Tuesday, March 11, 2014

Die generaal wat sjampanje drink toe 60 000 van sy manskappe op een dag afgemaai word...


Vandag net die rye grafstene, die groen-groen gras, 'n kruis en die stil, somber skemer.
 
In Junie 1916 met die eerste wêreldoorlog, het die Engelse besluit om ‘n grootskaalse aanval op die Duitse leer te loods. Hulle wou deur ‘n massiewe aanslag vir eens en vir altyd die oorlog tot ‘n einde bring.

Hulle het mans uit hele dorpe oor die lengte en breedte van die land opgekommandeer. Net uit een dorp alleen het hulle 720 jongmans laat kom. Dit was byna al die mans.

Vir ‘n week lank het die Britte ‘n massiewe aanval geloods. ‘n Getal van 500 000 mans het op die grens van België ‘n linie gevorm en die Duitsers op en onder die grond aangeval. Hulle het byvoorbeeld met tonnels onder die Duitse loopgrawe ingegraaf totdat hulle met ‘n stetoskoop kon vasstel waar die Duitsers was. Dan het hulle op daardie plek ‘n reuse klomp bomme geplant. 

Een so ‘n bom het ontplof sodat die geluid tot in Engeland gehoor kon word. Op ‘n foto kan ‘n mens die reusewolk in die lug sien. Dit lyk byna soos die atoombomme wat in Japan ontplof het.




Op 1 Julie 1916 het hulle ‘n finale aanval op die Duitsers begin. Dit was die berugte stryd van Somme.

Die Engelse het toe gedink dat dit vinnig sou gaan.

Tot hulle skok ontdek hulle op daardie rampspoedige dag dat die Duitsers die aanvalle goed oorleef het en paraat was om terug te veg.

Die Duitsers het die Engelse van ‘n kant af afgemaai. Die verliese aan menselewens was onvoorstelbaar. 

Toe van die Engelse aanvoerders begin paniekerig word het, het hulle hulle generaals gevra wat om te doen. Die bevel het teruggekom dat hulle eenvoudig direk moes aanval.

Daardie besluit het veroorsaak dat net op 1 Julie 1916 sestigduisend manskappe verloor is: twintigduisend manne het gesterf en veertigduisend is gewond. 




Uit daardie een dorpie waaruit 720 jongmans opgekommandeer is, het 600 gesterf.

Dit was die bloedigste slag van die oorlog. Na die oorlog is daardie generaals wat die aanval so koelbloedig laat doen het, gedemoveer.

Maar niks kon die verskriklike bitterheid wegneem nie.

Dit was ‘n bitterheid omdat onskuldige jongmense se lewens hulle ontneem is. Dit word nog onthou hoe generaal Haig sjampanje in sy hoofkwartiere gedrink het terwyl sy manne modderwater in hul loopgrawe moes drink. Hy was, soos generaals in die tyd, meer bekommerd oor die nederlaag as oor die duisende mans wat as kanonvoer aan die vyand uitgelewer is. 





Die eerste wêreld-oorlog word as die bloedigste oorlog ooit beskou.

In die stryd van Somme, op 1 Julie 1916, het meer soldate hul lewe verloor as wat Amerika in die hele Viëtnam -oorlog verloor het. 



