Ek volg die Pistorius-saak
omdat dit soveel insig in die land se regsisteem gee. Maar dit gee ook insig in
die menslike kant van saak.
Daar is die regter wie se
elke woord 'n bepaalde indruk deurgee. Skynbaar terughoudend luister sy
aandagtig na die menings van die aanklaer en verdediging. As hulle saamstem oor
'n saak, laat sy haar lei daardeur. Of sy weeg die aanklaer se versoek, vra hom
uit en besluit dan dat hy nie sy sin gaan kry vir 'n verdaging nie. Sy is
bedagsaam, bedank die getuies en is ook nie suinig om selfs dankie te sê as sy
van haar bode 'n stuk per hand ontvang nie.
Daar is 'n tolk wat so bietjie sukkelend haar vertalings vlot deurgee.
Daar is die een getuie na die ander wat feitlik almal Afrikaans-sprekendes is.
Ek luister ook graag na die
verdediging se indringende vrae. Elke keer nadat 'n staatsgetuie met groot
selfvertroue getuig, bring die verdediging vrae ter sprake wat 'n totaal nuwe kykie op die
situasie gee. Dit laat my elke keer besef hoe selfs die allernaakste feit op meer as een
manier gelees kan word.
'n Mens kan nou dink die slim en geleerde getuie bied met sy getuienis 'n onomstootlike
feit aan. Maar net die volgende oomblik stoot die verdediging daardie getuienis
as 'n subjektiewe interpretasie om.
Dit is egter die menslike
tragedie wat 'n mens ook besig hou. Die alleen-figuur van Pistorius en sy
getormenteerde oomblikke is tragies om te aanskou.
Dan is daar sy suster, selfs langs hom in die bank om hom by te staan, maar
ook ander wat ly onder alles wat gebeur. Sy familie, besef 'n mens, leef dag na
dag onder die intense druk van die saak.
Op die televisie-beelde is
berigte van mense wat vertel hoe die gebeure hulle beïnvloed. 'n Vrou vlieg uit
Denemarke om die saak by te woon. Sy vertel hoe goed Pistorius vir haar en haar
kind was. Sy wil hom dus ondersteun. Parapleë in Engeland vertel hoe die hofsaak
hulle lewens beïnvloed. Oor die planeet
het die saak gevolge op mense se lewens. Om nie te praat van Pistorius se eie lewe nie.
By tye, veral wanneer 'n mens
die slagoffer se ma in die hof sien, raak 'n mens veral bewus van die egte
tragedie: die jong meisie wat haar lewe so onnodig en wreed verloor het. En,
daarby, die onvoorstelbare pyn van haar ouers.
Maar vir my is daar iewers in
die hof 'n merkwaardige, stil teenwoordigheid wat my nou al dae lank besig hou. Die ANC-vroueliga in hul ooglopende
groen en swart drag, was van die dag af
'n spatsel van menslikheid te midde van al die sensasie en oproer.
Gister vertel die media dat
Mevrou Steenkamp hartseer geraak het toe sy beelde op die skerm gesien het en
dat een van die liga-vroue haar met 'n omhelsing getroos het.
Die vroue-liga teiken nie net
hierdie verhoor nie. 'n Mens sien hulle by vele hofsake. Maar hulle
teenwoordigheid daar word nie raakgesien nie, omdat sulke sake nie aandag van
die media trek nie.
Maar alles is nie so suiwer
nie. Ek lees die volgende kritiese kommentaar oor die liga.
En ek wonder: kan die kritiek
ooit ongedaan maak aan daardie stuk menslikheid wat 'n mens raaksien wanneer 'n
onbekende vrou haar hand om die skouer van 'n vrou sit wie se dogter op so 'n
wrede manier van haar weggeneem is en wat in die kil konteks van die hof deur
beelde van haar dogter se bloed opnuut getraumatiseer word?