Ons geestelike ouers
Nouwen se Dagboek (sien hieronder vir verwysing) bevat op 2 Januarie die volgende inskrywing:
Blydskap en hartseer kan nie geskei word nie.
Wanneer ons ’n ongelooflik mooie natuurtoneel met harte vol vreugde indrink, word ons blydskap dalk getemper omdat ons afwesige vriende mis, met wie ons dit sou wou deel.
Wanneer ons deur smart oorweldig word, kom ons dalk juis agter waaroor ware vriendskap gaan. Blydskap is weggesteek in hartseer en hartseer in blydskap. Albei laat ons groei. As ons hartseer tot elke prys wil vermy, smaak ons dalk nooit blydskap nie. As ons agterdogtig is oor uitbundige vreugde, sal ons diep pyn ook nooit naby ons toelaat nie.
Blydskap én hartseer is die ouers van ons geestelike groei.
'n Mens kan net groei in die geloof, as jy met albei jou voete op die weg agter Christus aanloop. Voete op die aarde. En die realiteite van hierdie lewensweg is dat dit donker en lig, vreugde en smart insluit. Die punt is nie dat jy die realiteit hiervan as 'n stuk lot moet aanvaar nie. Wat saak maak is wat jy daarmee doen. Soos die einde van 2006 nader, kyk 'n mens terug en jy sien hoeveel seerkry die pad agter Christus meebring. En jy weet ook dat daardie sweet-tye jou meer as ander tye gedwing het om vorentoe te kyk - wat doen die Een wat voor loop. En jy sien die opgewekte Gekruisigde - die Een wat nie gehuiwer het om lyding te omhels nie. Maar Hy is ook die Een wat die volmaakte vreugde van die opstanding ervaar het. En as jy dan omkyk en dink aan die lyding van die jaar wat verby is, weet jy in jou diepste hart dat dit jou nader aan God gebring het. Dit het jou goddelike groei laat beleef.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.