Monday, March 10, 2014

Hoe vas klou 'n mens aan al jou waarhede... oor geloof en geloofswaarhede


Hoe belangrik is al die dogma's en geloofswaarhede waaraan mense vashou?
Groot doop of kinderdoop. Die opstanding. Evolusie. Aborsie. Geboortebeperking. Spreek in tale.  Onderhouding van die sabbat. Vrouens in die amp. Die maagdelike geboorte. Proefbuis-bevrugting.
Ons glo ons het die waarheid oor die sake in pag. En ons klou daaraan.
Al hierdie "waarhede", sê mense, is vir hulle geloof belangrik. 
En tog: Sommige glo en daarom is die opstanding vir hulle letterlik waar. Hulle glo, sê ander weer, maar vir hulle is die opstanding van groot geestelike eerder as letterlike waarde.  
Een geloofsgroep vra van sy geestelikes dat hulle ongetroud moet wees en selibaat moet leef. In die volgende kerk beroep 'n gemeente nie maklik 'n ongetroude predikant nie. Hulle kan vir hierdie praktiese sake 'n klomp waarhede aanbied.
Maar albei groepe maak daarop aanspraak dat hulle "gelowig" optree.
In sommige kerke word wetties aan die oorgelewerde tradisies vasgehou. Ander kerke, weer, besef dat die kerk met die tye moet aanbeweeg en dat tradisies nie onaantasbaar is nie. Hulle kan in ander situasies die tradisies opgee en nuwe besluite neem.
Op die manier kan 'n mens aan allerhande geloofswaarhede vashou én aanpas.  Tradisies word dus by sommige versigtig geleer en bewaar. By ander loop dit nie altyd so star nie.
Maar ook in die mees konserwatiewe groep, word tradisies ook verander en selfs laat gaan.
Dan, en dit is die belangrike, is daar nog naas en veral onderliggend aan die tradisies die geloof. In die tradisies kom geloof na vore. Geloof bepaal of mense aan tradisies vashou of daarvan afskeid neem.
Op 'n diepe vlak broei en leef geloof dus. In geloof is energie, lewensdrif, vertroue. Geloof vertel hoe die mens aangeraak is, omvorm word en steeds weer op die geloofsreis dieper in die verhouding met God en ander dieper geanker word.
Hierdie geloof is dus dinamies, oop, eksperimenterend. 'n Mens weet nooit waarheen geloof jou neem nie. Dit is geloof wat jou lewe kan ondermyn, wat 'n mens in 'n rigting neem wat jy nie voorsien het nie.
Geloof kan nie netjies in sekere waarhede opgesluit word nie. Dogma's is 'n tydelike uiting van geloof. Maar dit is geloof wat dikwels nuwe weë oopbeur.
Daar is op die mees basiese vlak 'n lewenservaring wat mense in beslag neem en altyd vashou. Uit hierdie lewenservaring kom pogings om daaroor te praat, om dit in verstaan na vore te bring.
Dit is 'n bevrydende insig: geloof en geloofswaarhede is twee dinge.

Sunday, March 09, 2014

O, vir vlerke, vlerke van 'n duif...


Mendelssohn het die woorde van Psalm 55 vir sy beroemde lied, "O, vir die vlerke van 'n duif," oorgeneem.

'n Engelse vertaling van sy Duitse toonsetting is:

Hear my prayer, O God, incline Thine ear!
Thyself from my petition do not hide.
Take heed to me! Hear how in prayer I mourn to Thee,
Without Thee all is dark, I have no guide.
The enemy shouteth, The godless come fast!
Iniquity, hatred, upon me they cast!
The wicked oppress me, Ah where shall I fly?
Perplexed and bewildered, O God, hear my cry!
My heart is sorely pained, within my breast,
my soul with deathly terror is oppressed,
trembling and fearfulness upon me fall,
with horror overwhelmed, Lord, hear me call,
O for the wings, for the wings of a dove!
Far away, far away would I rove!
In the wilderness build me a nest,
and remain there for ever at rest.

Die eerste deel van die Psalm vertel van die intense verlange van die Psalmis na God se ingrype in sy tyd van nood:  "Hoor my geroep, o Here!"

Dan praat hy, in die slot van die lied, oor wat hy graag wil hê: rus, iewers in afsondering. In die wildernis sou hy, soos 'n duif, 'n nes wou hê om daar vir altyd in vrede te kan wees.

Besonder is in die lied die liriese verwerkking van die beeld van die duif wat ver wegsweef verby en weg van al die pyn, vrees en angs wat hom omring.

Dit vertel van die intensiteit van ellende en nood. Maar dit onthul ook 'n verlange na God. En op die diepste vlak vertel dit van die mens se vertroue dat God nie van mense vergeet nie. 

Dit is waarom gebed gaan. Dit is woorde wat 'n mens reg aan die een wat met mense 'n verhouding aangeknoop het en wat deur die goddelike teenwoordigheid in mense se lewens by hulle die wete wek dat die verhouding vas en blywend is. Selfs in storm-tye sal die wete van God se nabyheid nie uitgewis kan word nie. 

O vir die vlerke van 'n duif, die vlerke van 'n duif... 

Hier is 'n spesiale vertolking van die laaste gedeelte van die lied. 






 

Saturday, March 08, 2014

Wat is belangrik in spiritualiteit?

Spiritualiteit kan op baie maniere verduidelik word en 'n mens kan 'n magdom van dinge daaroor noem.

Sou 'n mens sekere dinge as belangriker kon uitsonder? Wat, met ander woorde, is die belangrikste wat 'n mens oor spiritualiteit kan sê?

Is dit dat spiritualiteit oor 'n verhouding gaan?

Dit is sekerlik belangrik om te onthou dat 'n mens met spiritualiteit praat oor 'n intieme band van God met 'n mens. Spiritualiteit is nie 'n kwessie van wat 'n mens kan besit of kry nie. Die strewe na 'n vroom lewe, na geluk, na vrede en stilte is nie wat werklik tel nie.

Is dit dat spiritualiteit eintlik om 'n proses gaan?

Dit is ook goed om te weet dat spiritualiteit oor 'n lang, uitgerekte reis gaan. Die geestelike reis is nie so eenvoudig en triomfantelik as wat baie mense daarvan maak nie.  

Om te leef in 'n verhouding met God, bring groei, en, daarmee saam, ook groeipyne. Dit vra reiniging van wat in 'n mens se lewe nie werk nie. Dit vra van 'n mens om te besef dat 'n mens alleen in 'n verhouding met God 'n sinvolle lewe ontdek. En dit beteken ook dat 'n mens gedurig dieper in daardie verhouding moet ingroei.

Op die manier kan 'n mens heelwat ander sake oor spiritualiteit ter sprake bring.

Miskien sou mense kan redeneer dat 'n geestelike mens veral iemand is wat God se bestaan erken.

En tog: In 'n mens se geestelike reis gaan dit om veel meer as net geloof in God. Om te glo dat daar 'n God is, maak nog nie van 'n mens 'n geestelike mens nie. 

Vele mense glo dat daar 'n God is, maar dit stuur, bepaal en vorm nie noodwendig hulle lewens nie. 

Iewers begin spiritualiteit daar waar mense weet dat God hulle lewens aanraak. Dit is die aanraking van God wat hulle in beweging bring en alles verander. Maar dit is die een kant. 

Wat verder belangrik is, is of 'n mens in God se wil gevind wil word. Die fokus is hier op die "wil."

Of, ánders gestel (in die woorde van Speelman): Die belangrike of 'n mens vir God ruimte in 'n mens se lewe wil toelaat. 

Spiritualiteit, word beklemtoon, gaan om self-implikasie. Dit is 'n gebeure waarby 'n mens betrokke wil wees. 

Bekering, daardie metgesel van wedergeboorte, is in die Evangelies immers die kernwoord waarmee Jesus sy lewenswerk begin. 

Dit is nie om dowe neute nie.

Friday, March 07, 2014

Wanneer die wêreld roep om liefde. Oor ekologiese spiritualiteit


Dit is iets heel anders om met iemand te praat as om oor iemand te praat.

Baie woorde sal jy nie waag om te sê as die persoon oor wie jy praat ook daar is.

'n Wysheid wat ek nooit kon kwytraak nie, en by my daarna lewenslank bly, het van 'n ouer kollega gekom: "Praat oor ander mense asof hulle by jou is."

Iets hiervan vertel vir my meer van 'n verhouding:  'n verhouding bestaan tussen twee mense. Dit is, soos Buber dit vertel, 'n ek-jy saak.

'n Verhouding het 'n sterk houvas op mense. Om met iemand anders in 'n verhouding te staan, is iets anders as om iets te besit of om oor iets te praat.

Dit is dan ook die belangrikste wat 'n mens van spiritualiteit kan sê: Spiritualiteit gaan oor 'n verhouding tussen God en mens.

Maar, skryf Speelman in 'n artikel oor spirituele praktyke, wat dan van ekologiese spiritualiteit? In ekologie gaan dit om die verhouding van die mens tot die omgewing. Die mens soek om die wêreld te bevry van die vernietigingsproses wat dit onder die mens ondergaan.

In ekologiese spiritualiteit gaan dit egter steeds om 'n verhouding. Die geestelike mens neem die omgewing waar terwyl dit in pyn is oor wat mense daaraan doen. Maar wanneer die geestelike mens soek om hierdie pyn om te keer en die omgewing te herstel, is dit omdat hulle God se stem herken. Hulle hoor God vir hulle sê, "Jy mag nie doodslaan nie."

Hierdie "persoonlike" verhouding met die wêreld van God, betrek die mens om iets daadwerkliks te doen, om intens betrokke te raak en om 'n verskil te maak. Die wêreld is dus nie 'n besitting wat 'n mens beheer nie. Die wêreld is die Ander wat roep om liefde. Ekologiese spiritualiteit is dus nie maar net nog 'n tema nie. Dit is om verander te word deur die appel van 'n Geliefde.

Thursday, March 06, 2014

Die geestelike reis neem oor...


Iemand wat oor spiritualiteit lees of dit toe-eien, doen dit nie sommer nie. Hulle het 'n goeie rede waarom hulle uitvra daaroor.

Hulle word deur 'n innerlike behoefte gedryf na méér, of na ánders. Vir hulle gaan dit om 'n verdieping in hul lewe.

In hul lewens is hulle dus onderweg. Iewers heen. Hulle bestaan is gerig op 'n punt iewers in die toekoms.

Hulle voel dit bring sin in hul lewens.

Uit hierdie verlange kom daar dan beweging. Mense begin dinge doen wat hul geestelike reis aanhelp.

Hulle soek geestelike oefeninge as deel van die proses van omvorming.

'n Mens wat veel oor spiritualiteit lees as deel van hulle geestelike reis, is met veel meer besig as met blote intellektuele kennis te verwerf. Dit is nie maar net 'n kwessie van meer inligting oor interessanthede nie.

Hulle wil in hul geestelike reis iewers ligte langs die pad raaksien wat hulle sal help om in die regte rigting te beweeg.

Mens kan die geestelike reis nie alleen in die donker aflê nie. Jy het lig nodig wat deur die lewens van ander mense aangesteek word.

Maar meer gebeur:

Wanneer 'n mens lig in jou geestelike reis raaksien, bekyk jy dit goed want jy wil seker maak hoe dit jou lei en rig. En die kennismaking betrek die mens eksistensieel.

Dit werk vir jou. Maar alles wat 'n mens doen, laat iets met jou gebeur. Dit transendeer jou eie betrokkenheid. Jy word deel van 'n stroom wat jou meesleur.

Deur gebed vas te hou, byvoorbeeld, leer 'n mens wat 'n mens se lewe verryk en laat groei. Maar deur meer te leer oor gebed, bid 'n mens ook sinvoller.

Spiritualiteit het te doen met die dieper dinge wat die lewe ryker maak. Dit kan op allerhande maniere gebeur. Gebed, afsondering, skilder, rustyd, rituele, kerkgang, bybellees en baie ander praktyke word ligpunte. En steeds weer word gebed op nuwe maniere gedoen, word 'n mens se afsonderingstye ryker, kan 'n mens op die doek ander, ongewone gedagtes met die kwas uitdruk. Wat jy doen laat jou beter word...

Deur geestelik besig te wees, word 'n mens geesteliker. Die reis, sou 'n mens dit anders stel, is avontuur, word die doel...

Wednesday, March 05, 2014

Soos 'n duif 'n nes vind...

Mendelssohn het die woorde van Psalm 55 vir sy beroemde lied, "O, vir die vlerke van 'n duif," oorgeneem.

'n Engelse vertaling van sy Duitse toonsetting is:

Hear my prayer, O God, incline Thine ear!
Thyself from my petition do not hide.
Take heed to me! Hear how in prayer I mourn to Thee,
Without Thee all is dark, I have no guide.
The enemy shouteth, The godless come fast!
Iniquity, hatred, upon me they cast!
The wicked oppress me, Ah where shall I fly?
Perplexed and bewildered, O God, hear my cry!
My heart is sorely pained, within my breast,
my soul with deathly terror is oppressed,
trembling and fearfulness upon me fall,
with horror overwhelmed, Lord, hear me call,
O for the wings, for the wings of a dove!
Far away, far away would I rove!
In the wilderness build me a nest,
and remain there for ever at rest.

Die eerste deel van die Psalm vertel van die intense verlange van die Psalmis na God se ingrype in sy tyd van nood:  "Hoor my geroep, o Here!"

Dan praat hy, in die slot van die lied, oor wat hy graag wil hê: rus, iewers in afsondering. In die wildernis sou hy, soos 'n duif, 'n nes wou hê om daar vir altyd in vrede te kan wees.

Besonder is in die lied die liriese verwerkking van die beeld van die duif wat ver wegsweef verby en weg van al die pyn, vrees en angs wat hom omring.

Dit vertel van die intensiteit van ellende en nood. Maar dit onthul ook 'n verlange na God. En op die diepste vlak vertel dit van die mens se vertroue dat God nie van mense vergeet nie. Description: https://ssl.gstatic.com/s2/oz/images/cleardot.gifDit is waarom gebed gaan. Dit is woorde wat 'n mens reg aan die een wat met mense 'n verhouding aangeknoop het en wat deur die goddelike teenwoordigheid in mense se lewens by hulle die wete wek dat die verhouding vas en blywend is. Selfs in storm-tye sal die wete van God se nabyheid nie uitgewis kan word nie. 

O vir die vlerke van 'n duif, die vlerke van 'n duif... 

Hier is 'n spesiale vertolking van die lied. 


Description: https://ssl.gstatic.com/s2/oz/images/cleardot.gif



 

Monday, March 03, 2014

'n Goeie rede om nie te kerm of te kla nie.


Ek het ook vandag 'n hele tyd na die direkte uitsending van Oscar Pistorius se hofsaak gekyk.

Dit bly vir my onvoorstelbaar dat 'n hofsaak sulke afmetings aanneem.

Dit moet al traumaties genoeg wees om in so 'n saak betrokke te wees. Vir leke kom die hele atmosfeer sleg voor: die ingewikkelde hofprotokol, die intimiderende teenwoordigheid van 'n regter, die intense interaksie van die advokate, die waagmoedige uitspreek van getuienisse, die teenwoordigheid familie en vriende wat alles moet aanhoor en dikwels nog opnuut oor die gebeure getraumatiseer word.

Dan is daar te midde van al die ervaringe nog die wete van hoeveel hier op die spel is. Iemand se lewensloop kan beslissend deur hierdie een hofsaak bepaal word.

Wat die saak van Pistorius sleg maak, is die sirkus-agtige omvang wat dit aangeneem het. Die media-dekking is massief en histeries.  Bladsye van teorieë en tonne inligting oor die beskuldgde word as sensasie aangebied. 'n Mens kan nie meer onderskei tussen waarheid en verdigsel nie. In kommentare op die sosiale media, is mense se oordele wreed, hard en kru. Skare's verdring die hof en die beskuldigde. Die wêreld-media is alomteenwoordig.

In die lig hiervan is die rol van die hof belangriker as ooit tevore. Iewers moet in hierdie siedende see van wanorde en sensasie 'n sober en nugter woord gespreek word.

Dit, vra my sin van geregtigheid, is dringend nodig.

