Saturday, March 08, 2014

Wat is belangrik in spiritualiteit?

Spiritualiteit kan op baie maniere verduidelik word en 'n mens kan 'n magdom van dinge daaroor noem.

Sou 'n mens sekere dinge as belangriker kon uitsonder? Wat, met ander woorde, is die belangrikste wat 'n mens oor spiritualiteit kan sê?

Is dit dat spiritualiteit oor 'n verhouding gaan?

Dit is sekerlik belangrik om te onthou dat 'n mens met spiritualiteit praat oor 'n intieme band van God met 'n mens. Spiritualiteit is nie 'n kwessie van wat 'n mens kan besit of kry nie. Die strewe na 'n vroom lewe, na geluk, na vrede en stilte is nie wat werklik tel nie.

Is dit dat spiritualiteit eintlik om 'n proses gaan?

Dit is ook goed om te weet dat spiritualiteit oor 'n lang, uitgerekte reis gaan. Die geestelike reis is nie so eenvoudig en triomfantelik as wat baie mense daarvan maak nie.  

Om te leef in 'n verhouding met God, bring groei, en, daarmee saam, ook groeipyne. Dit vra reiniging van wat in 'n mens se lewe nie werk nie. Dit vra van 'n mens om te besef dat 'n mens alleen in 'n verhouding met God 'n sinvolle lewe ontdek. En dit beteken ook dat 'n mens gedurig dieper in daardie verhouding moet ingroei.

Op die manier kan 'n mens heelwat ander sake oor spiritualiteit ter sprake bring.

Miskien sou mense kan redeneer dat 'n geestelike mens veral iemand is wat God se bestaan erken.

En tog: In 'n mens se geestelike reis gaan dit om veel meer as net geloof in God. Om te glo dat daar 'n God is, maak nog nie van 'n mens 'n geestelike mens nie. 

Vele mense glo dat daar 'n God is, maar dit stuur, bepaal en vorm nie noodwendig hulle lewens nie. 

Iewers begin spiritualiteit daar waar mense weet dat God hulle lewens aanraak. Dit is die aanraking van God wat hulle in beweging bring en alles verander. Maar dit is die een kant. 

Wat verder belangrik is, is of 'n mens in God se wil gevind wil word. Die fokus is hier op die "wil."

Of, ánders gestel (in die woorde van Speelman): Die belangrike of 'n mens vir God ruimte in 'n mens se lewe wil toelaat. 

Spiritualiteit, word beklemtoon, gaan om self-implikasie. Dit is 'n gebeure waarby 'n mens betrokke wil wees. 

Bekering, daardie metgesel van wedergeboorte, is in die Evangelies immers die kernwoord waarmee Jesus sy lewenswerk begin. 

Dit is nie om dowe neute nie.

Blog Archive