Friday, March 07, 2014

Wanneer die wêreld roep om liefde. Oor ekologiese spiritualiteit


Dit is iets heel anders om met iemand te praat as om oor iemand te praat.

Baie woorde sal jy nie waag om te sê as die persoon oor wie jy praat ook daar is.

'n Wysheid wat ek nooit kon kwytraak nie, en by my daarna lewenslank bly, het van 'n ouer kollega gekom: "Praat oor ander mense asof hulle by jou is."

Iets hiervan vertel vir my meer van 'n verhouding:  'n verhouding bestaan tussen twee mense. Dit is, soos Buber dit vertel, 'n ek-jy saak.

'n Verhouding het 'n sterk houvas op mense. Om met iemand anders in 'n verhouding te staan, is iets anders as om iets te besit of om oor iets te praat.

Dit is dan ook die belangrikste wat 'n mens van spiritualiteit kan sê: Spiritualiteit gaan oor 'n verhouding tussen God en mens.

Maar, skryf Speelman in 'n artikel oor spirituele praktyke, wat dan van ekologiese spiritualiteit? In ekologie gaan dit om die verhouding van die mens tot die omgewing. Die mens soek om die wêreld te bevry van die vernietigingsproses wat dit onder die mens ondergaan.

In ekologiese spiritualiteit gaan dit egter steeds om 'n verhouding. Die geestelike mens neem die omgewing waar terwyl dit in pyn is oor wat mense daaraan doen. Maar wanneer die geestelike mens soek om hierdie pyn om te keer en die omgewing te herstel, is dit omdat hulle God se stem herken. Hulle hoor God vir hulle sê, "Jy mag nie doodslaan nie."

Hierdie "persoonlike" verhouding met die wêreld van God, betrek die mens om iets daadwerkliks te doen, om intens betrokke te raak en om 'n verskil te maak. Die wêreld is dus nie 'n besitting wat 'n mens beheer nie. Die wêreld is die Ander wat roep om liefde. Ekologiese spiritualiteit is dus nie maar net nog 'n tema nie. Dit is om verander te word deur die appel van 'n Geliefde.

Blog Archive