Daarom was dit vir my 'n ervaring om vandag na die verhoor te kyk.

Ek is beïndruk deur die gang van sake. Die netjiese funksionering van die hof met die beperkte opname's, die rustige hantering deur die regter, die gerusstellende teenwoordigheid van assessore, die sterk, maar indringende vrae en opmerkings van die advokate, dit alles laat 'n mens met 'n gevoel van vertroue.

Ek besef: Vir my was die Suid-Afrikaanse regsisteem die wenner van die dag.  

En dit, besef ek weer, is in ons tyd nogal 'n gawe ding om te ervaar.

Want, in ons tyd, is mense pessimisties, negatief, depressief. En hulle kla en kerm oor alles.

In die proses kyk hulle belangrike steunpilare van ons gemeenskap mis. Hulle tel ook nie hul seëninge nie.

'n Samelewing met 'n ontwikkelde, gesonde en sterk regsisteem is op die regte koers. Dit is iets waaroor 'n mens nie dankbaar genoeg kan wees nie.

In 'n geestelike konteks is dit ook inspirerend, want 'n regstaat deel een van die groot tema's in Bybelse tekste. In hulle speel 'n sin vir geregtigheid op bladsy na bladsy 'n rol.

Die lewe is ryk wanneer mense en samelewings geregtigheid jaag en dit boonop met goed gevestigde strukture kan doen. So 'n ryk lewe is 'n seën wat 'n mens daagliks moet kan waardeer.

Wat ek vanoggend gesien het, het my weer laat besef hoe dankbaar ons kan wees.

Niemand kan genoeg positief wees oor 'n goed funksionerende regsisteem. Dit is, veral vir gelowiges, 'n gawe wat van Bo kom en wat eindeloos gewaardeer moet word.





Sunday, March 02, 2014

Die stil, goeie lewe: "Ek soek my ma so veel as moontlik op."

