mense besef dat die Bybel iets te sê het oor die prestasiedwang in die kapitalisme waar geld meer werd is as menselewens, waar vroue gedegradeer word, waar wapens massief geproduseer word en waar die natuur toenemend vernietig word. Dit is dus wel tog ook nodig dat ons in hierdie wêreld ons geloof moet ervaar.

Ons kan die geloof dus ook op hierdie manier sien, ja. Maar dan geld die eis dat ons dit altyd weer moet kwalifiseer met ‘n “nietemin.” Ons leef op die snykant van ons geloof aan die een kant en die verskeurende koerant-opskrifte aan die ander kant – dit is die werklikheid wat ons wel in die oë staar. Maar, soos Miskotte skryf, aanvaar ons nie die “majesteit van die feite” nie. Iewers moet ons ons ook inoefen in die perspektief van die nuwe hemel en die nuwe aarde, wil ons leer van die apostels en die profete. In die aanskyn van alles wat oor ons kom, moet ons kan leef met ‘n “nietemin....” Om dit te kan doen, sal die dorheid in die kerk en die dorheid van ons hart moet plek maak vir ‘n nuwe spiritualiteit, vir ‘n inaseming en aanvuring van die Gees (in Latyn: spiritus).

In Afrikaans vertaal, skryf hy: “Stadigaan besef ek dat ‘n progressiewe maatskappy-analise, hoewel dit onmisbaar is en helaas te min in die kerk beoefen word, nie genoeg is vir ‘n nuwe spiritualiteit nie. Ons sal baie dieper moet grawe om die tekens van ons tyd te kan lees. Ons sal ‘onder’ ons analises moet kom en hulle deur die Gees van God se kant af laat belig. As ons nie dit doen nie, gaan die tye ons te lyf. Ons raak vermoeid en afgemat. Ons sê dan: ons sal wel die tydjie oorleef. Dan is ons inderdaad so ver dat ons die Heilige Gees ingeruil het vir die tydsgees. Dan slaan oorgawe op ons toe en het die Christelike gemeente ‘n kopie van die wêreld geword.”

Ek lees hierdie opmerkings van Beumer met ‘n groeiende meelewendheid. Ek verkneukel my in hoe lekker die Hollands lees en hoe poëties die taalgebruik van Beumer klink. ‘n Mens kan vandag nog steeds in Suid-Afrika in 2006 identifiseer met sy opmerkings.

En ‘n mens staan dan nuuskierig nader om na sy antwoorde op die probleem van die geloofsdorheid te kyk. Beumer het soveel verwagtinge ten opsigte van spiritualiteit as die rigting waarin ons moet stap om van ons dorheid weg te groei. Maar, skrywer Beumer, vra ons nou as hy so entoesiasties hieroor skryf: wat is spiritualiteit? Ja, ons besef saam met jou: dit is die werking van die Gees wat ons vernuwe en ons “groot dorheid” tot ‘n einde bring. Ons sien in jou beredeneerde formuleringe iets wat ons herinner aan wat Esegiël so visueel vir ons beskryf het in sy visioen van die geraamtes wat vlees kry. Ons sal uit ons geloofsgraf en geloofsdorheid moet opstaan tot die nuwe lewe.

Maar hóé gebeur dit? Hoe werk die Gees van God? Die spiritualiteit fokus op die transformatiewe geloofservaring – iets gebeur in jou lewe wat jou met totaal nuwe oë en hart vir God in die wêreld te leef.

Met my eie agtergrond waaruit ek kom (verwerp apartheid, verwerp fundamentalisme, verwerp ‘n skewe, verarmde piëtisme), kan ek my instemming op die basiese insig wat hy onderstreep, betuig: die evangelie moet iewers getoets word aan sy maatskaplike relevansie. Dit het ek jare lank geglo. Maar tog knaag die dieper vraag: Hoe spreek ons die groot kwessies van ons tyd aan – armoede, rassisme, diskriminasie, bewapening, geweld. Die kerk en die gelowige moet die profetiese woord daaroor bedink en laat hoor. Maar lank voordat dit gebeur, moet die kerk besef dat hierdie groot kwessies slegs vanuit ‘n “geloofsywer” volhoudend begryp en verstaan kan word. Beumer is reg dat ons dikwels in al ons ywer om die wêreld tog nie veel anders as die wêreld self begin lyk het nie. Die maatskaplike ywer van die kerk kan en het inderdaad dikwels meer vervreem as versoen. Die profetiese kritiek van die kerk kan soms meer vernietig as wat dit opbou – en dit het ook gebeur. Die sosiale aktivisme van die kerk kan dikwels groter leegheid bring as wat dit vervul. Dit is ‘n fyn balans tussen ywer vir die Here in ‘n wêreld in nood en ‘n ywerige geskarrel om mense se wêreldse behoeftes te bevorder en te bevredig. Wat baat dit ‘n mens dat jy al die dinge van die wêreld het, maar jy ly skade aan jou siel, aan wie jy as mens voor God is?

Maar selfs al doen ons alles in egte geloofsywer, moet ons aanstap met die vraag: waar kom die geloofsywer vandaan? Spiritualiteit vertel vir ons dat dit gebore word uit die verhouding met God, daardie oomblik dat jy voor God staan en innerlik “herbore” word tot ‘n nuwe eenheid met God, met die ander en uiteraard ook met jouself. Dit bly immers ‘n geloofsgloed, ‘n ywer, wat jou totaal in beslag neem omdat dit ‘n dinamiese oorsprong en karakter het.

En dan help Miskotte ons inderdaad met sy rits van gedagtes wat Beumer noem en wat die karakter van die geloofsywer invul: die vervreemding, die verborgenheid, die gebed, die versterwing, die verrukking, die verlating, die stilte. Reeds hierdie rits vertel dat dit nie ‘n “hoera-geloof” is nie, dat dit nie ‘n jollie-patrolle triomfantelike reis aan die sy van God word nie, maar ‘n donker, stil, steil, en tog vredevolle reis agter God aan en na God toe.

Ek lees tans Jan van die Kruis en dit beïndruk my hoe sinvol hierdie insigte van Miskotte Jan van die Kruis se “Donker Nag” opvang en aanvul. Maar oor Miskotte se rits volg later meer en oor Donker Nag is ek elders hier onder aan die skryf (al gaan dit stadig....).

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive