Ross Douhat skryf
in gister se NYT oor ‘n bekende verskynsel en ‘n gewilde onderwerp ook in die
kerk.
Daar word dikwels
verwys na die modern tyd as ‘n era van individualisme. Soms word dit negatief
ingeklee as ‘n slegte verskynsel wat selfsugtigheid bevorder en mense wegneem
van ‘n gesonde verhouding met hul gemeenskap.
Die gevolge, sê
Douhat, van die opkoms van individualisme is dat godsdiens sal verdwyn, die
huwelik raak onbelangrik, ideologieë word verwerp en patriotisme skuif by die
agterdeur uit. Vreemdelinge word met agterdog bejeën.
Dit is die tyd,
beweer mense, dat dwelms, selfies en Facebook alle aandag kry en aan die orde
van die dag is.
Mense vertrou
mekaar minder, hulle hou van hulle onafhanklikheid en hulle wil nie eintlik met
‘n politieke party assosieer nie. Hulle hou ook nie van vaste denke nie. Selfs
die beskerming van die omgewing is nie vir hulle belangrik nie. Hulle sien dit
as net nog ‘n beweging wat deur aktiviste georganiseer word.
Dit is opvallend,
voeg hy by, dat mense egter nie minder godsdienstig is nie – al behoort hulle
nie meer tot ‘n kerk nie.
Dit is ‘n tyd wat
nie meer in patriotisme, familie en allerlei verbintenisse aan groepe belang
stel nie.
Party mense sien
dit as ‘n goeie beweging. Hulle sien dit as ‘n bevryding van elke vorm van
verdrukking en beheer.
Ander dink minder
positief dat dit lei tot sosiale afsondering, fragmentering en depressie.
Ek kry ‘n slegte
gevoel toe ek die res van sy artikel lees. Hy verwys na ‘n boek van Robert
Nisbet waarin hy (in 1953 al) opgemerk het dat individualisme die oorsaak was
van sulke totalitêre verskynsels soos fascisme in Duitsland en kommunisme.
Daar waar mense
nie meer in hulle plaaslike omgewing saam met ander leef nie, word hulle
ingetrek in massa-bewegings, persoonlikheidskultusse en nasionalistiese drome.
Dit is dan wanneer individualisme omgekeer word in konformisme, onderwerping en
beheer – presies die teenoorgestelde wat dit soek. In Europese lande met ‘n
sterk neiging tot individualisme het die kommunisme en die fascisme met sy
rassistiese karakter immers ontstaan.
Neem byvoorbeeld
die aanlyn-verskynsel van ons tyd. Dit het ‘n houvas op mense. Die internet
maak mense vry, word geredeneer. Dit gee ook aan hulle nuwe geleenthede om
inligting te bekom, om met mense ver buite hul eie gemeenskap te skakel en om
vry te raak van uitgediende vooroordele en menings.
Maar as gevolg van
die internet het ‘n mens nie meer privaatheid nie. Onbekendes kan jou lewe
binnedring en dit beheer. ‘n Enkele fanatikus kan ‘n massiewe beweging aan die
gang sit of ver en wyd wantroue saai. ‘n Regering kan elke beweging monitor en
selfs beheer. Die diktators van die verlede sou net kon droom van die
moontlikheid tot magsvergrype wat die aanlyn-verskynsel bied.
Die bydrae van
Douhat gee ‘n genuanseerde beeld op die aanlyn-verskynsel van ons tyd. Ons
omhels die verskynsel in die verste dele van ons land en wêreld. Mense raak
opgewerk, soos nou in Turkye, as hul reg tot toegang tot die internet aangetas
of ingekort word.
Mens kan jou jou
lewe nie voorstel sonder die internet nie.
Maar hoe kan ‘n
mens die belangrike verskynsel sinvol binne ‘n kerklike konteks bedink?
Ek sou graag ‘n
debat hieroor wou sien.