Daar is weer in die media vandag ‘n lang bespreking van Lance Armstrong se opkikker-skandaal.
Die nuwe berigte vertel van Armstrong se finansiële problem: hy het onlangs daaroor uit sy super-luukse huis in Texas getrek. Hy is onder druk.
Volgens die berig is Armstrong ‘n ongelukkige mens wat nog steeds probeer om homself te regverdig: Armstrong wys min tekens van berou en self-kritiek. Hy is eerder ontsteld omdat sy borge hom gelos het terwyl hulle hulself ongekend verryk het toe hy sy besondere prestasies behaal het.
Meer nog: dit lyk asof hy sy optrede regverdig met die uitspraak dat al die ander jaers opkikkers gebruik het. Almal was in dieselfde bootjie, en hy was onder hulle almal die beste een. Waarom nou op hom pik? En waarom nou sy prestasies so totaal afbreek?
Daar is baie mense wat met kommentaar op die berig gereageer het. Die kommentaar het ‘n duidelike strekking: mense het min simpatie met Armstrong. Hulle verlekker hulle in ‘n sekere sin in sy ondergang.
Die meeste van hulle dink hy is nog steeds die arrogante mens wat ander mense sleg behander het en eenvoudig oor hulle geloop het.
Hulle mis by hom tekens van berou.
En daarmee verloor hy vir hulle alle aanspraak op simpatie.
Ek besef, by die lees hiervan, dat mense die wêreld oor ‘n intuïtiewe aanvoeling vir reg en verkeerd het. Ek dink in die verband aan soortgelyke gevalle hier by ons: die twee jong ouens van Pretoria wat met groot brawade uit die tronk gekom het. En die verontwaardiging en frustrasie by lesers dat die aaklige moord waaraan hulle skuldig bevind is, blykbaar nie te swaar op hulle gewete lê nie.
Ek lees dus met belangstelling die klomp kommentaar op Armstrong se verhaal.
Onder vele lesers se opmerking, val een my op: Was daar ooit in die tyd ‘n fietsryer wat nie opkikkers geneem het nie?
Dit is ‘n boeiende vraag. Is daar onder almal een regverdige wat nie die pad van oneerlikheid geloop het nie?
‘n Oplettende leser weet die antwoord. Hy noem ‘n skakel na berigte oor twee fietsryers wat inderdaad bloot uit beginsel nie opkikkers wou neem nie.
Een van hulle is Andy Bishop. Hy het ‘n uitstekende reputasie as iemand wat sukses in die Tour de France behaal het. Hy is net een van 29 Amerikaners ooit wat die wedren suksesvol voltooi het. Hy het in die wêreld se voorste fietsryspanne meegeding.
Bishop ken Lance Armstrong goed. Trouens, in 1992 het Armstrong se span iemand gesoek om hom in toom te hou toe hy begin het om aan professionele fiestry deel te neem. Hulle het toe vir Bishop gevra of hy nie vir Armstrong onder sy vleuels sou neem nie. Hy het dit probeer doen, vir hom so bietjie gehelp, maar uiteindelik nie groot sukses behaal het om Armstrong te help nie.
Onder al die renjaers, is Bishop vertrou as iemand met integriteit wat ‘n sterk genoeg karakter gehad het.
Dit is interessant.
Mense het dus toe al na hom, ‘n jong outjie, opgesien en hom gerespekteer.
Bishop het nie veel sukses gehad nie. Hy is uitgesproke eerlik oor Armstrong se onbeskoftheid en oor sy swak persoonlikheid. Hy vertel byvoorbeeld hoe woedend Armstrong was toe ‘n Italiaanse fietsryer Armstrong met Bishop verwar het. Armstrong het die Italiaan uitgevloek en vir hom geskree dat hy nie Bishop is nie. En dit omdat die Taljaner hom nie as Armstrong herken het nie…
Bishop het die fietsry-spulletjie goed uitgekyk. Uiteindelik het hy ‘n punt bereik waar hy genoeg gehad het. Hy kon nie meer saamgaan met wat hy voor hom sien gebeur het nie. Die hele storie het hom nie meer aangestaan nie. Roem en eer was dit nie werd nie.
In 2000 het hy dus besluit dat hy gaan ophou fietsry omdat hy meer tyd met sy familie wou deurbring. Hy wou nie vir sy gesin so baie laat reis nie. Belangriker as die wen van ‘n wedstryd, was die mense vir wie hy lief was.
Die belangrikste egter was dat hy nie opkikkers wou gebruik nie en toe besef het dat hy nie met die ander kan kompeteer nie. Hy wou nie die dwelms gebruik nie omdat hy dit as oneties beskou het.
Uit ander dinge lei ‘n mens af wat se persoon hy was. Mense het besondere respek vir Bishop gehad. Iemand praat van hom as ‘n hoogs intelligente persoon. Hy het o.a. Russies geleer, maar sommige noem veral vir hom ‘n gebalanseerde, eerlike persoon.
Daar is ook ‘n lewensvreugde in sy doen en late. In berigte word vertel hoe hy na sy aftrede ten minste twee keer per week fietsry bloot net vir die genot daarvan.
Hy is ‘n afrigter, maar hy gaan uit sy pad om kinders aan te raai om nie hul sport te oordryf nie en na goeie balans te soek. Hy dink ook kinders moet aan soveel moontlik sportsoorte deelneem. Wat tel, is dat ‘n mens gesond is. En ‘n gesonde mense is iemand wat intelligent leef. Kinders moet dus op ‘n verantwoordelike manier met hul sport omgaan.
En, verder, vertel hy aan ‘n koerant dat hy iemand is wat graag sy ma so veel as moontlik gaan besoek.
Bishop is egter nie ‘n goeddoen-tantetjie met ‘n hart wat stukkend bloei vir ander nie. Trouens, hy kom in sommige uitsprake kwaai oor. Hy is baie krities teenoor atlete wat oneerlik is: hulle is, soos Armstrong, niks anders as kriminele wat hulleself wegsteek agter ‘n web van leuens. Hulle behoort opgesluit te word. Eers dan sal minder mense hulle voorbeeld volg en sal die rensport van sy slegte reputasie gesuiwer kan word.
Ek lees al hierdie dinge met verwondering.
Soms is die kwaad so diep ingegrein in ons kultuur van doen. Maar op ‘n stil, eenvoudige manier is daar mense wat nie meedoen nie. Hulle loop ‘n geestelike weg wat moeiliker en donkerder is.

Maar hoe indrukwekkend eenvoudig is hulle lewe: hulle weet wat goed is en hulle leef goed. So eenvoudig is dit.

Saturday, March 01, 2014

Die Heilige Gees het dit aan my geopenbaar....


“Ek het God se teenwoordigheid ervaar.”

“Die Heilige Gees het my gelei.”

“Ek het gevoel dit is die wil van die Here.”

Sulke uitsprake vertel iets van hoe intens mense se godsdienstige ervaringe kan wees.

Hulle voel iets heel spesiaals met hulle gebeur. Vir hulle voel dit asof die ervaring van buite tot hulle kom en iets spesiaals aan hulle lewe doen.

Sulke uitsprake kan ‘n mens nie eintlik kritiseer nie, want die mense wat dit maak is vas oortuig van hulle saak.

Maar in Spiritualiteit word beklemtoon dat ‘n mens sulke uitsprake nie ligtelik moet maak nie. Wanneer ‘n mens ervaar dat iets spesiaals gebeur het en dit aan God wil toeskryf, is dit belangrik om steeds weer ‘n sterk kritiese houding in te neem.

Skrywers in Spiritualiteit wil hê dat ‘n mens dieselfde kritiese gees wys wat ‘n mens in Bybelse tekste raaklees.

Een van die beroemdste uitsprake is juis wat Paulus in 1 Thessalonisense 5:2 skryf: “Ondersoek alle dinge” of beproef alles, of toets alles. En dan, wanneer ‘n mens ‘n versigtige oordeel uitspreek oor wat met jou gebeur, bly die goeie oor.

Vir Bybelskrywers kan ‘n mens nie maar net enige ervaring aan God toeskryf nie. Altyd weer wil hulle versigtig kyk na godsdienstige ervarings en dit noukeuring bedink.

Die tegniese begrip is “onderskeiding.”  Onderskei die geeste.

Die punt is duidelik: nie alle godsdienstige ervarings is die werk van die Heilige Gees nie.

Jesus se dissipels het hulle idee gehad oor die taak wat God vir Jesus gegee het. Die opponente van Jesus het juis vir Hom gekritiseer dat hy laster teen die Heilige Gees. Die Fariseërs en skrifgeleerdes het ook in hulle lewens ervaar dat God aan hulle sekere ervaringe gegee het. Selfs die apostels was vas oortuig dat God net onder Joods Christene aan die werk was. Hulle wou nie glo dat Paulus se ervaring van ‘n goddelike roeping tot sendingwerk na nie-Jode werklik van God af gekom het nie.

Wat hulle as Godgegewe ervarings gesien het, was toe nie so nie.

Gedurig, in die boek Handelinge, sien ‘n mens hoe die kerk worstel om God se wil te ervaar.

Die ergste van alles: hierdie mense – die Jode, die dissipels, die Christene – was almal goeie mense wat in ‘n verhouding met God gestaan het.

Maar wat hulle omtrent God ervaar het, was toe nie altyd van God afkomstig nie.

‘n Mens se verhouding met God beteken nie dat ‘n mens netjies weet wat om daarmee te doen nie.

Trouens, dit is ‘n teken van die geestelike lewe dat ‘n mens juis nie weet waarheen die verhouding met God jou lei nie.

‘n Gelowige ontdek God se wil deur nadenke, gebed, ondersoek, kritiese vrae, gesprekke met ander en vele ander maniere.

Maar steeds weer is dit ‘n proses van nadink.

Geloof is nooit oor maklike antwoorde nie.

Blog Archive